VAN ‘N WENSLYSIE TOT WERKLIKHEID
Volgens die Nasionale Instituut vir Veroudering in die VSA, is die dramatiese verhoging in die algemene lewensverwagting gedurende die 20ste eeu een van die samelewing se grootste prestasies. Terwyl die meeste baba’s wat in 1900 gebore is nie langer as die ouderdom van 50 geleef het nie, is die lewensverwagting by geboorte nou al meer as 83 jaar in die wêreldleier, Japan, en ten minste 81 jaar in verskeie ander lande. Wat doen mense gedurende hul leeftyd, behalwe om te werk, rekeninge te betaal, miskien ‘n gesin te versorg en besittings bymekaar te maak?
“Begraafplase is die rykste plek op die aarde, sê die motiveringspreker Les Brown. “Daar sal jy al die hoop en drome vind wat nooit vervul is nie, die boeke wat nooit geskryf is nie, die liedjies wat nooit gesing is nie, die uitvindsels wat nooit gedeel is nie en die geneesmiddels wat nooit ontdek is nie. Stel jou nou voor jy lê op jou sterfbed en rondom jou staan die spoke van die idees, drome, vermoëns en die talente wat jy gehad het en nooit gebruik het nie?”, sê hy.
Die Nobelpryswenner en sielkundige Daniel Kahneman, se piek-eind-teorie dui daarop dat ons die pieke van die lewe onthou en dat dit die lewe sinvol maak. Deur positiewe ervarings en dinge te skep wat ons gelukkig maak, soos ons wenslysie, kan ons meer pieke en gelukkige herinneringe skep en ‘n meer vervulde lewe he. Ons almal het doelwitte, ambisie en drome in ons lewens nodig. Om Mount Everest of een van die mooi berge in ons land te gaan uitklim, ‘n oorsese land te besoek, ‘n “rock” konsert te gaan bywoon, ‘n musiekinstrument te leer speel, saam met dolfyne te swem, met eksotiese diere te teel, ‘n boek of ‘n liedjie te skryf en uit te gee, ons almal het ‘n wenslysie of “bucket list” wat iewers in ons agterkop is. Sommige daarvan kry ons uitgevoer en ander bly maar net drome.
In die 2007 rolprent The Bucket List waarin Jack Nicholson en Morgan Freeman gespeel het, kom twee terminale siek mans uit verskillende agtergronde agter dat hulle drie dinge in gemeen het. Die eerste is dat hulle albei sterwend is, die tweede dat hulle moet vrede maak met wie hulle is en wat hulle in hul lewens gedoen het en die derde is dat hul ‘n lys opstel van dinge wat hulle wil sien en doen voordat hulle doodgaan. (of soos hulle dit noem die emmer skop) Hulle stel dan die lysie op voordat hulle doodgaan en leef dit dan uit. Hierdie film het baie mense inspireer om ook so ‘n lysie op te stel.
Baie mense het wenslysies, maar nie almal kom daarby uit om hul wense waar te maak nie. Inspirasie en aksie is al wat tussen jou droom en die verwesenliking daarvan staan. Hier is ‘n paar wenke en idees:
Wenke:
- Wees realisties maar droom groot. Visualiseer jouself wat jou droom uitleef, byvoorbeeld visualiseer jouself in die land wat jy graag wil besoek of besig om die musiekinstrument te speel wat jy graag wil bemeester.
- Steek jou tone buite jou gemaksone en ontmoet die wonderlike wereld daar buite Dit voel altyd vreemd en ongemaklik om uit jou gemaksone te beweeg, maar dit is deel van die proses van groei.
- Beplan en gaan oor tot aksie.
Idees vir jou wenslysie:
Lesers het op ‘n mini-opname op Faceboek met die volgende idees vorendag gekom: (wil anoniem bly)
Individue:
“Gaan toer in die buiteland, veral Skotland” (Janet*, 30 jaar oud)
“Ek wil vreeslik graag ‘n kursus volg in troeteldier-gedragsterapie en ‘n loopbaan daarvan maak na my aftrede. Ek wil ook graag net een keer ‘n groot vragmotor self bestuur vir so tien kilometre. En ek wil daardie groot roman klaar skryf. (*Estelle, 47 jaar oud)
“Die ‘Camino de Santiago’ of ‘Weg van St Jakobus’ in Spanje aanpak. Dit is ‘n afstand van 800 km deur die Spaanse platteland in twee maande. Volgens legende was hierdie Jakobus se sendingroete en is hy by die eindpunt begrawe. (*Kirsten, 45 jaar)
“Weer ‘n 21 kilometer halfmaraton doen”, wat ek al voorheen gedoen het. *Tessa, 42 jaar oud)
“Ek wil op ‘n outydse seerower-tipe skip ry, Franse roosterbrood in Frankryk eet en Disneyland toe gaan” (*Hannes, 20 jaar oud)
“Valskerm spring” (*Lida, 51 jaar)
“Gaan inkopies doen in Dubai en ook ‘n draai in Egipte gaan maak om die piramides te sien” *Ansie, 43 jaar.
“Ek wil leer om ‘n nuwe taal praat soos Frans of Duits. (*Anita, 60 jaar oud)
“‘n Skryfkursus te gaan doen. Ek wil graag gedigte skryf en dit eendag publiseer” – *Estelle, student)
“Ek wil ‘n vryskutfotograaf word” (* Wessel, 29)
“Ek wil fiks word en 20 kilogram verloor (*Natasha 32).
“Ek wil boogskietklasse en scuba-duiklesse begin en leer hoe om dit te doen (*Tiaan, 18)
“Ek wil in ‘n warmlugballon gaan vlieg (*Wilma, 24)
“Ek wil die lotto wen en dan iets goeds doen vir ander sonder om enigiets terug te verwag. (*Pieter, 50)
“Ek wil gaan vir ‘n “oordoensessie” (make-over). Haarstyl, haarkleur, nuwe grimering, klerekas en miskien selfs botox, vullers of plastiese chirurgie. (*Magda, 49)
Idees vir Tieners:
Wees ‘n uitruilstudent in ‘n ander land
Maak ‘n ete vir jou ouers en gesin
Kry ‘n vakansiewerk en spaar vir ‘n oorsese reis
Leer om te bestuur
Doen iets waarvoor jy bang is soos as jy byvoorbeeld bang is vir hoogtes, gaan ry die groot wiel (“big wheel”) by die pretprark.
Verander jou haarstyl of klerestyl.
Idees vir Paartjies
Sing ‘n duet by karaoke of nog beter, laat neem die liedjie professioneel op.
Hardloop saam ‘n resies (begin met 5 km) of ry saam ‘n fietswedren.
Klim saam ‘n berg of doen ‘n uitdagende wandelpad soos die Otterwandelpad of Golden Gate in die Vrystaat.
Gaan besoek saam ‘n nuwe bestemming.
Neem saam danslesse, leer die tango of cha-cha dans.
Ry saam perd op die strand en laat neem foto’s daarvan.
Hernu jul huweliksbeloftes. Doen dit iewers romanties, soos op die strand of iewers in die natuur.
Gaan saam op ‘n bootreis.
Die sielkunde agter die “Bucket List”
Volgens die stigter van Positiewe Sielkunde, Martin Seligman, is een van die hoofbeginsels van geluk om die “goeie lewe” te lewe, wat bereik word deur ‘n kombinasie van faktore wat vir ons van waarde is. In sy teorie van geluk, is om “iets te bereik” ‘n fundamentele faktor om vervulling te bereik. Deur doelwitte en iets om na streef soos ‘n wenslysie te hê, dryf ons positiewe emosies en gee ons hoop vir die toekoms, terwyl vorige prestasies ons selfvertroue gee om toekomstige doelstellings te kan bereik.
Sielkundige Abraham Maslow was ook een van die vyf vaders van positiewe sielkunde en hy het voorgestel dat dit van kardinale belang is om vervulling en persoonlike groei te ondervind om ‘n gelukkige lewe te hê .
“Dr. Geluk” Ed Diener (2015) stem ook saam dat om genotvolle herinneringe te he ‘n belangrike “bestandeel” vorm vir geluk. “Deur doelwitte, drome, ambisie en om te werk na ‘n sekere rigting toe, gee ons lewens doel. Dit keer ons om te dryf deur die lewe en net te droom van wat kon gewees het maar nooit aksie neem nie.
Jy is nooit te oud nie
Daar is talle voorbeelde van mense wat eers laat in hul lewens “blom” of uit die bloute uit skielik hul talente begin gebruik en ‘n sukses daarvan maak. Toe Susan Boyle op die verhoog van “Britain’s Got Talent” gestap het, het die mense en beoordelaars nie te veel verwag nie. Haar persoonlike voorkoms is beskryf as outyds en vaal. Toe sy egter begin sing het, het die kameras die skok en verassing op die gesigte van die beoordelaars en die gehoor vasgelê en het sy ‘n staande applous van die gehoor ontvang. Daar skuil in baie van ons ‘n klein bietjie van Susan Boyle, versteekte talente wat eens ontwikkel het en toe versteek en vergete geraak het omdat die lewe met ons gebeur het. Pablo Picasso het gesê dat elke kind ‘n kunstenaar is, maar dat die probleem is hoe om daardie kind ‘n kunstenaar te laat bly wanneer hy groot word.
Die wêreld se oudste ma is Rajo Devi Lohan wat in 2008 op 69 geboorte geskenk het.
Raymond Calvert, 79, was verheug toe hy in 2010 pa geword het.
‘n 80-jarige Japanese bergklimmer, Yuichiro Miura, het die hoogste punt van Mount Everest reeds drie keer bereik, op die ouderdomme 70, 75 en 80. Na die laaste klim het hy glo gesê dat hy dink drie keer genoeg is.
Bertha Wood, gebore in 1905, se eerste boek, Fresh Air and Fun: The Story of a Blackpool Holiday Camp is op haar 100ste verjaarsdag gepubliseer in 2005.
John Glenn het geskiedenis gemaak om op die ouderdom van 77, die ouste persoon wat in die ruimte reis, te word.
Op 96, het die Suid-Afrikaner Mohr Keet die oudste bungee jumber geword.
Die oudste manlike en vroulike Oscar wenners is Jessica Tandy, op die ouderdom van 80, en Christopher Plummer, op die ouderdom van 82.
Die oudste persoon om ‘n bestuurslisensietoets te slaag is Lord Renton, wat dit kort voor sy 95ste verjaarsdag geslaag het.
Dr Leila Denmark , ‘n Amerikaanse pediater het steeds gewerk tot en met haar aftrede op die ouderdom van 103. Daarna het sy 114 jaar oud geword.
*skuilname
Addisionele bronne:
(Bron: https://www.nia.nih.gov/)
Diener, E (2015). History of happiness/ed-diener Retrieved from http://www.pursuit-of-happiness.org/history-of-happiness/ed-diener/
Jefferson, T (2015) Retrieved from http://www.brainyquote.com/quotes/quotes/t/thomasjeff120994.html
Kahneman, D (2010). The riddle of experience vs memory. Retrieved from https://www.ted.com/talks/daniel_kahneman_the_riddle_of_experience_vs_memory
McLeod, S. A. (2007). Maslow’s Hierarchy of Needs. Retrieved from http://www.simplypsychology.org/maslow.html











