My labirint – ʼn pelgrimstog vir my siel

ʼn Oranje-geel blarereën val op saggies my hare. Blare takke en plante kraak onder my voete. Ek is in my labirint – my plek van vrede.  Die plek waar ek die hartklop van die natuur op sy duidelikste hoor, voel en sien. Die naaste aan my Skepper voel en weet dat daar orals engele om my is. Wanneer ek in my labirint instap, gaan ek op ʼn reis na my eie innerlike, vind oplossings en antwoorde vir die dinge waaroor ek wonder en dan keer ek terug na die gewone wêreld. Met minder stres en meer intuïsie, insig, kreatiwiteit en kalmte. ‘n Paar jaar gelede was hier net ‘n kaal stuk grond. Hierdie stuk kaal grond het op daardie stadium ook my gemoedstoestand weerspieël. Ek het van heinde en verre plante en steggies versamel en ‘n tuintjie aangeplant. Die kaal stuk grond volgemaak met ‘n rankplant uit Fouriesburg, hen-en kuikens uit my ma se tuin, roosbome, rooskwarts en plante wat my susters vir my gebring het, vetplante wat Tristan vir my gebring het, skaars plante uit Ramsgate, Beaufort-Wes en Kaapstad. Baie growwe en gladde klippies en skulpe wat ek orals opgetel het, teruggebring het van my reise. Twee jaar nadat ek begin tuin maak op die kaal stuk grond, was dit vol plante. Elke plantjie, klippie en toevoeging tot my tuin het my geestelike reis deur die twee jaar wat dit geneem het om die tuin vol te maak, weerspieël. Die tuin was mooi, maar daar het iets gekort…’n labirint, ʼn meditasiepaadjie vir my siel.
Vanaand sal die solarliggies die paadjie aanwys wanneer ons gesin daarin gaan stap.

En nee, labirinte is nie New Age of net vir boheemse en eksentrieke siele nie.  Dit kom reeds uit die Middeleeue! Die bekendste outentieke voorbeeld van ‘n 11-kring Middeleeuse labirint is die een in Chartres-katedraal, Frankryk, gebou in 1201. Sint Augustinus het eenkeer gesê: ‘Solvitur ambulando’ wat beteken:  dit word opgelos deur te stap.  Uit die 80 katedrale in Frankryk en Italië gedurende daardie tyd, het 22 van hulle labirinte gehad. Met die moderne herlewing van die labirint, wat in die 1970’s begin het, is wêreldwyd labirinte gebou in openbare parke, privaat tuine, gedenktuine, universiteite, skole, hospitale, gesondheidsorgfasiliteite, kerke, godsdienstige gemeenskappe, spa, ontspannings- en welstandsentrums, gevangenisse en besighede. ʼn Bekende labirint is die Siyahamba Labirint by St Georges katedraal in Kaapstad.

ʼn Labirint is ʼn veilige plek wat jou reis deur die lewe kan weerspieël, jou help om jouself beter te leer ken en vernuwing kan meebring. Daar kan gestap word in labirinte deur in die natuur te wees, weg te kom van die gejaagde moderne lewe, van spanning ontslae te raak, jou gedagtes te laat stilstaan, die verlede te laat vaar, hartseer of trauma te genees, spesifieke vrae te beantwoord, konflik oplos, probleme op te los, doelwitte te stel, innerlike vrede te vind, meer bewustelik te leef, produktiwiteit te verhoog, meer kreatief te raak of net te ontspan. Hoe dit ook al sy, dit is die begin van ‘n reis wat uiteindelik ‘n proses sal begin waar kragtige veranderinge moontlik is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *