“Enige idioot kan ‘n krisis hanteer, dit is die dag-tot-dag lewe wat mens uitmergel” het die Russiese skrywer Anton Chekhov gesê.
Opstaan, ontbyt eet, stort, aantrek, kinders by die skool of dagmoeder aflaai, werk toe, middagbreek, huis toe, rus bietjie, maak aandete, sit klere reg vir môre, help met kinders se huiswerk, kyk tv, gaan slaap. En môre doen ons alles weer van voor af.
Roetine gee struktuur in ons lewe en laat ons veilig voel. Roetine in ons lewe is noodsaaklik en sal ‘n gebrek aan roetine enigiemand se lewe heeltemal deurmekaarkrap. Ons almal leef maar in een of ander roetine. Te veel roetine en te min nuwe ondervindinge kan hulself verbloem as ‘n rustige en vervulde lewe. Dit kan egter tot die teenoorgestelde ly. Mens kan begin om rusteloos, angstig en gefrustreerd te voel. Jy kan begin wonder: “Is dit dan al wat daar is?” Te veel roetine kan jou sukses en geluk begin versmoor.
Roetine kan ‘n mens lui maak. Lui in ons denke, lui in ons verhoudings en lui in die verwagtings wat ons vir onsself skep. Roetine is nie ‘n slegte ding nie, ‘n mens moet net pasop vir te veel roetine. Jou gemaksone is die lewe waaraan jy gewoond is, die dinge wat jy op ‘n daaglikse basis doen. Dit is jou eie klein wêreldjie waarbinne jy veilig en gemaklik voel. Is jy werklik gelukkig of bloot net gemaklik ? Om in jou gemaksone te bly, gaan jy dieselfde resultate kry wat jy maar altyd gekry het. Daar gaan nie enige verandering plaasvind nie.
Kinders leef tog binne ‘n bepaalde roetine, maar hulle word elke dag blootgestel aan nuwe ondervindinge en leer elke dag iets nuuts. So ontwikkel hulle dan tot volwassenes.
‘n Mens se liggaam is gemaak om oefening te kry. Wanneer ‘n mens nie genoeg oefening kry nie, verswak jou spiere en jou algemene gesondheid kan nadelig beëinvloed word. Net so het ‘n mens se brein en jou geestelike lewe ook stimulasie en nuwe ondervindings nodig. Wanneer ‘n mens dag in en dag uit en later jaar in en jaar uit in dieselfde roetine leef, kan simptome soos ‘n gebrek aan energie, uitbranding, oorwerkdheid, onvervuldheid en selfs depressie, begin kop uitsteek.
Breek jou roetine:
Al laat jou roetine jou veilig voel, moet daar so nou en dan iets opwindends in jou lewe gebeur. Dit beteken nie om ‘n Ferrari te gaan koop en die spoedgrens te oorskry nie. Al wat nodig is om hierdie stand van sake te verander, is om kreatief te begin dink.
- Gaan doen iets wat jy baie lanklaas gedoen het. Gaan woon ‘n teaterstuk by of gaan kyk na ‘n sirkusvertoning.
- Sien die wêreld deur die oë van ‘n kind, kyk daarna soos wat ‘n kind doen. Sien die klein goedjies raak, kyk verby die gejaagdheid.
Lag. Soek humor in alledaagse dinge soos jou diere, kinders, dinge wat by die werk gebeur. - Gaan hou piekniek in die tuin.
- Verander gereeld klein dingetjies, selfs al is dit net jou ontbytpap af te wissel.
- Gaan stap in die natuur of nog beter, as jy dit kan bekostig, gaan sommer vir ‘n hele naweek weg na ‘n bergoord of wildplaas.
- Begin ‘n nuwe stokperdjie, daar is baie. Dink aan dinge soos skilder, juwele maak, boogskietlesse.
- Leer om jouself te verdedig, sluit aan by selfverdedigingsklasse.
- Gaan fliek op ‘n ongewone tyd, soos op ‘n weeksoggend of Saterdagmiddag.
- Gaan eet iets interessants soos sushi of Indiese kos. Nog beter, leer dit self voorberei en dek jou tema volgens die tema.
- Luister na ‘n ander soort musiek as wat jy altyd na luister.
- Leer ‘n nuwe taal.
- Verbreed jou horisonne, lees ‘n boek oor iets wat jy nog nooit oor gelees het nie.
- Maak sommer in die middel van die week ‘n spesiale ete sonder dat daar enige spesiale geleentheid is. Maak iets wat jy nog nooit gemaak het nie.
- Raak betrokke by ‘n liefdadigheidsorganisasie. Deur vir iemand anders te doen en te beteken, gaan jou goed laat voel.
- Kyk rond vir geleenthede en neem deel waar jy kan.
- Begin ‘n dagboek of joernaal, selfs ‘n blog as jy daarvoor kans sien.
- Skryf jou alledaagse ervaringe neer, snaakse goed wat gebeur het, dinge wat jou hartseer gemaak het en dinge wat jou opgeval het gedurende die dag.
- Doen ‘n kursus of studeer verder.











