Herfs in die Oos-Vrystaat

Die lug is koud, maar die bome is aan die brand.  Skarlakenrooi , goudgeel en oranje vlamme lek-lek aan die blouselblou lug.

Oos-Vrystaat in die herfs is die plek waarheen jy kan gaan wanneer jy jou siel wil voed.  Wanneer jy moeg is, kan jy gaan neerlê in die groen weivelde wat besig is om oor te gaan na geel. Jy kan die grootheid van die skepping aanskou.  Jy kan jouself verloor in die herfslandskap, stilte, die wind, berge, gras, diere en besef jy hoe klein jy as mens is en hoe buite verband ons dikwels dinge ruk.  Jy vra die vraag:  Wat wil die berge en velde vir jou sê?  Watter lesse kan die plek vir jou leer?

Op die pad tussen Ficksburg en Fouriesburg staan daar plate kosmosse in skakerings van wit, pers en pienk, blou veldblomme en goudgeel sonneblomme wat vrolik in die wind rondwaai.  Tog begin van hulle hul koppe hang en saadjies strooi voordat hulle in ʼn winterslaap gaan verval. Hul saadjies kom weer volgende jaar op. Dis ʼn eindelose sirkel.

Fouriesburg

Ons bly in ʼn popmooi huisie op ʼn werkende koeiplaas.  Die lug hier is vars, byna soet. Daar is ʼn roostuin met bloedrooi rose en ʼn groot groen grasperk.  Ons kyk uit op ʼn mielieveld, kosmosse en die Maluti’s.  In Sotho beteken die woord maloti waarvan die naam Maluti stam, eenvoudig berge of “in die berge”. Dit voel asof ons in ʼn ander land, soos Skotland is.

Ons gaan Meiringskloof toe.  Ons was vier jaar gelede laas daar. Ons loop eers die Spruitroete. Die plantegroei is ruig. Skaduwees en lig dans oor ons gesigte. Daar val blare en takkies in ons hare. Ons hoor die waterstroompie kabbel. Volgende is Holkrans. In die Anglo Boereoorlog het vlugteling vroue en kinders in hierdie grot weggekruip om die konsentrasiekampe vry te spring.  Die Basoeto mense het ook hier gebly en die area is vol stories, legendes, fabels en oorlewerings.   Ek en Sedi klim tot bo, dit is ʼn stewige klim, maar ons druk deur.  Daar is ʼn oeroue energie in die grot, dit is vol groen gras en voel klam binne.  Ek span al my sintuie in.  ʼn Mens ruik die wateragtige mosreuk, voel hoe die blare onder jou stapskoene knars, hoor die stilte en sien die lig deur die toegerankde woud. Ek kan my hart in my bors hoor klop.

Ons gaan eet ontbyt by ʼn plaaswerf-restaurant.  Daar is perde, hoenders, hase, katte, honde en ʼn speelplek vir die kinders.  Ek koop ou enamelbakke waarin ek rotsrosies wil plant.

Die perd

Oppad tussen Fouriesburg en Clarens sien ons glasstukke en dele van ʼn motor in die pad lê.  Daar lê ook ʼn dooie bruin perd wat deur die motor getref is.  Ons voel baie sleg en jammer vir die perd en die mense wat in die ongeluk was.

Golden Gate Nasionale Park  

Golden Gate het sy naam gekry omdat die son ‘n sagte skaduwee op die sandsteen gooi en dit in ‘n gloeiende goudkleur verander.  Die sandsteen rotse en grotte was eens skuilings vir San mense.   Die gras staan hoog en waai soos lang blonde hare in die wind rond. Ons besoek die Aasvoëlrestaurant by Golden Gate.  Karkasse word gereeld uitgesit vir die aasvoëls en mens kan deur ʼn glasafskorting kyk hoe hulle dit eet.  Daar is ook lammergeiers en “bald” ibisse. Die perd wat deur die kar getref was, lê ook daar.  Iemand moes hom soontoe gebring het vir die aasvoëls.  Ons voel weer jammer vir die perd.   Ons sien ook swartwildebeeste, elande, blesbokke, oribi’s, springbokke en  sebras

Clarens

Hierdie juweel van die Vrystaat is op sy kleurvolste in die herfs.  Populierbome pronk in lemoenkleur, roesrooi en ʼn rustieke bruin.  Ons gaan loop in die winkeltjies rond en kyk na kristalle, houtwerk en kunswerke, gaan proe aan Craft Bier, eet roosterkoek en drink koffie.  Ons koop gekleurde klippies, Craft Bier, wierook en karamel sjokolade.  Ons koop vir Kaylah ʼn verpakte kaas-en vleisete wat sy later kan eet. Die mense wat daar woon is ook kleurryk en interessant.  Daar is talle kunstenaars wat hulself hier tuisgemaak het.

Maart of April is die beste tyd van die jaar om te kom kyk hoe Moeder Natuur vir ons wys ,hoe ons herinneringe aan die herfs se gloeiende lappieskombers, ons warm sal hou in die koue winter.