Kristalle: Klippies of kuur?

Alhoewel daar geen wetenskaplike bewyse is dat kristalle genesende eienskappe besit nie, word dit algemeen gebruik om ontspanning te bevorder en meer aandagtig te wees.  “Ek het nog altyd klippies opgetel en versamel, want ek hou van die gevoel en tekstuur van klippe.  Dit is interessant om oor die verskillende klippe en kristalle op te lees en te gesels.  Ek het ʼn kristalversameling en het rooskwarts in my tuin tussen die plante.  Dit laat my rustig en kalm voel.

Die woord kristal kom van die Griekse woord krystallos”, wat gevriesde lig beteken.  Om na ʼn versameling kristalle te kyk, is ʼn fees vir die oog.  Kristalle kom in alle kleure en vorms voor.  Die ryk pers kleur van ametis, ligpienk rooskwarts en kristalle in diep kleure van magenta, diepblou, mosgroen en rokerige grys is betowerend.  Gladde en growwe teksture word gevoel wanneer jy daaraan raak.  Sommige kristalle is swaar, ander ligter.  ʼn Mens wonder hoe oud is die kristal wat jy vashou.    Wat is kristalle en watter eienskappe het dit?

“In historiese konteks gesien was genesers, sjamane, priesters en geestelike soekers van Maya’s, Inheemse Amerikaners, Aztecs, Egiptenare, Romeine, die mense van antieke Indië, die Ooste en Keltiese Brittanje aangetrokke tot die helderheid en suiwerheid van kristalle en het van hul spesiale eienskappe gebruik gemaak.  So vertel Vivienne Kueck, ʼn gerespekteerde kristalkenner met gesertifiseerde vaardighede in genesing en berading.

Sy vertel dat kristalgenesing soos dit vandag ontwikkel, voortgaan met hierdie wydverspreide tradisie deur nuwe maniere te ondersoek waarin die minerale koninkryk ons kan help om balans te herstel in ons gejaagde en stresvolle lewens.

“Meer mense is bereid om ʼn meer holistiese lewe te oorweeg en van kristalle gebruik te maak om hul lewens te transformeer.

“Deur kristalle naby ‘n energiewanbalans te plaas, hetsy liggaamlike siekte, emosionele en geestelike ontsteltenis, moedig ons ons eie genesingsproses aan om meer effektief te wees.  Sodoende kan harmonie en gesondheid moontlik gemaak word.  Vivienne vertel meer oor kristalle en hoe dit wanbalanse kan help balanseer:

“Kristalle vorm in die natuur wanneer vloeistowwe afkoel en begin verhard.  ‘n Algemene kristalkwarts bestaan uit 1 deel silikondioksied tot 2 dele suurstof wat molekules dan in ‘n rooster (“lattice”) rangskik.

“Die mineraal kwarts is van onskatbare waarde by tegnologie deur mikroskyfies vir rekenaars te verskaf en in horlosies en lugverkeerstoerusting gebruik word.  Dit word selfs by verf gebruik om die buitekant daarvan te versterk.

Volgens Vivienne is chakras draaiende/vinnig bewegende draaikolke (wielagtige energie vortekse) wat sekere frekwensies van energie fokus.  Wanneer ‘n chakra stres ophoop, herlei dit nie die gepaste energie in die liggaam nie.

Elke chakra het ‘n spesifieke fokus van aksie, maar hulle is almal onderling verbind.  Wanneer een chakra versteur word, kan dit die funksionering van ander chakras benadeel.  Met verloop van tyd kan dit bydra tot fisieke siekte of emosionele ontsteldheid.  Sommige chakras is meer aktief as ander.  Ons wil uiteindelik ‘n balans hê.

Elke chakra is verbind met fisiese funksies sowel as emosionele en geestelike toestande en word ook geassosieer met ‘n kleur.

Sy beveel aan dat jy begin om gesuiwerde stene/klippe op die liggaam te plaas.

“Begin tussen die voete terwyl jy ʼn pragtige blom visualiseer in daardie kleur, wat blomblare ontvou totdat jy jou kroon (kop) bereik.

Verwyder na 15 minute die klippe/stene van die kroon (kop) af, visualiseer hoe jy die (blom) blare van elke blom toemaak, visualiseer jouself in ‘n kapsule vol wit lig.

Vivienne verduidelik hoe jy sal weet watter kristalle om te kies”

“Kristalle sing en praat en wanneer hulle na jou toe wil kom, skitter en skyn hulle – “Kyk na my! Hier is ek!  Neem my!  Neem my! Jy sal ‘n innerlike aangetrokkenheid voel en as jy die kristal optel, sal jy vind dat jy aansluiting daarby vind.  Dit is die begin van ‘n verhouding wat jou lewe gelukkiger en gesonder sal maak.

Ruwe kristalle is ‘n meer rou energie.  Getuimelde, skoongemaakte, gepoleerde of vervaardigde kristalle het ‘n gladder energie, onthou om jou eie gevoelens te vertrou oor wat vir jou die beste voel deur jou intuïsie te volg.

  • Klein getuimelde/gepoleerde klippe – wat nie te swaar is wanneer hulle op die liggaam geplaas word nie en relatief plat is, maar nie te klein is dat hulle verlore raak nie (handig om ‘n sak te hê om hulle in te hou)
  • Kry minstens twee klippe van elke spektrumkleur – dit moenie dieselfde tipe klip wees nie.
  • Klein, helder kwarts natuurlike kristalle is van onskatbare waarde
    10 -12 ongeveer 2 tot 3 cm lank.

    • Klein natuurlike kristalle van Ametis, rokerige Kwarts en Sitrien is ook van waarde/die moeite werd.
  • Klein handgrootte kristalklusters van helder kwarts of ametis is nuttig vir die skoonmaak en herlaai van jou klippe en kristal juweliersware.
  • Groter enkel klippe en getuimelde klippe is nuttig om te hou en te gebruik as meditasie gereedskap.

Verbeter die balansering van die chakras deur gebruik te maak van die toepaslike kleur klere, handdoeke, beddegoed, die eet van kos en die drink van sappe wat jou liggaam jou intuïtief vertel om te doen.  Al wat jy nodig het, is om te luister.

Kristalgenesing – hoe werk dit?

Alhoewel daar geen wetenskaplike studies is oor die effektiwiteit van kristalgenesing nie, is daar ‘n studie wat daarop dui dat kristalgenesing ‘n placebo-effek kan veroorsaak in ‘n pasiënt wat hierdie tipe behandeling ontvang.  Volgens Christopher French, hoof van die anomalistiese sielkunde-navorsingseenheid aan die Universiteit van Londen is ʼn placebo-effek ʼn effek wat nie direk toegeskryf word aan die behandeling self wat op die siekte van die pasiënt van toepassing is nie

‘n Persoon kan dus beter voel na kristalgenesende behandeling, maar daar is geen wetenskaplike bewys dat hierdie resultaat iets te doen het met die kristalle wat tydens die behandeling gebruik word nie.

Sommige mediese dokters verdra die kristalgenesing in ‘n beperkte mate, aangesien dit as terapie ontspanning kan meebring, wat uiteindelik terapeuties is vir stresbestuur.

Studies toon aan dat meer as 30% van VSA-volwassenes gesondheidsorg gebruik wat buite die veld van gewone Westerse medisyne is.

Google gebruikers wat “kristalgenesing” in hul soekenjins gesoek het, het die afgelope 5 jaar meer as verdubbel.  Bekende persoonlikhede soos Katy Perry, Kate Hudson en Adele gebruik kristalle om verhoogvrees te help beheer.  Hulle hou byvoorbeeld ʼn kristal vas in hul hand tydens ʼn optrede.  Himalaja soutlampe word bemark om mense se gemoed te verbeter en magnetiese armbande as ʼn hulpmiddel om pyn te verlig.  Een kwart van die mense wat ondervra is in ‘n Pew navorsingsopname het gesê hulle het geglo dat daar spirituele energie in fisiese dinge soos kristalle en bome is.

Volgens Jacquie Burgess, die skrywer van Healing With Crystals, werk kristalgenesing deur “ons te help om by die ritme van die lewe aan te pas, om die skepping te respekteer, om die kragte en invloede wat deur ons lewens speel, te balanseer, houdings en gewoontes vry te stel wat nie meer goed vir ons is nie.  ”

Sommige kenners meen dat Kristalterapie diep ontspanning meebring, help met stresontlading en effektief kan wees in die behandeling van moegheid en immuungebrek siektes.

Kristalle en aandagtigheid

Jon Kabat-Zinn beskryf in sy boek Catastrophe Living, aandagtigheid (volbewus-wees) (mindfulness) as die vermoë om in die oomblik, doelbewus, bewus te wees van ons eksterne en interne ervaring, sonder enige oordeel.  Gereelde aandagtigheid/volbewus-wees hou volgens navorsing baie voordele in.  Die amigdala, die veg-of-vlug gedeelte van die brein wat ons impulsief laat reageer in stresvolle oomblikke kan letterlik krimp, terwyl die prefrontale lob, die gedeelte waarmee ons bewus raak van ons gedagtes en gevoelens om sodoende beter besluite te neem, vergroot.  Gereelde volbewus-wees lei tot beter streshantering, meer deernis vir jouself en ander, beter hantering van chroniese pyn, beter bestuur van psigiese versteurings, beter fokus en prestasie in beroeps- of sportdoelwitte, asook beter konsentrasie en geheue.

Judy Hall is wêreldwyd bekend vir haar werk met kristalle en het ʼn verskeidenheid boeke daaroor geskryf wat reeds miljoene kopieë verkoop het. 

Sy skryf in haar boek Crystal Mindfulness:

“Is jy op soek na ‘n beter wyse om aandagtigheid te beoefen?  Kristalle kan op soveel maniere help.  Hulle bestaan reeds miljoene jare.  Uit hul perspektief is die verloop van dekades net ‘n oogwenk, so hulle bied nuwe maniere om jou lewe waar te neem.  Deur in die dieptes van ‘n kristal te kyk , gee aan jou onmiddellike duidelikheid en stilte.  Deur ‘n punt van sagte fokus te bied, help kristalle jou om aandagtig in die oomblik te wees sonder om dit te oordeel of te verander.  Die unieke eienskappe van elke kristal help om die “geraas” (onophoudelike gebrabbel/gepratery) in jou gedagtes af te skakel.

Volgens Judy kan kristalle help om angs te verlig, van woede ontslae te raak, jou help om te vergewe en die verlede agter te laat, en soveel meer.  Hulle kan jou help om ‘n beslissende skuif te maak (wanneer dit toepaslik is).  Hulle verbind jou op ‘n baie diep vlak met jouself.

Watter kristalle help vir wat?  Vivienne verduidelik:

Oorvloed / Goeie geluk / Welvaart

Mos Agaat Aventurien, Karneool, Sitrien, Smarag, Granaat, Jade, Malagiet, Prentsteen/klip (Picturestone), Robyn, Septerye, Tieroog.

Engele kontak (connection)

Angeliet, Apofilliet, Kalkiet (blou), Selestiet, Danburiet, Kunziet, Seleniet

Balans

Budsteen, Kalkiet, Obsidiaanse Sneeuvlok, Kwarts, Kwarts Litium, Tieroog, Zircon

Kalmte / Ontspanning

Agaat Blou Kant, Aventurien, Lepidoliet, Maansteen, Oniks (Onyx), Versteende Hout, Roos Kwarts, Stichtiet

Kommunikasie / Uitdrukking

Agaat Blou Kant, Amasoniet, Akwamaryn, Chalcedoon, Chrisokolla, Kianiet, Shattuckiet, Sodaliet

Moed / Selfvertroue

Bloedsteen (‘n soort groen chalcedoon gevlek of gestreep met rooi, gebruik as ‘n edelsteen.),  Chrisokolla, Heliodoor, Olmitte, Versteende Hout, Rodoniet, Gerutileerde Kwarts (Dit bevat fyn, ingeboude naalde van rutiel),  rokerige kwarts, sonsteen, tieroog

Kreatiwiteit

Antofilliet, karneool, sitrien, malagiet, sonsteen, Zinziet (Zincite)

Energie/Vitaliteit

Kalsiet, Carnelian, Sitrien, koper, Kupriet, Garnet, Jasper, Kianiet, kwarts, robyn

Vastigheid (grounding)

Ammoniet, Hematiet, Jasper, Northosite, Obsidiaan, Oniks (Onyx), Versteende Hout, Piriet (Pyrite), Rokerige Kwarts, Kwarts Hematiet

Harmonie/Vrede

Agaat Blou Kant, Selestiet, Chrisoprase, Kobaltiet Kalsiet, Kunziet, Lepidoliet, Magnesiet, Prentsteen/klip, Rooskwarts

Gesondheid/genesing

Aegerine, Agaat, Ametis, Amasoniet, Bloedstene, Cobalto Kalsiet (Cobaltion Calcite), Dioptase, Fluoriet, Fuchsiet, Granaatsteen, Jasper Orbikulêr, Jasper Red, Malagiet, Shungite

Vreugde / Geluk 

Ametis, Kalciet, Sitrien, Kunziet, Kwarts, Rooskwarts, Goue topaas

Lewensveranderinge /Transformasie

Asuriet Malagiet (Azurite-Malachite), Carnelian, Grossulariet, Lepidoliet, Moldaviet (Moldavite), Oniks, Kwarts, Skapoliet, Seleniet

Geboortestene

Reeds sedert antieke tye was die idee van geboortestene, ‘n edelsteen wat aan elke maand van die jaar toegewys word bekend.  Geleerdes spoor dit terug na die Borsplaat van Aaron wat in die boek Exodus in die Bybel beskryf word.  Die Borsplaat was ‘n godsdienstige kledingstuk met twaalf edelstene wat die twaalf stamme van Israel verteenwoordig het.  Die idee van elke persoon wat altyd ‘n edelsteen dra wat ooreenstem met die maand van hul geboorte, is egter ‘n duidelike moderne idee wat geleerdes na die 18de eeu van Pole terugspoor, met die aankoms van Joodse juweliersware na die streek.  Hier is ʼn lysie met verjaarsdagstene vir elke maand:

Januarie – Granaat
Februarie – Ametis
Maart – Akwamaryn
April – Diamant
Mei – Smarag
Junie – pêrel
Julie – robyn

Augustus – Peridoot

September – saffier

Oktober – Opaal
November – Sitrien

Desember Geboortesteen – Blou Topaas

Hierdie artikel was in 2018 in Vrouekeur gepubliseer.

Bronne:

https://bestbirthstoneguides.com/

https://www.watkinspublishing.com/crystal-mindfulness/

http://www.vogelcrystals.net/legacy_of_marcel_vogel.htm

https://www.livescience.com/40347-crystal-healing.html

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *