Vind vrede in die ritme van die lewe

Ek sit elke oggend voor werk vir 10 minute in die tuin, nadat die kinders afgelaai is by die skool en ek ʼn bietjie tyd vir myself het. Dit is wanneer ek kan asemskep en myself vind. So sien ek die seisoene verbygaan, hoe my plante groei, die voëls in die bome neste maak en kleintjies grootmaak.  Hoe die kleintjies later hul vlerke sprei en wegvlieg uit die neste.

Ek kyk na die blare van die plante, die manier hoe die rankplante in die wind dans en dink aan die woorde van Maya Angelou: “Alles het ritme, alles dans”. Die blare wat van die bome afval, ontbind mettertyd en word voeding vir die plante.   Ek luister na die verskillende geluide van voëls en sien en hoor die hartklop van die natuur.  Wanneer ek besig is met werk en huistake, is ek nie altyd bewus van hierdie borrelende lewe wat orals rondom ons is nie.  Daar is insekte, geitjies, wurms, voëltjies, muise, katte en honde rondom my.

Ek weet die wortels van die groot bome in my tuin boor diep onder die grond in, maar tog dink ek nooit daaraan nie. In die veld oorkant ons huis is daar meerkatte, muskeljaatkatte, skilpaaie, tarentale en uile. Orals leef en vibreer dit en daar is ʼn polsslag en energie oral in en rondom ons.

Bloed vloei deur my are en my hart klop, ek haal asem, maar tog dink ek nooit daaraan nie. Die liggaamsritmes word sirkadiese ritmes genoem. Ons het reeds voor ons geboorte die ritme en hartklop van ons moeder se liggaam beleef.  Hierdie diep gevoel van vertroosting en geborgenheid wat dit ons gegee het, is na ons geboorte deurgedra en weer gevind wanneer ons as babas die veiligste sou voel wanneer ons naby ons moeder se liggaam was en haar asemhaling en hartklop sou voel.

Ritme beïnvloed elke aspek van ons lewe, wanneer ons moet wakker word, slaap en hoeveel energie ons het.

In die natuur is die energie suiwer en die vibrasie hoog. Wanneer ons tyd in die natuur deurbring, word ons energieveld van swaar of negatiewe energie skoongemaak, wat ons help om ligter, meer energiek en meer helder  te voel.

Die wêreld bestaan uit vibrasie en beweging – niks in die natuur is in ʼn absolute rustoestand nie, al lyk dit soms so.  Ek dink aan die fases van die maan, die eb en vloed van die see se getye, die aarde se rotasie en die verandering van die seisoene.

Die Amerikaanse indiane was lank reeds van hierdie wysheid bewus:

“Soos wat jy jou bewustheid in die natuur ontwikkel, begin jy te sien hoe jou lewe alle lewe beïnvloed en hoe alle lewe ons beïnvloed.  ‘n Sleutel-en kritiese kenmerk om van bewus te wees.”  – Tony Ten Fingers/Wanbli Nata’u, Oglala Lakota.

Wanneer mens hierdie dinge begin raaksien en tot ʼn dieper besef van die ritme van die lewe kom, word dit vir jou makliker om die storms en tsunami’s van die lewe te hanteer.

Jy leer om met die stampe en stote van die lewe saam te leef en nie daarteen te probeer werk nie. Die ritme en siklus van die natuur wys my dat verandering tyd neem. Dit voel miskien stadig vir my, maar dit gebeur steeds.

“Die natuur jaag niks af nie, tog word alles bereik” – Lao Tzu.

Die hele wêreld beleef tans onsekere en ontmoedigende tye. Die COVID-19-pandemie het byna al ons roetines en normale gedragspatrone verbreek.  Dit is onduidelik hoe die stukke inmekaar sal pas wanneer die pandemie uiteindelik verby is. Hierdie onsekerheid het by baie mense tot angs en depressie gelei.

Die sleutel tot kalmte en rustigheid is vir ons almal beskikbaar.  Dit is om al die natuurlike ritmes wat die lewe op hierdie pragtige planeet waar te neem en daarby te leer.

“God is die vriend van die stilte. Bome, blomme, gras groei in stilte. Kyk na die sterre, maan en son, hoe hulle in stilte beweeg” – Moeder Teresa.