Gedagtes gedurende ʼn pandemie (Deel 3)
Twee goue paashase met groen strikke om hul nek staan kiertsregop op die kombuisrak. Ek bring die spuitbotteltjie met Jik water nader en spuit hul versigtig af. Vryf hul droog met ‘n vadoek en gooi die vadoek onmiddellik in die was. Was my alreeds skurwe hande deeglik. Daar is pleisters waar die vel rooi is van al die ontsmettingsmiddels. Lang naels is nou iets van die verlede. Die hasies gaan nou-nou weggesteek word in die tuin vir die kinders. Tyd vir Easter egg hunt. Dit klink bisar, maar dis ons nuwe realiteit. Versigtig, beheers, voorkomend.
Ons bestel meestal kruideniers wat by ons huis afgelewer word, maar niemand lewer paashase af nie. Ek moes winkel toe. Gemasker en gepantser.
Leë rakke, handsaniteerder voordat jy in die winkel ingaan, mense met maskers, handskoene, is dit ʼn nagmerrie of die apokalips?
Die mense in die winkel kan verdeel word in mense wat gepantser is en dan diegene wat nie gepantser is nie en nie lyk of hulle hul steur aan sosiale afstand en ander maatreëls nie. Van hulle hoes en proes na hartelus. Dis hulle wat op die gepantserdes se senuwees werk.
Jy mag net 3 van sekere produkte koop. Daar is ʼn tekort aan gis, want mense bak brood en brou gemmerbier en tuisgemaakte bier, geen sigarette en alkohol, jy kan nie makeup koop nie. Die wyn en sigaretrakke is leeg. Daar is wel alkoholvrye bier en champagne. Die rokers kry swaar. Die bittereinders maak ʼn plan, ja jy kan laventel, catnip en chamomile ook rook. Of ‘n ander plan maak. Ander gebruik die geleentheid om uiteindelik (met ʼn swaar hart) te “quit”. Die rakke met die goed wat nie as essensieel beskou word nie, is toegeplak met blou kleeflint. Sommige winkels se pryse is buitengewoon duur, veral die vleis.
My skoene waarmee ek winkel toe was, word buite in die son gesit, dit mag nie in die huis kom nie. Reguit stort toe by die huis. Hare was en skoon klere aantrek. My klere wat by die winkel gedra is, word in ʼn swart sak gegooi en laat staan vir drie dae voordat dit gewas word.
Mindfulness
Ek kon nog nooit ʼn goeie woord vir mindfulness in Afrikaans kry nie, volbewustheid en aandagtigheid kom vir my baie naby daaraan, maar het nie vir my die trefkrag van die woord mindfulness nie.
Al wat ons werklik het, is vandag. Gister is verby en more bestaan nog nie. Tog verknies ons ons oor gister en more en veroorsaak dit vir ons depressie en angs. In hierdie tyd van die onsigbare tsunami, kan mindfulness help om jou te grond en te besef dat dit wat jy vandag het en beleef, al is wat werklik bestaan. Fokus op jou tuin, plante, kinders, familie, diere, proe die kos wat jy eet, voel die teksture, voel die son en wind op jou vel as jy buite gaan. Jy is vandag hier en more bestaan nog nie.
Ek maak elke dag ʼn punt daarvan om dinge waarvoor ek dankbaar is, te lys.
ʼn Dak oor my kop, kos om te eet, gesondheid, geselskap, diere, plante, wolke, son, genoeg ruimte in huis en tuin, rekenaar, selfoon, internet Netflix, koffie, pynappelbier, warm klere, ek kan sien, hoor, praat, loop en werk van die huis af. Die wete dat die onsigbare nie permament is nie, dit gaan lank vat en moeiliker tye lê voor, maar soos alles in die lewe is dit tydelik en sal dit ook verbygaan.











