Vuurtoring (kortverhaal deur Ansja Ferreira)

ʼn Verhaal van ʼn eensame vuurtoringwagter en ʼn meermin

ʼn Sirkusbaas sal goed betaal vir ʼn lewendige meermin, veral een wat ʼn viool kan speel.  Maar… dis nie so maklik om een te vang nie.  En…jy moet nooit in haar oë kyk nie.

Wanneer die reën oor die golwe dans en matrose verlei word deur die viool se klank wat betowerend soos ʼn swaan in die water gly, raak dit maar alleen vir die een wat ʼn ligstraal oor die donker see moet werp.

Is die legendes van Atlantis en stories van heimwee, geheime en ʼn verlore beskawing waar? wonder Bennie West, die vuurtoringwagter met die houtbeen en woeste baard.  Daar is niemand wat hierdie vraag vir hom kan antwoord nie.  Hy hoor net die wind wat troosteloos oor die verraderlike rotse loei.

Dis nie maklik om een te vang nie, dink hy.  Hulle weet wat die prys daarvoor sal wees.  Hulle is al lank in die wêreld, uitgeslape en op baie maniere kragtig.  Hulle het swakhede, om nuuskierig te wees, is een daarvan.  Daarom sal jy hulle in die kuswaters kry.  Om ons dop te hou.  Hul gehoor is ook baie skerp.
Meerminne is vreemde wesens, uit ʼn ander wêreld.  Nie mens of dier nie.  Jy sal hulle saam met die dolfyne in die maanlig sien swem met hul sterte, wat soos perlemoen onder die sterrehemel glinster.

Bennie blaas in die groot skulp.  Die lae, diep geluid trek in die see in.  Die water beweeg rond en borrel. Hy blaas weer.  Haar nuuskierigheid geprikkel.  Blaas weer.  Die seegras en skuim maak plek vir hare en ʼn gesig onwêrelds en onvergeetlik.

Kry jou net, mik en slinger. As jy vinnig is, sal jy haar daarin verstrengel. Ek glo dit nie, ek het haar. Jy moenie in haar oë kyk nie, sy sal jou probeer hipnotiseer en jy sal in die water beland. Sy wil sien of jy kan swem of nie. Of jy die vlymskerp rotse en die veradderlike branders kan trotseer. Jou na die donker dieptes aftrek, net as jy dink jy is amper uit die water uit.

Sy houtbeen klik-klak soos wat hy haar met die spiraaltrap opdra na die kamer met die walvisolielamp en haar daar vasbind met kettings en ʼn slot. In die lamplig sien hy lang hare soos seegrastentakels wat nóg mens nóg vis bedek en ʼn gesig terselfdertyd, verruklik, skrikwekkend en bedroef.

Wanneer die wind so loei en seevaarders se oë die lig soek in die hoop om ʼn dobbelspel te wen, kort ek meer as een bottel rooiwyn, dink Bennie.

Dalk, net dalk sal dit my gewete sus, want dis nie die eerste keer nie, die ander een het in ʼn glasgraf vol formalien beland. Vir ʼn meermin sal die sirkusbaas ekstra betaal, hy soek ʼn lewendige een, om uit te stal, om geld mee te maak. Een wat ʼn viool kan speel sal skares lok.

Jou seegroen oë vang my vas en smeek tot in my siel om terug te keer na die see, na die blougroen dieptes en jou geheime koninkryk, waar jy vry is.  Ek haal die kettings en slot af.  Vergewe my, ek kan dit nie doen nie en ek is jammer oor jou suster.  Ek vryf oor my baard en weet ek sal jou terugvat na die see, viool en al. Ek gee nie om dat jou liedjies niksvermoedende matrose in ʼn watergraf laat beland nie en hul skepe op die rotse laat loop nie.  Elke volmaan sal jy vir my sing en jou viool speel.  Wanneer ek rooiwyn drink op ʼn stormnag soos vanaand, sal dit my lig in die donker wees en in perfekte harmonie speel met die akkoorde van die wind wat huil, die branders wat op die verraderlike rotse breek en die skuim wat in die wind rondwaai.