Kuns help heel

Ek deel graag ʼn artikel wat ek in 2018 vir Vrouekeur geskryf het.

Dit is nie altyd maklik om oor ’n traumatiese ondervinding te praat nie. Hoe kan jy aan opgehoopte en onderdrukte emosies uiting gee?

Trauma ‘vries’ die vermoë om te speel en te simboliseer of kreatief en abstrak te dink,” sê Samantha Davis, ’n internasionaal opgeleide kunspsigoterapeut. “Daarom is kunsterapie baie nuttig omdat dit ’n persoon help om deur die trauma en die angs te werk en weer te kan speel. Deur te speel, bedoel ek om kreatief, spontaan, teenwoordig, in die oomblik en lewend te wees,” sê sy.

“Kunsterapie behels die gebruik van verskillende kunsmateriaal waardeur ’n kliënt in die teenwoordigheid van ’n gekwalifiseerde kunsterapeut gedagtes en gevoelens kan uitdruk en verken,” sê Samantha.

“Die kuns terapeut bied ’n veilige ruimte waar daar deur kwessies gewerk kan word. Vir baie mense is dit moeilik om woorde te vind om hulself in uit te druk. Dis vir sommiges makliker om hulleself deur kuns uit te druk.

Die terapeut en kliënt werk dan saam om die kliënt se kreatiewe reisproses en die beeldverwerkingsproses binne die sessie te verstaan.  Kunsterapie kan ’n baie kragtige proses wees wat onderdrukte gevoelens na die oppervlak laat kom en dan erken word,” sê sy.

Volgens Samantha kan kunsterapie vir ’n verskeidenheid kliënte nuttig wees en is vir volwassenes en kinders geskik.

Kliënte waarmee Samantha al gewerk het, sluit in mense met angs, depressie, emosionele en gedragsprobleme, outisme, trauma, stres, uitbranding, posttraumatiese stresversteuring, wat probleme met verslawing ondervind, of ly aan aandaggebrekhiperaktiwiteitsindroom, indigo, leerprobleme en ontwikkelingsvertraging.

Volgens Samantha is kunsterapie so veelsydig dat sy selfs kreatiewe werkswinkels vir maatskappye aanbied.

Klank wat gesond maak

“Trauma veroorsaak dat ’n persoon kontak met sy of haar ware self verloor en dikwels ’n ander persona aanneem om sodoende die effek van die trauma te probeer onderdruk, sê dr Wilna Dirkse van Schalkwyk, ’n klankterapeut en stigter van die South African Centre for Sound Therapy in Hartbeespoort, Noordwes.

“Die onderdrukking van emosies kan tot verskeie gesondheidsprobleme, fisiek en geestelik, lei,” sê sy. By die sentrum help Wilna mense om deur die verskillende lae van negatiewe selfbeskerming wat ’n persoon ná trauma opgebou het, te werk. “Trauma kan fisieke veranderinge in die brein tot gevolg hê,” sê sy. “Navorsing het reeds verskeie klankterapietegnieke aangedui as belangrike hulpmiddels om die negatiewe breinpaadjies wat deur trauma veroorsaak word, te heel en nuwe positiewe bane daar te stel. Dit word bewerkstellig deur toksiese emosies in die limbiese (emosionele) brein te heel terwyl neurale weë wat met gevoelens van omgee en vertroosting verband hou, geaktiveer word.”

In klankterapie kombineer Wilna klankfrekwensies met bevrydende asemhalingstegnieke, gefokusde beweging en begeleide klankmeditasie, om sodoende deur ’n kliënt se vreesverwante emosies te werk.

Emosies word ook deur ’n kombinasie van spesifieke strekbewegings en vokale klanke ontlok. Wilna sê ’n persoon se stem dra die stempel van sy of haar lewenservarings.

Helende vibrasie geskep deur ’n kliënt se eie stem, wikkel diep gesetelde emosies in verskillende dele van sy of haar liggaam los. Klankterapie help kliënte om hul self te ontdek, sonder om daaroor te praat. Wilna beveel aan dat mense klankmeditasie aanleer om deur die lae van trauma­emosies te werk.

Trauma verander mens

“’n Traumatiese ervaring verander die manier waarop mense oor hulself, ander en die wêreld dink,” sê Derika de Villiers, ’n kliniese sielkundige in Pretoria. “Trauma het ’n groot impak op ’n individu se lewensgehalte juis omdat ’n traumatiese ervaring jou denkpatrone verander.”

Volgens Derika is daar verskillende maniere om die opgehoopte of onderdrukte emosies van trauma te bestuur sodat prosessering en herstel kan plaasvind. “As mense die impak en nagevolge van hul traumatiese ervaring probeer ignoreer, kan dit op ander maniere uitkom, soos deur posttraumatiese stresversteuring, angs- of depressiewe versteurings of ’n alkohol- of dwelmafhanklikheid.”

Derika noem dat daar in psigoterapie verskillende tegnieke gebruik word om trauma te verwerk, afhangende van hoe mense hulself uitdruk.

“Party mense voel gemaklik om te huil oor hul verlies en ten opsigte van hoe hulle nou oor die lewe dink. Om te huil, is baie goed vir jou, omdat dit die opgehoopte en onderdrukte emosies na vore bring, eksternaliseer en só prosesseer. Ander mense voel ongemaklik om te huil en verkies om eerder die trauma anders te verwerk.

“Kreatiewe maniere soos skilder, dans en pottebakkery bied ook die geleentheid om die trauma te verwerk deur dit te projekteer en te eksternaliseer. Navorsing dui ook aan dat joga en meditasie doeltreffende tegnieke is om trauma te verwerk. Die meeste mense wil net van die trauma vergeet en hoop die impak en nagevolge verdwyn. Ongelukkig is dit nie hoe trauma werk nie,” sê Derika.

“Trauma moet op die een of ander manier geprosesseer word om verwerk te word en te herstel. In plaas daarvan om te hoop dit verdwyn, maak eerder met die begeleiding van ’n kenner van ’n paar kreatiewe tegnieke gebruik, sodat jy weer die vreugde van die lewe kan ervaar en waardeer.”

Derika gee ’n paar kreatiewe maniere om jou te help om trauma te prosesseer. Onthou, dit is baie belangrik dat jy saam met die tegnieke ’n kenner sal raadpleeg.

○ Skryf jou storie van die gebeurtenis neer en maak veranderinge aan die narratief wat jou bemagtig en nie soos ’n slagoffer laat voel nie.

○ Musiek het ’n positiewe impak op die angssimptome van trauma. Luister na musiek wat jou rustig laat voel of skryf ’n liedjie oor die trauma en vind betekenis uit die gebeurtenis.

○ Joga help om die impak van trauma op jou liggaam te herstel, asook om jou weer tuis in jou liggaam te laat voel.

○ As jy hou van skilder, pottebakkery, dans, kuns of enige manier om jouself uit te druk, gebruik jou kreatiwiteit as ’n emosionele toevlug deur jou trauma op iets buite jou te projekteer. ’n Teoretiese oorsig in 2017 oor die gebruik van musiekterapie in post-traumatiese stresversteuring (PTSV) dui daarop dat musiekterapie nuttig kan wees om simptome te verminder en funksionering onder individue met traumablootstelling en PTSV te verbeter. Verdere studie op hierdie gebied is egter nodig.

Navorsing deur Maria Sorensen by die St Catherine-universiteit in die VSA toon aan dat PTSV verskeie gedeeltes van die brein beïnvloed. Daar is ook bewyse dat musiek neurogenese en neuroplastisiteit kan stimuleer. Musiek kan gebruik word as ’n instrument om hierdie plekke te stimuleer om sodoende die brein terug na gesonde funksionering te herstel.

“’n Traumatiese gebeurtenis, soos ’n motorongeluk, om uit ’n lewensgevaarlike situasie te ontsnap of die verlies van ’n kind, word in ons liggaam geregistreer ten opsigte van die oorlewingsreflekse van veg, vlug en vries,” skryf Suzanne Phillips, ’n sielkundige, op www.psychcentral.com.

“Ons geheue van die traumatiese gebeurtenis word nie soos ’n storie of chronologiese verloop gestoor nie, eerder as fragmente van hoog gelaaide visuele beelde, liggaamlike gevoelens, tasbare sensasies of sensoriese reaktiwiteit van herinneringe aan die gebeurtenis.

“Traumakenners moedig diegene wat trauma beleef het aan om vanuit die liggaam na buite te werk in die herstel en genesing – om aandag te skenk aan die sensasies, sintuie en beelde wat die impak van trauma dra,” skryf Suzanne. Sommige mense laat ná ’n trauma of verlies van ’n geliefde tatoes aanbring. “By ’n tatoe word die liggaam gebruik om ’n traumatiese belewenis te herleef,” skryf Suzanne.

“Dit begin by die vel, die liggaam se ‘versperring’ van beskerming en gebruik dit as ’n ‘skilderdoek’ om getuienis te gee, uit te druk, los te maak en die diepgesete (met betrekking tot die diep innerlike gevoelens eerder as die intellek) gevoel van trauma te ontsluit.

Die sielkundige James W Pennebaker se kliniese navorsing het nuwe lig op die kragtige verbintenis tussen die liggaam en die verstand werp.

Hy skryf in die boek Opening Up: The Healing Power of Expressing Emotions oor sy bevindinge. Hy glo deur “ons gedagtes en gevoelens terug te hou of te onderdruk, kan tot groot inspanning lei” wat uiteindelik jou risiko vir siektes verhoog. Deur ons diepste gedagtes en gevoelens te trotseer, kan merkwaardige kort- en langtermynvoordele vir gesondheid inhou, insluitende verbeterde immuniteit en lewensfunksionering.

James suggereer dat wanneer mense oor groot omwentelinge in hul lewe skryf, hulle begin om dit te organiseer en verstaan, wat hulle uiteindelik toelaat om “verby die trauma te beweeg”.

Tuinmaak kan ook vir PTSV-lyers baie terapeuties wees. ’n Navorsingsdokument deur Howard Z Lorber dokumenteer die gebruik van tuinterapie. Waar kliniese psigoterapie gebruik word om diegene met PTSV te behandel, kan tuinmaak ’n terapeutiese uitlaatklep vir kognitiewe gedragsverwerking in ’n ontspanne en veilige omgewing bied.

’n Studie aan die McGill-universiteit in Kanada toon dat om na aangename musiek te luister, die produksie van voordelige breinchemikalieë bevorder, spesifiek die “goeie” hormoon dopamien.

As gevolg hiervan kan musiek help om jou na ’n gevoel van vreugde en geluk te lei. Die Amerikaanse departement van veteranesake het ’n studie gedoen waarin veterane PTSV-verligting ervaar het deur kitaar te leer speel.

Studies toon dat musiek daartoe kan lei dat die brein chemikalieë vrystel om aan die liggaam en verstand afleiding van die pyn te bied. Musiek bereik die brein se ouditiewe korteks, wat kommunikasie tussen die korteks en die breindele wat emosie, geheue en liggaamskontrole beheer, veroorsaak.

Kontak Derika by 072 400 7303 of besoek www.derikapsychologist.com Vir meer inligting oor kunsterapie, besoek www.arttherapy.co.za of stuur ’n e-pos na info@arttherapy.co.za. Vir meer inligting oor klankterapie, kontak Wilna by 071 682 2548 of besoek www.soundtherapy.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *