Verlig stres op die natuur se manier.

“Ek het net eenvoudig te veel verpligtinge, sperdatums wat gehaal moet word, ‘n gejaagde lewe, ‘n werk, kinders wat huiswerk moet doen, waarmee jy hulle moet help.  Boonop moet die kinders ook rondgery word en ek moet lang ure in die verkeer deurbring, sê *Annette du Plessis, ‘n sakevrou en ma van 2.

“Benewens dit, moet ek ook nog my huishouding aan die gang hou. Ek sukkel amper elke dag met seer spiere, hoofpyne, slapeloosheid, ‘n slegte bui en ek voel net eenvoudig nie lekker nie. Voordat ek my kon kry, haal ek daardie kalmeerpilletjies of kopseerpille uit my handsak.  En dit begin nou ‘n gewoonte raak.  Ek weet dit is nie die oplossing nie en dat al hierdie stres my op die lang termyn nie gaan goed doen nie.  Wat kan ek doen om van al hierdie stres ontslae te raak en elke dag meer kalm en rustig te voel? wonder Annette

Verkeer jy onder stres?  Vergeet van die kalmeerpilletjies, probeer eers Moeder Natuur se medisyne teen stres.

Oefening

Volgens die Mayo Kliniek kan fisiese oefening jou gevoel van welsyn verbeter deur die vrystelling van endorfien en ander neurale chemikalieë, wat jou laat goed voel. Oefening kan ook jou gedagtes herfokus op jou liggaam se bewegings,  wat jou bui kan verbeter en help om die dag se irritasies te laat verdwyn.  Oorweeg stap, draf, tuinmaak, huis skoonmaak, fietsry, swem, gewigoptel, joga of enigiets anders wat jou oefening laat kry en meer aktief maak.

Bome en ander plante bring balans

Navorsers het bevind dat ‘n chemiese stof wat vrygestel word deur vars gesnyde grasperke, bome, struike en ander plante mense laat gelukkig voel.  Dit laat ons meer ontspanne voel en kan selfs geestelike agteruitgang voorkom as ons ouer word. Dit wil voorkom asof die chemikalieë wat vrygestel is deur plante ‘n direkte invloed op die menslike brein het, in die besonder die amigdala en hippokampus wat te doen het met emosies en herinneringe.  ‘n Parfuum is selfs in 2009 ontwikkel om te kapitaliseer op hierdie voel-goed faktor. Dit het die reuk van ‘n vars gesnyde grasperk en dit het regtig geblyk om stres te verlig en geheue te versterk. Die reuk is Serenascent genoem, en is ontwikkel deur ‘n span kundiges onder leiding van dr Nick Lavidis, ‘n neurowetenskaplike aan die Universiteit van Queensland.

Wenk:  Besoek ‘n park en gaan hou piekniek.  Deur tyd buite deur te bring, is goedkoop en lekker.  Onthou om ‘n entjie te gaan stap om lekker te ontspan en die vars lug te geniet.

Groen spasie – Ervaar die helende effek van ‘n woud

“Baie mense voel ontspanne en goed wanneer hulle in die natuur is,” sê dr Eeva Karjalainen, van die Finse Woudnavorsingsinstituut, Metla. (Finnish Forest Research Institute (Metla).

Maar nie baie van ons weet dat daar ook wetenskaplike bewyse oor die helende uitwerking van die natuur is nie.  “Woude – en ander natuurlike, groen plekke  – kan stres verminder, buie verbeter, woede en aggressie verminder en die algehele geluk verhoog.  ‘n Japannese studie wat gepubliseer was in die Januarie 2010 uitgawe van “Environmental Health and Preventative Medicine” het die effek van woudbad/woudheling (“forest bathing”) ondersoek.   Die Japanse woord daarvoor is Shinrin-yok.  Die webwerf www.shinrin-yoku.org/  beskryf dit as ‘n ligte/matige (“gentle”) begeleide staptog wat wat welstand ondersteun, deur die sensoriese onderdompeling in woude en ander natuurlike genesingsomgewings. .Navorsers het die effek van stap in ‘n woud en in stedelike gebiede by 280 jong volwassenes ondersoek.   By die stappers in die woud, het hulle laer bloeddruk, polsspoed en konsentrasies van kortisol, ‘n hormoon wat afgeskei word gedurende stresvolle tyd, gevind.  Die studie se navorsers het die ontwikkeling van ‘n “woudmedisyne” navorsingsveld voorgestel, om gebruik te word as voorkomende medisyne.

Wenk:  As jy nie na die natuur kan gaan nie, bring die natuur na jou toe.   Plante in jou kantoor, huis en tuin, prente van die natuur op jou rekenaar of in jou huis, deur te luister na natuurgeluide op ‘n CD of rekenaar terwyl jy werk,  ‘n waterfokuspunt en/of mooi klippies in jou tuin of huis sal alles help om rustigheid en kalmte te skep.

“Daar is niks wat my so lekker laat ontspan na ‘n harde dag se werk, as om in die tuin te werk nie, sê *Pieter, ‘n mediese verteenwoordiger.

Blou spasie – water bring rustigheid.

Die meeste van ons besef die kalmerende effek van ‘n wandeling langs die rivier of die see. Victoriaanse dokters het die “seelug” voorgeskryf as ‘n kuur vir ‘n verskeidenheid van kwinte en kwale.  Terwyl die gesondheidsvoordele van “groen spasie” welbekend is, is relatief min analises reeds gemaak oor “blou spasie” – die impak van die see, riviere, mere en selfs stedelike waterfokuspunte op ons gesondheid en welstand.

“Die top tien oorsake van dood in die wêreld kan óf veroorsaak of vererger word deur stres, sê  Wallace J. Nichols, ‘n mariene bioloog en skrywer van die boek Blue Mind: The Surprising Science That Shows How Being Near, In, On, or Under Water Can Make You Happier, Healthier, More Connected, and Better at What You Do.  Hy is van mening dat ons almal ‘n “blou bewustheid” (“blue mind” ) het,  soos wat hy dit stel.  Hy beskryf dit as ‘n effens meditatiewe toestand wat gekenmerk word deur kalmte, rustigheid, eenheid, en ‘n gevoel van algemene geluk en tevredenheid met die lewe in die oomblik, wat veroorsaak word wanneer ons in of naby water is . Wanneer ons by water is, is ons brein in ‘n toestand wat Nichols ‘n matige oplettendheid/aandagtigheid noem (‘n sagte bekoring, soos hy dit stel).  In hierdie toestand is die brein geïnteresseerd en betrokke by die water en neem sensoriese insette in, maar word nie afgelei deur ‘n oorlading van dit, soos wat kan gebeur met die meer “harde vermaak / bewustheid / aandagtigheid”, wanneer ons ‘n aksiefilm kyk of ‘n videospeletjie speel nie.

Om in ‘n bewuste toestand te wees,  waar die brein ontspanne maar gefokus is,  is tot voordeel van die gees en liggaam op ‘n aantal van verskillende vlakke. ‘n Groeiende liggaam van navorsing het talle voordele wat verband hou met volbewustheid (“mindfullness – aandagtigheid) gevind.  Dit sluit in laer stresvlakke, verligting van ligte angs, pyn en depressie, verbeterde verstandelike helderheid en fokus, en ‘n beter slaapkwaliteit.

As jy op soek is na ‘n eenvoudige manier om te ontspan, probeer die volgende: drink ‘n glas water.
Klink dit te maklik? Die verband tussen water en stresvermindering is goed gedokumenteer. Al ons organe, insluitend ons brein, het water nodig om behoorlik te funksioneer. As jy ontwater is, lei jou liggaam daaronder – en dit kan lei tot stres.

Sonlig en serotonien

Terwyl te veel warm strale van die son skadelike kan wees vir jou vel, kan die regte balans baie voordele hê ten opsigte van die verbetering van jou bui, volgens die webwerf www.healthline.com.

“Sonlig en duisternis/donkerte aktiveer die vrystelling van hormone in jou brein. Daar word geglo dat sonlig die brein se vrystelling van die hormoon serotonien verhoog. Serotonien hou verband met die verbetering van ‘n mens se gemoedstoestand en help ‘n persoon kalm en gefokus voel.  Snags, aktiveer die donkerder beligting die brein om ‘n ander hormoon melatonien vry te stel. Hierdie hormoon is verantwoordelik daarvoor om ‘n persoon slaperig te laat voel en te laat slaap.   Studies het ook gewys dat daar ‘n verband bestaan tussen lae vlakke van vitamien D en depressie.   (Bevindinge van een van hierdie studies het verskyn in Mayo Clinic Proceedings).

Haal jou mooi teekoppies uit die kas, maak ‘n koppie tee, vat ‘n breek en ontspan ‘n bietjie

Verskeie wetenskaplike studies het bewys dat stresverligtende tee kan help om die streshormone terug te bring na normale vlakke.

‘n Onlangse studie deur Atsushi Hozawa van die Tohoku University Graduate School of Medicine, wat uiteengesit is in ‘n aanlyn publikasie van die American Journal of Clinical Nutrition, het getoon dat as jy vyf koppies groen tee per dag drink, jy die voorkoms van sielkundige nood (“distress”) met tot 20% kan verminder.  ‘n Studie wat bestaan uit 42 093 Japanese individue het bevind dat 2774 mense (ongeveer 6,6%) slagoffers van sielkundige stres was. Maar hierdie getal (voorkoms van sielkundige stres) was aansienlik laer onder groen tee drinkers, wat daarop dui dat groen tee eintlik ‘n mens se sielkundige gesondheid kan verbeter.  Kamilletee kan ook kalmerend wees en ten minste een studie het bevind dat kamille aanvullings ook kan help om angs te verlig.  Dit kan ook help indien jy sukkel om te slaap.  Pepperment, ginseng en lavendertee kan ook help om jou kalmer te laat voel.  Lavender kan ook gebruik word om jou huis mee te versier en kan bydra tot ‘n rustige en kalm atmosfeer.

Troeteldier-terapie                                       

Of jy nou ‘n hond streel, kyk hoe jou katjie speel of kyk na visse wat in ‘n vistenk swem, dit kan dalk die teenvoeter vir ‘n slegte bui of uitputtende dag wees.  Navorsing het gewys dat hartaanvalslagoffers wat troeteldiere het, langer leef.  Om selfs net te kyk na tenk vol tropiese visse, kan selfs jou bloeddruk tydelik laat daal.  ‘n Studie van 92 pasiënte in die hospitaal in koronêre sorgeenhede vir angina of hartaanvalle, het bevind dat diegene wat troeteldiere besit, meer geneig was om ‘n jaar later nog te leef as diegene wat nie troeteldiere gehad het nie.   Die studie het gevind dat slegs 6 persent van pasiënte wat troeteldiere besit het, binne een jaar oorlede is, in vergelyking met 28 persent van diegene wat nie troeteldiere besit het nie.

Die terapeutiese gebruik van troeteldiere as metgeselle het toenemend aandag gekry die afgelope aantal jare vir ‘n wye verskeidenheid van pasiënte, wat insluit diegene met MIV/VIGS of kanker, bejaardes en diegene met geestessiektes.

*skuilnaam

Addisionele bronne:

http://www.applewoodscientific.net/magic-trees-true-tree-facts/

https://www.sciencedaily.com/release10/07/100723161221.htm

http://www.prevention.com/mind-body/emotional-health/spending-time-outside-relieves-stress

http://www.webmd.com/diet/features/water-stress-reduction#1

http://www.huffingtonpost.co.za/entry/mental-benefits-water_n_5791024

https://www.theguardian.com/sustainable-business/impact-sea-lakes-rivers-peoples-health

http://www.huffingtonpost.co.za/entry/mental-benefits-water_n_5791024

http://www.healthline.com/health/depression/benefits-sunlight#Overview1

https://adrenalfatiguesolution.com/green-tea-can-relieve-stress/

http://www.ahealthy.us/top-10-stress-relieving-teas/

http://www.essenceofstressrelief.com/herbal-stress-relief.html

http://healthyliving.azcentral.com/hiking-can-relieve-stress-1001.html

http://www.mayoclinic.org/healthy-lifestyle/stress-management/in-depth/stress-relievers/art-20047257

http://www.holisticonline.com/stress/stress_pet-therapy.htm