Lesse in die grendeltyd: My oorlogstuin

Daar is iets in die lug. Alhoewel dit koud en reënerig is, voel die energie buite anders as aan die begin van die grendeltydperk.  Daar is klanke en kleure orals om my.  Die wolke is buitengewoon mooi. Hier en daar kruip ʼn groen blaartjie by ʼn boom uit.  Tortelduiwe sit in ʼn ry op die takke. Daar is ʼn witblou eier in my kwakkereende se nes.  Die grenadella-plant by my voordeur het ʼn perfekte perswit blom.  My aalwyne wat uit Ethiopië kom (Aloe megalacantha), pronk met goudgeel blomme. Ek staan met drie kraakvars grasgroen ertjiepeule, styfgeprop vol klipharde ertjie-balletjies en vyf jong aartappels, nog vol grond, in my hande. In die begin van die grendeltydperk het ek ʼn blou plastiekswembadjie onder die netafdak naby my voordeur vol grond gegooi en aartappels, boontjies, spinasie, pietersielie, ertjies, uie, daarin en ook in potte geplant.  Dit is noú  die tyd om die vrugte van my arbeid te pluk.

Die geskiedenis wys dat mense nog altyd in moeilike tye tuin gemaak het en hul troos daar gaan vind het. Tuinmaak bied ‘n kreatiewe uitlaatklep met tasbare resultate.  Jy leer ook terselfdertyd lesse uit die natuur.  Die pandemietuine wat vandag in agterplase geplant word, kan vergelyk met die Oorlogstuine of ook genoem Oorwinningstuine (Victory Gardens) van die Tweede Wêreldoorlog. Die versorging van ‘n tuin verlig ook spanning en angs, wat tydens ongekende tye soos hierdie ‘n hoogtepunt bereik. Om die daaglikse groei van die plante dop te hou  en te kyk hoe die son na die reën op die blare skyn, gee ʼn mens hoop vir die toekoms.   Oorlogstuine/oorwinningstuine was groente-, vrugte- en kruietuine wat in privaatwonings en openbare parke in die Verenigde State, die Verenigde Koninkryk, Kanada, Australië en Duitsland gemaak was.  Die doel van hierdie tuine was nie net om rantsoene aan te vul nie, maar ook om die moraal van mense te verhoog.

Alhoewel ons nou teen ʼn onsigbare vyand oorlog voer, lyk dinge al hoe meer normaal as aan die begin van die grendeltydperk.  Die kinders is skool toe, ek werk weer voltyds van die kantoor af, regulasies is verslap en dit lyk asof die piek van die viruspandemie bereik is.  Ek het egter self ʼn Covid-skrik weg. Ek het vir twee weke geloop met die seerste keel wat ek al in my lewe gehad het, verkouesimptome, hoes en ʼn lyfseer wat vir niks skrik nie.  Ek het kouekoors afgewissel met warm koors gehad.  Ek het gesukkel om te slaap, want my neus was geblok.  Ek bel toe my dokter vir ʼn voorskrif, want ek vermoed dit is sinus.  Sy vra ek moet my eers laat toets, want ek het Covid-simptome.  Sy epos vir my ʼn verwysing en Eugene vat my na ʼn deurry-toetssentrum.  ʼn Vrou aangetrek soos ʼn ruimtemannetjie bring vir my vorms wat ek moet invul en kom druk ʼn pypie in my keel af.  Jy sal jou resultate vinnig kry.  Ek kry ʼn SMS vroeg die volgende oggend:   Not detected (Negative).  Dankie tog!  Tog bly ʼn stemmetjie in my agterkop my teister:  “Een uit elke 5 mense toets vals negatief, daar is ʼn 20% kans dat jy tog het of gehad het.”  “Jy lees te veel,” dink ek en gaan loop in my oorlogsstuin om die stemmetjie te  besweer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *