Lesse uit grendeltyd: Vlak 1 – Om dinge vanuit ʼn ander perspektief te sien

Die wêreldliteratuur en Hollywood-rolprente wemel van fiktiewe verhale oor aanvalle deur “vreemdelinge” uit ander wêrelde.  In die meeste van hierdie verhale en rolprente word die mensdom deur uitwissing in die gesig gestaar.  Mense uit uiteenlopende agtergronde en kulture sit hul verskille opsy om die gemeenskaplike vyand te beveg.  Hulle verenig dan onder die vaandel om die mensdom en die planeet wat hul tuiste is, te red. Die wêreld is tans besig om ʼn gemeenskaplike vyand te beveg, maar pleks van om saam te staan, kom stryd en konflik steeds orals voor.

My dogter het ʼn obsessie met “ruimtewesens”.  Sy noem hulle sommer “aliens”.   Dit het my nogal aan die dink gesit.  Gestel twee ruimtewesens sit in hulle ruimteskip en hou die aarde op ʼn afstand dop.  Wat sou hulle sien en dink? Sien hulle dalk die grens tussen die aarde en die ruimte met ‘n dun laag atmosfeer, die wolke, watermassas, lande, berge, vlaktes.   Wanneer hulle hul blik op die oppervlak van hierdie bewoonbare planeet rig, sien hulle die onbeskryflike skoonheid van oerwoude, oseane en woestyne.  Diere, plante, insekte en kleure en allerlei vorms van lewe.  Hulle merk dalk op dat die dominante spesie op hierdie planeet die mens is. Daar is variasies in velkleur en ander fisiese eienskappe, maar almal is dieselfde spesie.

Hulle mag dalk dink:  “Hierdie spesie het ‘n mooi, bewoonbare planeet.” Hulle kan dalk vrae vra soos:  “Waarom is daar so baie geweld en onenigheid by hierdie dominante spesie?  Wat het hierdie spesie met die natuurlike hulpbronne, dierelewe en plantegroei op die aarde gedoen?  Daar is ʼn virus wat die dominante spesie aanval.  Waarom het dit gebeur?  Is die planeet dalk siek?”

Wanneer jy die wêreld en die mensdom uit hierdie oogpunt beskou, word die verskille tussen ons minder belangrik.  Ons het verskillende velkleure, verskillende kulture, verskillende geloofsoortuigings en nasionaliteite, maar in wese is ons almal dieselfde. Ons vorm almal deel van een groot energie. Ons is tot so baie in staat.  Ons kan instrumente maak en kommunikeer deur middel van komplekse tale. Ons kan musiek, kuns en wonderlike tegnologieë skep. Ons het ʼn behoefte aan geborgenheid en liefde.

Deur van vêr af na onsself te laat kyk, kan ons help om die unieke skoonheid en waarde van menswees te waardeer en ons probleme en verskille vanuit ʼn ander perspektief te sien.