Deel 2 – Die onstuitbare golftrein wat by my voordeur instroom

Die derde golf – ek toets positief vir Covid-19 Deel 2

Gaan dit help om paniekerig en pessimisties te wees? wonder ek na my Covid-diagnose op 8 Junie 2021.  Ons moet nou maar die beste maak van hierdie situasie, die brander ry, dink ek.

My man, Kaylah en Sedi word ook getoets.   Hulle toets aldrie negatief, maar moet nog saam met my in isolasie bly tot die 18de Junie.

My Covid simptome dagboek

Saterdag 5 Junie, 3 dae voor my Covid diagnose, ondervind ek rooi jeukerige oë allergiesimptome en ʼn jeukerige branderige vel.  Daar is fyn knoppies op my skouers en rug, byna soos ʼn hitte-uitslag.  Ek wonder waarvoor ek nou weer allergies is.

Sondag 6 Junie ondervind ek dieselfde simptome as die vorige dag, maar in ʼn erger mate. Ek krap myself stukkend.

Maandag 7 Junie het ek erge sinus simptome, my neus bloei en ek het ʼn helse kopseer.  Ek kry deur die nag kouekoors en spierkrampe in my skouers, nek en voete.  Ek skop al die komberse van die bed af in my slaap.

Dinsdag 8 Junie staan ek op met lyfseer. My vel brand, ek neem my koors en dit is 37.7.  Ek bel die dokter en vra om getoets te word.  Sy stuur ʼn verwysing na my per epos. Ons ry na die Lancet deurrysentrum, vul ʼn klomp vorms in en ʼn vriendelike man in beskermende toerusting doen die toets op my.  Vyf ure later kom die toets se uitslae.  Ek is positief.

Woensdag 9 Junie staan ek op met kouekoors, kopseer,  ek is moeg, naar en het maagpyn.  Ek kan nie eet nie.  As ek iets probeer drink, voel ek naar. Ek begin hoes en bel my dokter. Sy skryf medikasie voor.  Ek sorg dat ek buite kom en vyftien minute in die son sit om vitamiene D op te neem.  Ek gaan aan met ligte joga en strekoefeninge en stoom my twee keer per dag.  Ek rus soveel ek kan, maar bly nie net in die bed nie, ek sorg dat ek ook gereeld beweeg.

Donderdag 10 Junie is ek dodelik moeg en slaap die meeste van die dag.  Ek het lyfseer, ʼn geblokte, bloederige neus, ʼn ligte hoes, is kortasem, naar en het maagpyn.  Ek kan nie eet nie, want ek is te naar, maar probeer vloeistowwe soos Energade drink.

Vrydag 11 Junie is ek koorsig en moeg met erge kopseer, sinusdrukking, lyfseer, ligte hoes, kortasem. Ek kan absoluut niks ruik of proe nie.

Saterdag 12 Junie is my slegste dag tot dusver – my koors styg tot 38.7, ek sweet en kan nie lank wakker bly nie. Ek kry koue rillings en kry koud, maar my lyf is vuurwarm. Ek drink wildealstee en draai my in ʼn kombers toe. Ek sweet en voel beter wanneer die hoë koors breek. Ek voel hoe my immuunsisteem teen die virus baklei. Ek is moedeloos, want al is ek honger proe alles aaklig.  Ek forseer myself om Energade te drink.

Kos proe letterlik na niks. Wanneer ek ʼn stukkie roosterbrood met kaas probeer eet, voel dit of ek spons eet, dit het geen smaak nie.  Ek kan nie die sout van die kaas of Bovril proe nie.  Snaaks genoeg, ek kan wel soet proe. ʼn Koppie sop proe soos seep en grond gemeng.  Ek kan nie my geliefde koffie proe nie, net die soet van die Canderel in die koffie, dit proe soos warm soet water.  Ek spuit myself in met B. Co en B12, waarvoor ek ʼn voorskrif het. Dalk help dit, ek sal nou enigiets probeer.

Sondag 13 Junie daal my koors na 37.7 en ek het baie meer energie as die vorige dag. Ek voel erg duiselig na ʼn warm bad, maar voel later die dag beter.  My temperatuur is die aand 37.4, dit is besig om stadig maar seker te sak. Deur die nag kry ek kouekoors.

Maandag 14 Junie:  Ek drink twee Artemisia Afra (wildeals) pille, my koors bly laag.  Dit kom sesuur die middag weer terug, maar gaan weer af na ʼn uur.  Ek het meer energie, maar raak met tye moeg.  Ek doen strekoefeninge en joga en hoes baie slym uit.  Ek kan steeds niks proe of ruik nie. Ek is wel honger en eet ʼn pakkie two minute noodles en ʼn stomende bord kos wat my man vir my gemaak het. Ek drink steeds Energade.

Dinsdag 14 Junie:  Vir die eerste keer in ʼn week, het ek nie meer koors nie, my temperatuur is 36.6.  Dit is baie uitmergelend vir ʼn mens se liggaam om so lank koorsig te wees en nie te kan eet nie.  Ek drink weer wildeals. Ek doen joga asemhalingsoefeninge, daar kom weer baie slym uit my longe.  Ek voel baie beter. Ek kan baie liggies ruik en ek kan selfs weer my koffie proe.  Ek is oor die ergste, ek moet nou net herstel van die geveg wat my lyf met die Covid gehad het.  Ek kan voel dat dit aan my gevat het.  Ek sorteer ʼn bietjie wasgoed uit en maak kos vir my gesin.  Dan rus ek die res van die dag. ʼn Baie vriendelike dame van die Departement van Gesondheid bel my spesiaal om op te volg hoe dit met my gaan en of ek al beter voel.  Ek waardeer dit baie.

Woensdag 16 Junie en Donderdag 17 Junie:  ek voel baie beter, maar is steeds moeg en uitgeput, ek hou aan met asemhalings en strekoefeninge en drink my vitamienaanvulllings.  Ek kan 100% ruik en proe.

Vrydag 18.  Ek voel goed, word net vinnig moeg. Dit is die laaste dag van isolasie vir ons gesin.

Saterdag 19 en Sondag 20. Ek voel gesond, probeer myself nou opbou, gesond eet en rus. Ek probeer die kinders se skoolklere regkry vir wanneer hulle teruggaan skool toe Maandag.

Maandag 21:  Ek is terug by die kantoor na twee weke se siekverlof. Ek kom ʼn bietjie maerder en heelwat wyser uit my Covid-ondervinding.

Vrywaring: Ek is nie ‘n dokter nie. Ek deel net my ervaring. Ek vra niemand om te doen wat ek gedoen het nie. Raadpleeg ‘n dokter vir mediese advies en ondersteuning.

Die belangrikste was om te luister na my dokter se advies, te luister na my liggaam en baie ligte joga en diep asemhalingsoefeninge te doen, veral die “downward dog” en “child pose” posisie.  Ek kon voel wanneer ek lank gelê het, dat die slym op my longe gaan sit het.  Dit is baie belangrik om die slym uit te kry. Die volgende het gehelp om die simptome te hanteer:  Stoom, warm bad en warmwatersak vir kouekoors, Disprins om te keer vir bloedklonte, magnesium vir spierkrampe, net Panado vir koors, vitamienaanvullings, Energade om te keer vir ontwatering en te help met spierkrampe.  Artemisia Afra of wildeals vir kouekoors en koors het geweldig gehelp, dit word ook gebruik teen malaria, Ivermectin tot my koors gebreek het, ACC 200 en Prospan hoesstroop om te keer dat slym in longe bly, Linctagon C vir verkouesimptome, gemmertee met suurlemoen, Airmune elke aand voor slaaptyd, lemoensappe en vrugtesappe, as jy nie kan eet nie, sorg dat jy vloeistowwe bly inneem, kalm te bly.  Paniek gaan jou niks help nie.

Ek het in hierdie tyd gereeld buite gaan sit en die warm son op my gesig gevoel.  Ek het nogal baie opgelet na die beeldskone eenvoud van die blare wat op die grond lê en gekyk na die engelvlerke in die wolke.  Daar het ook ʼn ystervark in ons buurt rondgeloop wat uit die Universiteit se veld oorkant ons huis gekom het.

Ek luister nou minder nuus, fokus meer op my gesin, huis, tuin en doen dinge wat opbouend en positief is soos skryf, lees, tuinmaak, musiek luister, oefen en rus wanneer ek dit nodig het.

Ten spyte van wat die nuus sê hoe skrikwekkend dinge in hierdie wêreld is … daar is skoonheid op hierdie aarde.. Maar daar kom ‘vrye wil’ in en gee ons die keuse om die duisternis of die lig te kies. Kyk vir die donker en jy sal dit beslis vind. Soek die lig … en dit sal daar wees.