Ek loop in my labirint in die tyd van die onsigbare, ʼn tyd van afsondering en stilte.
Tog klink die voëls se getjirp nou helderder, skerper, harder as voorheen. Die lug is besonder helder en die wolke buitengewoon, engelagtig. In die aand hoor ek die krieke duideliker as tevore. Die sterre is skerp en helder. Die enigste ander geluide is blare wat van die bome afval en honde wat in die verte blaf. Is my sintuie verskerp of is dit iets in die lug? ‘n Stille energie waar die natuur al hoe meer dominant raak en dit terugneem wat eens hulle s’n was. ʼn Kombers van dooie blare kraak onder ʼn mens se voete en daar is ʼn knyp in die lug. Die bome wil ons iets leer. Wanneer hulle hul blare afgooi, wys hulle dat dit goed is om dinge te laat gaan. Om veranderinge en seisoene te aanvaar. Ek onthou ons besoek aan Boulders Beach in Desember. Daar was troppe toeriste wat na die pikkewyn-kolonie gaan kyk het. Van die pikkewyne was agter ʼn drie voet heining. Ander het versigtig in die see naby die mense geswem. Pikkewyne loop nou rond in Simonstad se strate, ‘n volstruis patrolleer die Strand en ‘n muskeljaatkat het hom tuisgemaak in ons buurt se bome. ‘n Trop leeus slaap rustig op ‘n besige pad in die Kruger Wildtuin wat voorheen gewemel het van toeriste se voertuie. Bergbokke loop in Wallis se strate, daar is ‘n Coyote in San Francisco, ‘n Puma in Santiago, Chile, Sika takbokke in Japanse parke, poue en wildevarke loop rond in Barcelona, Spanje se strate. Orals is daar hase, eende, ganse en ape waar daar voorheen mense was, dolfyne word gesien op plekke waar hulle nie voorheen gekom het nie. In Indië word Olive Ridley skilpaaie vir die eerste keer in sewe jaar gesien dat hulle neste maak. Moeder Natuur floreer in die ruimte wat deur mense leeg gelaat word tydens die afsonderingsperiode.
In historiese konteks gesien, was die grootste uitdaging vir mense wat duisende jare gelede geleef het, net om te oorleef en om kos en skuiling te kry. In ons moderne lewe met sy talle stimuli, is daar vele keuses, moontlikhede, menings en verantwoordelike, ons leef vinnig en te hard.
Die onsigbare tsunami het ons gedwing om ons lewens en daaglikse gewoontes te verander. Tydens die uitbraak is baie van ons gedwing om terug te keer na eenvoudiger lewenswyses. En dit gee ons die tyd om op ons innerlike genesing en groei te konsentreer. Miskien is dit die natuur se manier om ons te laat nadink oor wat in die lewe noodsaaklik is en ook ‘n belangrike les te leer oor hoe ons Moeder Natuur behandel. Jy kan jou tyd van isolasie sinvol deurbring deur volbewus te wees van elke oomblik, te fokus op ʼn geluid of lied, elke sensoriese ervaring in te neem en te waardeer. Uit te reik iemand buite jou huis wat swaarkry, alleen is, oud of siek is, honger is. Doen een ding elke dag waaroor jy later goed sal voel, al is dit op daardie oomblik nie vir jou lekker nie. Pak daardie kas uit wat jy al lankal wou. Lag, maak een ding of spasie op ʼn slag skoon. Maak die beste van hierdie tyd, dit is dalk ʼn bedekte seën.













