Die tweede golf

Sonstrale skitter soos klein wit diamantjies op die grysblou see. Ramsgate, Desember 2020.  Daar is baie mense op die strand, maar dit is hierdie jaar anders.   ʼn Demper word op die vakansieseisoen geplaas deur iets onsigbaars en bedreigend.  ʼn Mens kan dit voel en sien.  Die meeste vakansiegangers is baie versigtig en behou sosiale afstand op die strand.  Ek besluit om te gaan swem.  Die branders is vandag soos wilde perde met dreunende wit skuimhoewe.  Die eerste golf het my uitgeput.  Nou is die tweede op my.  My hart is in my keel.  Ek tuimel oor ʼn reusagtige waterval afval en word in ʼn  ontploffing van skuimende water en krag vasgevang.  Die golf het my ingesluk, daar is drukking in my ore, ek verloor my sin vir rigting en word teen die bodem vasgeslaan.  My neus brand van die soutwater en my kop voel asof dit wil bars.

Hoe kom ek hier uit?

Ek is gelukkig fiks en oefen gereeld.  Ek weet ek moet ontspan en in pas met die beweging van die golwe bly.  My asemhaling moet aangepas en beheer word om deur die onvoorspelbare golwe te swem en ek moet my momentum hou, ongeag wat.  Ek weet ek moet onder die groter golwe induik.  Nie water sluk of inasem nie.  Ek moet my oog op ʼn landmerk hou, sodat ek weet waar die strand is waarheen ek na moet uitswem.

Een van die grootste gevare om in die see te swem is, is die risiko om deur twee of meer opeenvolgende golwe onder die water gehou te word.

Die wêreld word ook nou deur die tweede golf van die Covid-19 pandemie rondgemaal. Die eerste golf het vir die meeste van ons reeds tot geweldige geestelike, finansiële en fisiese uitputting, selfs verswakking gelei.  Nes die tweede brander wat my in die see getref het, het dit onverwags en baie hard geslaan. Baie van ons voel asof ons onder die water gehou word deur die golwe en nie kan asem kry nie.

Kan ʼn mens dalk lesse leer by die manier wat ʼn mens uit die see swem?

Die sleutel is om kalm en slap te bly as jy onder die water is om energie en suurstof in die liggaamsweefsels te bespaar.

Om aanpasbaar, buigbaar en in pas met die beweging van die golwe te bly.

Hou jou oog op die strand en lewensreddervlaggies – hou jou oog op die feit dat die pandemie sal uitwoed en verbygaan, ons weet net nie wanneer dit sal wees nie.

Wees fisies voorbereid, pas jouself mooi op, bly fiks en gesond.

Wees geestelik voorbereid vir die monstergolf wat jou vir ʼn ruk onder die water kan hou.  Deur kalm en ontspanne te wees, gaan jou help om jou energie te preserveer.  Paniek sal jou energie, lewenskrag en veggees vinniger uitput.

Getye gaan altyd eb en vloei en lewensbranders sal jou deursettingsvermoë toets.

Dit is wanneer dit goed is om te leer hoe om die branders te ry en om te weet wanneer om jou asem op te hou.  Die branders sál kalmer raak en jy sal kan uitswem na die strand.