Die see in die wolke

Die son gooi ‘n rooskwarts gloed oor die oggendhemel en sonstrale gryp na die branders.  Dit word warmer en dit lyk asof daar stoom bo die water dryf. Ontelbare druppeltjies styg bo die see.  Al hoër en hoër.

Een van my stokperdjies is om wolke dop te hou en foto’s daarvan te neem.  Wolke skep prentjies en stories in die lug en neem my in my gedagtes na die plekke waarna ek verlang.  Soms lyk die wolke vir my soos skuimende golwe, ander kere soos ʼn smeulende vuur. Wanneer ek na die wolke kyk, voel ek asof ek ontvlug na die middel van die oseaan, weg van die wêreld se gewoel.

Ek bly vêr van die see, maar die wolke is my see-uitsig.  Die wolke en golwe is een, albei bestaan uit water.  Die wolke waarna ek nou kyk, bestaan uit ontelbare klein waterdruppels en soms ook yskristalle wat eers hul tuiste in die oseaan, riviere en mere gehad het. Net soos die see, is die wolke ewigveranderend.  Dit laat my besef dat alles in sirkels beweeg en dat watermolekules, nes alle energie kan verander, maar nie kan “sterf” nie.

“Energie kan nie geskep of vernietig word nie, dit kan slegs van een vorm na ‘n ander verander word”, was Albert Einstein se woorde.

Wolke rol en dryf, verander, beweeg, verskyn en verdwyn.  Hulle wissel van donsig, wollerig, veeragtig, eteries, mistig, somber, donker, broeiend, stormagtig, dreigend en onheilspellend. Die kleur van die wolke wat ons sien is afhangende van hoe die lig daarop gereflekteer word.  Dit maak nie vir my saak of die wolke geel tot dieprooi is met sonsopkoms of sonsondergang, of melkwit met silwer skynsels later die oggend, of selfs wit met ʼn effense blou tint of grys en donker wanneer maanlig daarop skyn.

Ek weet wolke weerspieël Moeder Natuur se bui. Soms is daar ligte, donsige cumulus wolke wat soos klontjies watte lyk.  Ander kere is daar groot, laagliggende stratuswolke met sigsakkelyne en horisontale lae, wat soms ‘n teken van mis, wanneer die wolke die aarde raak, is.  Dun, stringerige cirruswolke word gewoonlik op hoër hoogtes gesien. Hierdie wolke is ‘n teken van mooi weer. Groot, dramatiese nimbuswolke dui op reën of  sneeu.

 

My kop in die wolke hou my voete op die grond. Ek bly bewus van die skoonheid van ons wêreld, die lug daarbo en die voortdurend bewegende en drywende vorms wat die lig filter en die kleure verskuif.

Die wolke is vir my terapeuties en goed vir my siel.  Baiekeer as ek op moedverlore se vlakte voel of ʼn groot besluit moet neem, wend ek my tot die wolke.   Natuurlik gaan ek nie die wêreld verander deur op my rug te lê en te kyk hoe die wolke in die lug ronddryf nie. Ek besef egter dat dit ʼn vorm van volbewustheid (mindfulness) is, om op die huidige oomblik te fokus . Deur volbewus te wees, kan dinge in perspektief plaas.  Die verlede is verby en die toekoms bestaan nog nie, dit is die huidige oomblik wat tel.  Wolke laat my ook besef dat die heelal baie groot is en hoe klein ons en ons probleme eintlik is. Ek het al verskeie kere die mooiste engelagtige wolkformasies gesien, wat vir my op daardie spesifieke oomblik van groot betekenis was en vir my gevoel het asof ʼn engel oor my waak, my vertroos en sê:  “Alles sal ok wees”.