Les 2 – Die Tsunami
Donker stormwolke. Klein miertjies wat rondskarrel. Wriemel om ʼn skuiling soek om hulle te beskerm teen die golftrein wat als uit sy pad wil vee. ʼn Nagmerrie oor ‘n groot golf water wat oor miertjies spoel, het my ʼn paar keer in Januarie en Februarie 2020 geteister. Die miertjies het verander in honger en siek mense wat rondgemaal word in ʼn stroom water. Ek het nie besef dat ʼn onsigbare tsunami die wêreld sou tref nie. Daar was berigte van ‘n virus in Wuhan, China, maar min van ons het gedink dat dit ooit by ons sou uitkom. SARS en MERS was dan gestop.
Kort voor die tsunami (Januarie 2020) was ek dolbesig by die werk met kliente wat testamente wou opstel of laat verander. Die kinders was aan die begin van ‘n nuwe skooljaar. Party dae het ek tot vyf testamente per dag hanteer en in die middae tyd gemaak vir my vryskutwerk, Kaylah se skoolboeke oor te trek en winkels toe te gaan as dit nodig was. Ons het almal uitgesien na naweke. Vrydae het ons Spur of Ocean Basket toe gegaan. Saterdae het ons gaan gym, ontbyt gaan eet by Mug & Bean of Wimpy, winkelsentrums besoek, plante of klippies gaan koop by die kwekery en vir ons ‘n lekker braaivleisie gaan uitkies by een van die supermarkte. Saterdagaande het ons saam met ons ouer kinders gebraai en gekuier. Sondag was kerkdag, dalk ‘n uitstappie na die Botaniese Tuine met ons uitgebreide familie of iewers ‘n laat-ontbyt gaan eet. Kaylah en Tristan het albei in Januarie verjaar en is dit behoorlik gevier. Ons het nie twee keer daaraan gedink dat ons hierdie dinge as vanselfsprekend beskou het nie.
Einde Maart is ‘n grendelstaat as gevolg van ʼn onsigbare tsunami afgekondig. Alhoewel ons effe platsak was as gevolg van die begin van die jaar uitgawes, het ons soos miere rondgeskarrel om darem ‘n paar goedjies te koop sodat ons darem iets in ons ark het. Ons het nie regtig geweet wat om te verwag nie.
Ons hoogtepunt van die week is nou nie meer ‘n uiteet of uitstappie na die kwekery of gym nie, maar wanneer die supermark vir ons kruideniers by ons ark kom aflewer, die afleweraar gepantser met ‘n masker en handsaniteerder. Ons spuit dan Jikwater oor die kruideniers en ook ons hande. Die kinders kan beswaarlik wag om in die chips en koeldrank in te vaar. Nog ‘n hoogtepunt vir die kinders (en pa) is wanneer ek koekies en brood bak, iets wat ek jare terug laas tyd voor gekry het. Ek het ook vir ons ‘n Ocean Basket-tipe ete gemaak, kompleet met mossels in suurlemoenknoffelsous, kalamari, vis en prons. Ek dans en sing elke aand saam met Kaylah, loop ‘n paar keer in my labirint vir oefening en doen bedags huis-en tuinwerk en joga. Kaylah se onderwysers stuur hul skoolwerk per whatsapp. Ons beleef ‘n effense penarie, want ons haardroër het gebreek, maar ons mag nie ‘n nuwe een koop nie, want dit val nie onder noodsaaklike goedere nie. Maar alles is genoeg vir elke dag en ons is dankbaar en vol vrede. Ons het geleer dat ons nie al die dinge daar buite nodig het om gelukkig te wees nie.
Noudat die tsunami op ons is, weet ons dat niks ooit weer dieselfde sal wees nie.
So ʼn vloedgolf verander ʼn landskap, spoel alles weg, ontwortel selfs die forste, sterkste boom. Wanneer die waters terugtrek, vergiftig die soutwater stadig maar seker die bome wat nog staan. Die verswakte bome is teikens vir insekte en siektes en dit gaan hul lank neem om weer te herstel. Sommige gaan herstel en ander nie.
Wat gebeur in die natuur na ʼn tsunami of aardbewing verwoesting gesaai het? Die lewe gaan aan. Plante groei weer, voëls maak weer neste en broei. Na ʼn paar jaar kan jy nie meer sien dat daar iets verskrikliks gebeur het nie.
ʼn Mens se lewe lê in al sy glorie voor jou soos ʼn groot onbekende oseaan en nie een van ons weet wat dit vir ons gaan inhou nie. Daar gaan tye wees wat die water gaan in- en uittrek. Dan gaan daar laagwaters, hoogwaters, springgetye, tye van storms en selfs tsoenami’s wees en dan weer tye van rustigheid en kalmte.”
Les 2: Wanneer dit vir jou voel asof jy net nie meer kan nie, sien die groter prentjie. Onthou dat hierdie stadium van jou lewe, soos alles in die lewe, net tydelik is en ook sal verbygaan. Ons sal versigtig uit ons arke uitbeweeg en ʼn boog van gekleurde lig sien. Ons sal wyser wees. En met meer dankbaarheid kyk na dinge soos ʼn kinderpartytjie, werk, kinders wat skool en universiteit toe gaan en ʼn familiekuier of-uiteet, wat jy voorheen as vanselfsprekend aanvaar het.












