Lesse uit ʼn lockdown – Deel 1: Die muskeljaatkat

Die muskeljaatkat

Die stilte slaan sy tentakels in ons ark in. Daar is geen geluide van karre, sirenes en trokke wat op die N1 agter ons huis ry nie. Dit is halfeen die oggend en daar is iets op ons dak. Dit klink soos iemand wat op die dak loop en met ʼn hammer daarop slaan. Ons slaappatrone het verander. Ons gaan slaap eers na twaalf in die aand, staan sewe uur op en slaap weer in die dag. Werk op mekaar se senuwees, maar tog sit ons almal bymekaar. Wanneer ons dink aan hulle wat alleen moet bly vir die een en twintig dae. Ons maak vir ons gemmerbier, want alkohol mag nie gekoop word nie en ons senuwees knaag.

In die oggende sit ons in ark se feetjietuin. Die wêreld daar buite het bykans tot stilstand gekom, maar die natuur gaan steeds sy gang. Die kosmosse in die tuin staan hoog en die blare val van die bome af in ʼn skouspel van amber, roes en geel. Ek het ʼn groentetuin begin in ʼn ou blou kinderswembadjie. Ertjies, boontjies, spinasie, rooikool, wortels. Die reuk van varsgebakte rosyntjiebrood, gemmerbier en wierook hang in die lug. Iets onsigbaars het die wêreld op sy kop gedraai. Nie een van ons het al so iets beleef nie. Die vrees vir die onsigbare hou mense in hul huise en laat hul maskers dra. Almal se hande is skurf van al die ontsmettingsmiddels. Die winkelrakke is leeg. Mense baklei oor toiletpapier.

Alles waaraan ons gewoond is, het verander. Ingehok, gegrendel, geïsoleerd. Terwyl mense in hul huise vasgekeer is, gaan die natuur sy gang. Die tortelduiwe en hadidas raas en skoenlappers fladder oor die feetjietuin. Ons ark is gevul met ʼn pa, ʼn ma, ʼn tiener en ʼn tweejarige dogtertjie wat in ons pleegsorg is. Ons noem haar Liggie, want haar Tswana naam beteken lig. Ons is bly dat sy by ons is, want sy vrolik ons dae op en sy is veilig by ons. Ons ark is ook gevul met honde, katte, ‘n papegaai en ‘n klomp eende.

ʼn Vrou stuur ʼn boodskap na ons buurtwag Whatsapp-groep: “ʼn Grys en wit katjie (lyk na ʼn vreemde soort katjie) is in een van ons bome as iemand hul diertjie soek. “ Nog iemand stuur ‘n boodskap: “Hier is ʼn helse snaakse dier op my dak en het nou in boom gespring. Lyk soos ʼn kat maar langer lyf en ʼn lang stert wat swart en wit strepe het. Dalk iemand se troeteldier. Net bang die ding is dol.” Nog ʼn boodskap: “Opgelos. Is ʼn muskeljaatkat wat in die buurt in die bome woon. Eet slange en muise. Pragtige dier”.

Nou weet ons wat in die aande op ons dak loop. Dit is oor dit nou so stil is in die strate. Die muskeljaatkat kom uit die Universiteit se veld. Die natuur neem oor en mense sit nou in hokke.
Dit laat my aan die fliek Planet of the Apes dink. Die onsigbare is dalk ʼn “wake-up call” van Moeder Natuur.

Les 1: Om haar met meer respek te behandel.