Voelgoedwenke

  • Leef in die hier en nou

Om meer bewus te raak van die huidige oomblik kan ons help om die wêreld rondom ons meer te geniet en onsself beter te verstaan. Jon Kabat-Zinn beskryf in sy boek Catastrophe Living, aandagtigheid (mindfulness) as die vermoë om in die oomblik, doelbewus, bewus te wees van ons eksterne en interne ervaring, sonder enige oordeel. So eenvoudig as wat dit mag klink, verander aandagtigheid die wyse waarop ons gebeure en ervarings ervaar en hanteer. Aandagtigheid help ons om teenwoordig in ons lewens te wees en gee ons ‘n mate van beheer oor ons reaksies en herhalende gedagtepatrone.  Dit help ons om ‘n “breek” te vat,  ‘n helderder prentjie van ‘n situasie te kry en op ‘n meer “vaardige” wyse te reageer.

  • Vergewe ander

“Om seergemaak en teleurgesteld te voel, kan lei tot ‘n enorme fisiese las vir ‘n persoon,” het Karen Swartz, direkteur van die Mood Disorders Adult Consultation Clinic by die Johns Hopkins-hospitaal, in ‘n verklaring gesê.  Deur vas te hou aan wrokke en ander (of jouself) nie te vergewe nie, is jy besig om jouself stelselmatig te vergiftig en siek te maak.  Jy moenie verbaas wees as jy depressief, magteloos, eensaam en baie ongelukkig gaan voel nie.  Dit kan baie moeilik wees om te vergewe, maar om dit te doen, gaan jou bevry en die pad oopmaak vir jou geluk vorentoe.  Dit is ‘n besluit wat jy moet neem en ‘n proses wat jy moet deurgaan.  Skryf ‘n brief vir die persoon wat jou benadeel het en skeur dit dan op.  Jy kan ook met iemand gaan praat sodat jy net jou gevoelens kan deel.

“Toe ek by die die deur uitstap na die hek wat na my vryheid sou lei, het ek geweet dat as ek nie my bitterheid en haat agterlaat nie, ek nog steeds in die tronk sal wees” “Nelson Mandela

  • Leer jouself beter ken

Dr. Meg Jay, ‘n sielkundige en skrywer van die boek The Defining Decade beveel aan dat ‘n mens belê in “identiteitskapitaal,” iets wat waarde toevoeg aan wie jy is en wie jy wil wees. Sy beveel aan dat jy jouself die toestemming gee om ondersoek in te stel en regtig te leer ken wie jy is. Vind uit waarvan jy hou en nie hou nie. Dit sal jou help om jou standaarde en grense te stel, wat hopelik in lyn is met jou waardes, sodat jy die lewe kan skep wat jy wil hê. Langs die pad kan jy vind dat dinge verander. Dit is natuurlik. As jy dit doen, herken dit en wees bewus van jou daaglikse handelinge soos wat jy aanpas by die persoon wat jy besig is om te word.

  • Vind jou lewensmissie

Die skrywer Maya Angelou het gesê:  “My missie in die lewe is nie net om te oorleef nie, maar om te floreer en dit te doen met passie, deernis, ‘n bietjie humor en ‘n bietjie styl.  Weet jy wat jou lewensmissie is?  Wat maak jou gelukkig?  Wat is jou sterk en swak punte?  Wat is die doelwitte wat jy graag wil bereik en hoe gaan jy daarby uitkom?  Wat is jou talente?  Waar is jy huidiglik? Waar wil jy graag wees? Wat moet jy doen om die gaping te oorbrug?   Dit kan soms moeilik wees om jou lewensmissie te vind.   ‘n Lewensafrigter kan jou behulpsaam wees.  Daar is ook goeie boeke oor die onderwerp wat jy kan lees.

  • Waag dit buite jou gemaksone

Mense is dikwels bang om uit hul gemaksone te beweeg.  Hulle voel veilig om dinge te doen wat aan hul bekend is.  Doen iets wat jy nog nooit tevore gedoen het nie , maar nog altyd graag wou probeer.  Jy is nooit te oud om iets nuuts te probeer nie, dit is een van die grootste mites wat bestaan.

  • Stel daardie een ding reg wat jou al lankal pla en jy net nooit by uitkom nie – ‘n verlore knoop, ʼn deurmekaar lessenaar of kas wat jy moet regpak of om onnodige lêers van jou rekenaar af te haal.
  • Raak stil

In die moderne lewe waarin ons leef, raak dit al hoe moeiliker om stilte te vind.  Die Mayo kliniek beskryf meditasie as ‘n soort gees-liggaamsmedisyne (mind body medicine) wat reeds vir duisende jare beoefen word.  Neem elke dag ‘n bietjie tyd (so min as tien minute) om stil te wees sonder om gesteur te word.  Ontspan en verwyder jouself so ʼn bietjie uit die spoed en kompleksiteit van die moderne lewe.  Aktiwiteite soos refleksie, joga of stap in die natuur kan hierdie proses aanhelp.  Kies die manier wat die beste by jou pas.

  • Maak moeite om tyd in die natuur deur te bring

Die bioloog Edward O. Wilson het geskryf dat ons instinktief aangetrek word om te verbind met ander lewende, groeiende dinge; ons wil deel van die web van die lewe voel.

“Ons kan iets voel gebeur wanneer ons in ʼn woud loop, op ʼn mosbedekte krans (bluff) sit en bowenal wanneer ek as tuinier ‘n aktiewe rol speel in die ondersteuning van lewe en groei,” het hy gesê.

  • Luister na musiek

Charles Darwin het eenkeer gesê: “As ek my lewe weer moes lewe, sou ek ‘n reël gemaak het om minstens een keer per week gedigte te lees en na musiek te luister. Navorsing bewys dat wanneer jy na musiek luister, jou brein dopamien, ‘n “voelgoed” neurotransmitter, vrystel. Deur te luister na musiek wat jy geniet, verminder die vlakke van die streshormoon kortisol in jou liggaam, wat die gevolge van chroniese stres teenwerk.

  • Raak kreatief

Een van die baanbrekers op die gebied van kuns en genesing, Dr. Mike Samuels, skryf dat enige vorm van kuns ʼn persoon se fisiologiese en emosionele toestande verander.

“Die kreatiewe proses laat ’n mens diep ontspan, moedig hoop en ʼn positiewe uitkyk aan en verskaf stimulasie en inspirasie. Dit beïnvloed weer ʼn mens se immuunsisteem en stimuleer hormone en neurotransmitters. Daarom voel pasiënte dikwels minder pyn en in ʼn beter bui nadat hulle kuns geskep het. Dit is ook ʼn effektiewe hulpmiddel vir streshantering.”

  • Laat emosies los deur te dans

Volgens danssielkundige Dr Peter Lovatt van die Universiteit van Hertfordshire, stimuleer dans ons fisies en emosioneel.

“Meer endorfiene word afgeskei tydens dans as tydens ander vorme van oefening. Dans is ook katarties – ‘n loslaat van emosies. “Dans laat jou goed voel omdat dit jou so lewendig laat voel”.
Dr Lovatt sê: “Almal wat gekies het om te dans, het agterna verbeterde probleemoplossingsvaardighede vertoon. Dieselfde studie het ook gevind dat die dansers se gemoedstoestand verbeter het. ‘Die moderne leefstyl laat ons dikwels van ons liggame ontkoppel voel omdat ons soveel tyd spandeer om aan tegnologie.”

  • Skryf kan terapeuties wees

Sommige mense vind dit makliker om hul emosies en gevoelens neer te skryf as om daaroor te praat. Die sielkundige James W Pennebaker se kliniese navorsing het nuwe lig op die kragtige verbintenis tussen die liggaam en die verstand gewerp. Hy skryf in die boek Opening Up: The Healing Power of Expressing Emotions oor sy bevindinge. Hy glo deur “ons gedagtes en gevoelens terug te hou of te onderdruk, kan tot groot inspanning lei” wat uiteindelik jou risiko vir siektes verhoog. Deur ons diepste gedagtes en gevoelens te trotseer, kan merkwaardige kort- en langtermynvoordele vir gesondheid inhou, insluitende verbeterde immuniteit en lewensfunksionering.

  • Herlaai jou batterye: Doen die dinge wat jou gelukkig maak.

ʼn Mens laai gereeld jou selfoon en jou rekenaar se battery, maar hoeveel van ons doen moeite om “onsself” te herlaai, veral na tye van fisiese of geestelike stres en uitputting.  Wanneer was die laaste keer wat jy in die natuur gaan stap het, ’n museum besoek het, ʼn konsert bygewoon het, ʼn gedig gelees het of stilgestaan het om na ʼn blom in die tuin te kyk? Maak jy tyd om jou liggaam en gees te laat rus en herstel, na tye van harde werk en geestelike uitputting?

  • Skaal af: Vereenvoudig jou leefwêreld

Oorweldig die kompleksiteit van die moderne lewe jou? Dan is dit tyd om jou leefwêreld te vereenvoudig en meer tyd te hê vir die dinge wat werklik saak maak. Lewe ʼn eenvoudiger lewe.  Stel grense vir tegnologie, skaal jou eie en jou gesin se aktiwiteite af tot net dit wat werklik belangrik is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *