Lig en liefde vir almal wat ʼn geliefde weens Covid aan die dood afgestaan het

Ons leef in ʼn donker tyd, ʼn tyd van wanhoop en worsteling met die verwoestende gevolge van die Covid-pandemie.  ʼn Verlies aan werksgeleenthede en inkomste, siekte en die afstaan van geliefdes aan die dood.  Vir baie is dit ʼn landskap van geestelike duisternis, moedeloosheid en vrees.  Hierdie is ʼn tyd waarin daar lig nodig is.

Ek het my ma Margie in 2016 aan ʼn baie wrede kanker (tongkanker), aan die dood afgestaan en my dogtertjie Larissa in 2017 in ʼn motorongeluk.  Ek skryf oor hierdie ondervindings, my buiteliggaamlike ervaring en my reis uit die donker na die lig in my boek La ʼn reis na die lig, uitgegee deur Protea Boekhuis (2021).

Nadat jy deur die trauma van die dood van ʼn geliefde gegaan het, sal jy nooit weer dieselfde wees nie. Daar is ʼn wond en later ʼn litteken. Jy sal verskillende emosies ervaar soos ontkenning, woede, onderhandeling, depressie, ʼn soeke na antwoorde en as jy gelukkig is, uiteindelike aanvaarding. Hierdie aanvaardingsproses is sommiges nooit beskore nie en hulle bly vasgehaak in die woede, depressie of een van die ander fases.

Verskillende gelowe en denominasies het uiteenlopende menings oor die dood en die lewe. En ek wil nie my persoonlike mening hieroor aan enigiemand afdwing nie. Dit is elke persoon se keuse om te besluit wat hy of sy wil glo en ek glo mense moet mekaar se sienings respekteer, al stem hulle nie met mekaar saam nie. Baie gelowige mense is ook deur soveel trauma dat hulle in hul geloof begin twyfel. Ander vind weer troos in hul geloof.

My ondervindings, insluitende my buite-liggaamlike ondervinding, waaroor ek in my boek skryf, het my egter een ding laat besef: daar is soveel meer as wat mense dink en kan sien. Ons menslike breine is gemaak vir logika, om dinge te analiseer, in boksies en laaie te sit en ons kan sekere dinge eenvoudig net nie begryp nie. Ek weet vandag dat ons sintuie en menslike vermoëns nie alles om ons waarneem nie. Ek weet dat daar is meer as wat mens besef, insluitende ander dimensies, al kan ons dit nie sien nie.  Mense is geestelike wesens in ʼn tydelike menslike liggaam. Albert Einstein het geskryf: “Ons is almal een.” Volgens Einstein is ʼn menslike wese deel van die geheel wat deur ons die heelal genoem word, ‘n deel wat in tyd en ruimte beperk word. Hy beweer dat hy homself, sy gedagtes en gevoel as iets wat apart van die res is, ervaar; ‘n soort optiese dwaling of delusie van sy bewussyn. Hierdie dwaling of delusie is ‘n soort gevangenis vir ons, wat ons beperk tot ons persoonlike begeertes en tot liefde vir ‘n paar persone wat die naaste aan ons is. Ons kan onsself uit hierdie gevangenis bevry deur ons kring van meegevoel uit te brei na alle lewende wesens en die hele natuur in sy skoonheid aan te gryp.

Wanneer dit vir jou voel asof jy net nie meer kan nie, onthou dat hierdie stadium van jou lewe, soos alles in die lewe, net tydelik is en ook sal verbygaan.

Die aardse lewe is soos ʼn wedloop. Sommige mense se wedloop is ʼn marathon en ander se wedloop is ʼn kort afstand. Wanneer die wedloop klaar is, is die aardse lewe verby, maak nie saak hoe kort of hoe lank die resies was nie. Die dood, of beter gestel transformasie, is ‘n natuurlike oorgang, wat alle mense sal ervaar. Eers dan kom jy by jou ware bestemming, noem dit die wenpaal, hemel of hiernamaals, nes jy wil.

Dit is belangrik om jouself toe te laat om deur ʼn rouproses te gaan en te treur. Om kreatief te treur, kan baie help om jou gevoelens uit te druk en jou deur die rouproses te dra.  ʼn Herinneringtuin of collage, tekening of skildery, om ʼn kersie vir jou geliefde op te steek, die skryf van gedigte, liedjies of prosa om die ingewikkelde emosies en gedagtes wat die rou reis vergesel uit te druk; die skep van ‘n organisasie of om betrokke te raak by ʼn liefdadigheidsorganisasie, om ‘n nuwe studiekursus of beroep te volg wat jou lewe in ‘n sinvoller rigting plaas of om ‘n nuwe stokperdjie of handwerk aan te leer. Hierdie kan vir jou soos ʼn voetpaadjie wees om jou van die een oomblik na die ander te laat beweeg.  Dit kan selfs die grondslag word vir ‘n nuwe lewenspad.

Hoe gaan ʼn mens weer aan na die dood van ʼn geliefde? Hier kan ek die voorbeeld noem van ʼn stroompie waarin boomtakke geval en die vloei van die stroompie blokkeer het. Die water vloei rondom die takke, maar dit sal ʼn manier vind om te vloei. Net so moet ons ʼn manier vind om aan te gaan. Daar bly altyd ʼn klein liggie of kooltjie oor in die dooie vuur. Soos ʼn vetplant wat sy laaste reserwes gebruik in ʼn knellende droogte en uithou totdat dit weer reën, is daar altyd hoop. Dit is wat ʼn mens weer laat opstaan soos die spreekwoordelike feniks wat uit die as verrys. Daar word iets hergebore. Stukkie vir stukkie bou jy weer op.

“Die wond is die plek waar die lig jou binnekom”, is ‘n aanhaling deur die bekende Persiese digter, Rumi. As jy lank genoeg leef, sal daar storms op jou pad kom. Die storm daar buite is nie die grootste gevaar nie, maar die storm binne jou wat jou vrede steel. As jy dit kan bemeester om die storm binne jou stil te maak, sal jy vrede hê onder alle omstandighede. En die enigste manier om dit reg te kry is deur die Lig. Die wete dat die Lig groter is as enige storm, gee ʼn mens kalmte en vrede.

Baie liefde en lig – Ansja

La ʼn reis na die Lig is beskikbaar by alle groot boekwinkels en aanlyn by Protea Boekhuis.

https://proteabooks.com/index.php/la-n-reis-na-die-lig.html

https://www.loot.co.za/product/ansja-ferreira-la/tcdg-7133-ga50