Volsirkel – Die storie van die wit stoeltjie

Hoe ouer ek word, hoe meer dink ek terug aan my kinderdae.  Ek was ʼn eenjarige blondekopdogtertjie, toe my ma vir my ʼn klein wit draadstoeltjie gekoop het.  Ons het destyds in Welkom gebly en my ma het ʼn betowerende feetjietuin gehad.  Ek het die meeste van die tyd daar gespeel met my denkbeeldige maatjies en net ek kon die helder figure sien. Vandag weet ek dat dit my beskermengele wat saam met my in die tuin was.

Daar was leeubekkies, stokrose, affodille, dahlias, viooltjies, pronkertjies, sonneblomme en madeliefies. Die blomme was ‘n soos ʼn dansende reënboog, ʼn vermenging van soetheid, lig, kleur, sonskyn en die reuk van die nat aarde.  Elke blomblaar was ʼn kunswerk in die oë van ʼn klein dogtertjie.  My oumas het ook ʼn groot rol in my lewe gespeel.  My ouma Annie het met hoenders en kalkoene geboer. Sy het die fout gemaak om my stootkarretjie voor die hoenderhok te parkeer toe ek klein was en ek glo vir ure na die hoenders staar.  My ma het later gesê dit was waarom ek my eie hoenders wou hê toe ek groter was.  My ander ouma, Lena, het weer gebak en gebrou, die heerlikste vrugte ingelê en tuin gemaak.

Die seisoene het verbygegaan, ek het groter geword en die stoeltjie was in die treklorrie die dag toe ons Bloemfontein getrek het.  Toe ek later trou en uit my ouerhuis trek, het die stoeltjie saamgekom na my eie huis toe.  Ek het verskillende seisoene beleef, dae van son, tye van reën en ys.

My kinders het almal op die stoeltjie gesit en dit het selfs eenkeer in die hoenderhok beland, waar dit vir ʼn paar jaar gestaan het.  My anderwêreldse blondekop engelkind La was baie lief vir die stoeltjie en het saam met ons mak hoender die Evil Chicken daarop gesit.  Ons groter kinders het later uit die huis getrek en my nes het begin leegraak.  My ma, my oumas en La was ook nie meer saam met ons in hierdie aardse dimensie nie en is saam in die hemeltuin, mooier as enige tuin op hierdie aarde.

Die engele is steeds met my.  Ons huis is deesdae weer vol kinderlaggies en bestrooi met kleuterspeelgoed in die huis en die tuin.  Twee blondekop feetjies het op Moedersdag-naweek vanjaar op die wit draadstoeltjie kom sit.  Hulle is Cloë Jade en Shaneyke, ons kleindogters.  Ek voel  bekommerd oor die wêreld waarin hulle gaan grootword, want dit verskil baie van die tyd waarin ek grootgeword het.  Hulle word groot in ʼn tyd van onrus, Covid-19, maskers, saniteerders, tegnologie en mammas wat moet werk om die pot aan die kook te hou.  Die lewe het vinnig en vreemd geword.  Maar ons maak tyd om te lag en te speel.

Om ʼn ouma te word en te kyk hoe die twee klein feetjies op die klein wit stoeltjie sit, het my laat nadink oor die ewige sirkel van die lewe en hoe belangrik dit vir ons is om in die oomblik te leef en die beste van elke oomblik te maak.  Die lewe is ʼn sirkel van balans.  Hoe ouer ek word, hoe meer sien ek die wonderwerke in my tuin. Om die kleure en klank in te drink, is vir my ʼn beter ondervinding as om na enige film of televisieprogram te kyk.  Ek kan my tuin en blomme nooit te veel sien nie en ek kan nooit moeg raak vir die reuk van nat grond, blare en blomme nie.

Die ewige sirkel van die lewe vind op hierdie oomblik plaas.  Die lewe herhaal homself elke dag en dit is vol humor en tragedie, terselfdertyd onbeskryflik mooi en onbeskryflik wreed.  ʼn Sirkel van balans.  Op jou lewensreis loop jy in woude en riviere, opdraandes, afdraande, steil, reguit en kronkelpaaie.  Daar is tyd en plek vir lag en huil.

As jy hierdie ewige lewenskring kan verstaan, word dit vir jou makliker om na die dieper waarheid van die lewe te beweeg. Dat al wat werklik belangrik liefde en Lig is.