Lesse uit ʼn lockdown – winter in die Vrystaat

Be still and the earth will speak to you…Navajo wisdom

Party kinders is terug skool toe.  Die kleintjies by die kleuterskool sit in hoepels om sosiale afstand te handhaaf.  Die grotes dra maskers en baie van ons is ook terug by die werk.  Dit is koud en baie van ons is Corona en lockdown-voos.  Mense ly aan angs en kry ʼn hol kol op die maag wanneer hulle na die nuus op die TV kyk of na die radio luister.  Ander hou die daaglikse nuwe infeksies en sterfgevalle dop soos wat mense ʼn rugbywedstryd se telling dophou.  Ons hoor van mense wat sonder enige probleme Clarens toe gegaan het vir ʼn naweek en besluit om ʼn kans te vat en te kyk of ons iewers kan plek kry.  Net om bietjie weg te kom. Stil te word, asem te skep, in die natuur te kom en perspektief te verkry.  Ons kry plek vir twee dae en vind uit dat ons wel mag reis tot daar.  Daar is ʼn padblokkade buite Ladybrand, maar ons word nie gestop nie.  Daar is wel ʼn tent waar mense se temperatuur geneem kan word, maar ons ry verby.  Duskant  Clarens sien ons ‘n wit wolk bo die berge hang.  Dit lyk vreemd.  Dis ‘n brand by Golden Gate.  Die berg is swart en grys bolle rook trek uit die grond.  Daar is swart strepe waar hulle besig is om voorbrande te doen.  Om wegholveldbrande te voorkom. Die Chalets, kampterrein en hotel is verlate, dit lyk soos ‘n spookdorpie.  Daar is ‘n gebouery by Golden Gate se ou kampterrein en karavaanpark.  My oog vang iets op ‘n bordjie.  Hier kom iets nuuts. Dinosaur Interpretation Centre.  Hierdie plek het gewemel van dinosaurusse en menige fossiele is al hier gevind.  Daar is ʼn ryk, oeroue geskiedenis hier.

Die stukke gras wat nie afgebrand is nie, lyk soos blonde hare wat in die ysige wind rondwaai.  Die lug is ekstra blou.  Ek kan die energie in die oop ruimtes, klippe en veld aanvoel.  Dit is winter.  Nes die wereld tans ‘n Covid-winter beleef.  Die lockdown is voorkomend, nes die voorbrande.  Om wegholgetalle infeksies te voorkom. Die veld en ons lewens lyk nou swart en kaal, maar wanneer die lente aanbreek, gaan die gras groener as ooit wees.  Die winter en gestrooptheid van die veld sal verbygaan, so ook sal die Covid-pandemie ook verbygaan, alhoewel die ergste nog vir ons voorlê.  Ons kom by die Lodge aan waar ons gaan bly.  Ons vier in die motor se temperatuur word geneem en ons moet vraelyste invul oor ons gesondheid en simptome wat ons die afgelope 14 dae ervaar het.  Ons moet ons maskers te alle tye dra, behalwe wanneer ons in ons chalet is.  Ons gaan stap om te gaan kyk na rotstekeninge en sien hoe twee lammergeiers hoog bo die kranse sweef.  Ek voel die middagson op my vel en vir die eerste keer in ʼn lang ruk, voel ek of ek kan asemhaal en kom ek tot ʼn besef:  Die Covid-epidemie is nou deel van ons lewens en dit vir eers, is ons nuwe normaal.  Dit gaan nog lank by ons wees nie oornag verbygaan nie, ons moet steeds leef.  Die lewe gaan aan, ons moet aanpas, planne maak en nie op ʼn hopie gaan sit nie.

In Clarens is baie van die klein winkeltjies toe.  Vir die eerste keer in 100 dae gaan sit ons en drink koffie by ʼn restaurant.  Ons sit buite, terwyl die kleintjie op ʼn ou trekker klim en uitbundig speel.  Die kelners is gemasker.  Dit is ʼn voorreg om vir die eerste keer in maande by ʼn plek te gaan koffie drink.  Ek drink die geur en smaak daarvan in.  Die klimop-blaar in die piering lyk ekstra groen.  Ek voel die son op my gesig.  Die lewe is goed.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *