Die beste geskenke wat jy vir jouself kan gee.

‘n Gelukkiger Lewe:  Die beste geskenke wat jy vir jouself kan gee

Gedurende die feesseisoen gee ons graag geskenke aan ander.  Gee nou die volgende geskenke aan jouself, nie net omdat jy dit verdien nie, maar om ook 2018 op ‘n positiewe noot aan te pak:

Leef in die hier en nou – Pas die beginsels van aandagtigheid in jou lewe toe

Ons verlede is buite ons beheer en so ook ons toekoms.  Dit is wat ons in die huidige oomblik doen wat ons toekoms gaan beïnvloed.

Om meer bewus te raak van die huidige oomblik kan ons help om die wêreld rondom ons meer te geniet en onsself beter te verstaan.

Volgens ‘n artikel op die webwerf van die Universiteit van Minnesota beteken aandagtigheid om op ‘n bepaalde manier aandag te skenk: doelbewus, in die huidige oomblik en nie-veroordelend.  Dit is die definisie van Jon Kabat-Zinn, bekende skrywer en stigter van die Stress Reduction Clinic aan die Universiteit van Massachusetts (wat byvoeg dat dit ‘n operasionele definisie is en ‘n paar aspekte van aandagtigheid uitlaat).  So eenvoudig as wat dit mag klink, verander/omskep aandagtigheid die wyse waarop ons gebeure en ervarings ervaar en hanteer.  Professor Mark Williams, voormalige direkteur van die Oxford Mindfulness Centre, sê dat dit belangrik is om direk te weet wat binne en buite onsself aangaan, oomblik vir oomblik.

Aandagtigheid help ons om teenwoordig in ons lewens te wees en ons ‘n mate van beheer oor ons reaksies en herhalende gedagtepatrone te gee.

Dit help ons om ‘n “breek” te vat,  ‘n helderder prentjie van ‘n situasie te kry en op ‘n meer “vaardige” wyse te reageer.  Daar is baie leesstof asook kursusse beskikbaar oor aandagtigheid.

Vergewe ander

Om te vergewe, word verbind met belangrike aspekte van fisiese en geestelike gesondheid.  Navorsing oor vergifnis en gesondheid, toon aan dat vergifnis in die algemeen positief geassosieer word met beter gesondheid in terme van die hart, hormone en immuunsisteem.  As jy chronies kwaad is, is jy in ‘n veg-of-vlug modus. Volgens die Johns Hopkins Geneeskunde-sentrum, kan dit gevolge hê vir bloeddruk en hartklop.  Maar wanneer jy werklik vergewe, lei dit tot verminderde stres, wat kan help om die woede te verminder.  “Om seergemaak en teleurgesteld te voel, kan lei tot ‘n enorme fisiese las vir ‘n persoon,” het Karen Swartz, direkteur van die Mood Disorders Adult Consultation Clinic by die Johns Hopkins-hospitaal, in ‘n verklaring gesê.

Deur vas te hou aan wrokke en ander (of jouself) nie te vergewe nie, is jy besig om jouself stelselmatig te vergiftig en siek te maak.  Jy moenie verbaas wees as jy depressief, magteloos, eensaam en baie ongelukkig gaan voel nie.  Jy gaan so besig wees om vas te hou aan wat jy dink jou reg is om aan te hou wroeg oor wat die ander persoon jou aangedoen het, dat jy geen energie gaan oorhê om enigsins op te staan en positiewe stappe in jou lewe te neem, weg te stap van die probleem en vorentoe te beweeg nie.  Waarom is dit so moeilik vir ons om te vergewe?  Dalk is ons te trots, wil nie net gelate aanvaar dat iemand anders ons te na gekom het nie.  Jy het dalk iemand vertrou en daardie persoon het jou in die rug gesteek.  Dit is menslik om te voel ons is geregtig op wraak.  Miskien laat dit ons voel ons is tog in beheer oor die situasie as ons nog ‘n wrok teen die ander persoon hou en onsself as ‘n slagoffer beskou. Dit is baie moeilik om te vergewe, maar om dit te doen, gaan jou bevry en die pad oopmaak vir jou geluk vorentoe.  Dit is ‘n besluit wat jy moet neem en ‘n proses wat jy moet deurgaan.  Skryf ‘n brief vir die persoon wat jou benadeel het en skeur dit dan op.  Jy kan ook met iemand gaan praat sodat jy net jou gevoelens kan deel.

“Toe ek die die deur uitstap na die hek wat na my vryheid sou lei, het ek geweet dat as ek nie my bitterheid en haat agterlaat nie, ek nog steeds in die tronk sal wees” “Nelson Mandela

Leer jouself beter ken

Een van die beste geskenke wat jy jouself kan gee, is om meer oor jouself te leer.

Dr. Meg Jay, ‘n sielkundige en skrywer van die boek The Defining Decade beveel aan dat ‘n mens belê in “identiteitskapitaal,” iets wat waarde toevoeg aan wie jy is en wie jy wil wees.

Sy beveel aan dat jy jouself die toestemming gee om ondersoek in te stel en regtig te leer ken wie jy is. Vind uit waarvan jy hou en nie hou nie. Dit sal jou help om jou standaarde en grense te stel, wat hopelik in lyn is met jou waardes, sodat jy die lewe kan skep wat jy wil hê.
Langs die pad kan jy vind dat dinge verander. En dit is goed. Dit is natuurlik. As jy dit doen, herken dit en wees bewus van jou daaglikse handelinge soos wat jy aanpas by die persoon wat jy besig is om te word.

Vind jou lewensmissie (as jy nog nie het nie)

Die skrywer Maya Angelou het gesê:  “My missie in die lewe is nie net om te oorleef nie, maar om te floreer en dit te doen met passie, deernis, ‘n bietjie humor en ‘n bietjie styl.  Weet jy wat jou lewensmissie is?  Wat wil jy graag doen met jou lewe?  Wat maak jou gelukkig, wat is jou sterk en swak punte, wat wil jy graag bereik?  Wat is die doelwitte wat jy graag wil bereik en hoe gaan jy daarby uitkom?  Wat is jou talente?  Waar is ek huidiglik? Waar wil ek graag wees? Wat moet ek doen om die gaping te oorbrug?   Dit is soms moeilik om jou lewensmissie te vind.   ‘n Lewensafrigter kan jou behulpsaam wees.  Daar is ook goeie boeke oor die onderwerp wat jy kan lees.

Waag dit buite jou gemaksone             

Reeds in 1908 het die sielkundiges Robert M. Yerkes and John D. Dodson verduidelik dat ‘n toestand van relatiewe gemak ‘n bestendige vlak van prestasie skep.  Om maksimum prestasie te verkry, het ons ‘n toestand van relatiewe angstigheid (“relative anxiety”) nodig.  Dit is ‘n toestand waar ons stresvlakke effens hoër as normaal is nodig.  Hierdie  toestand van relatiewe angstigheid word Optimale Angstigheid genoem en dit is net buite ons gemaksone.  Te veel angstigheid lei daartoe dat ons te veel stres ervaar om produktief te wees en ons prestasie sal dan drasties afneem.

Mense is dikwels bang om uit hul gemaksone te beweeg.  Hulle voel veilig om dinge te doen wat aan hul bekend is.  Hulle stagneer dikwels wanneer hulle ‘n sekere inkomste of ‘n sekere status in hul werk behaal het.  Hulle wil hulself nie blootstel aan nuwe ondervindings wat moontlik stres of onsekerheid sal meebring nie.  Om egter meer uit die lewe te verkry, moet hul hulself in onbekende omstandighede plaas.  Vrees vir mislukking en wat ander mense van hulle dink hou hul dikwels terug.

Doen iets wat jy nog nooit tevore gedoen het nie , maar nog altyd graag wou probeer.  Doen dit wat jy al lankal oor droom, maar nog altyd te bang of onseker was om te probeer doen.  Jy is nooit te oud om iets nuuts te probeer nie, dit is een van die grootste mites wat bestaan.   (Skilder, gaan vir brandderry of skubaduiklesse, raak fiks en neem deel aan stap of drafbyeenkomste, raak betrokke by ‘n liefdadigheidsorganisasie of organisasie wat vrywilligers nodig het om hulle te help)

Bronne:

http://www.huffingtonpost.co.za/entry/forgiveness-health-benefits_n_6029736

http://www.npr.org/books/titles/150419127/the-defining-decade-why-your-twenties-matter-and-how-to-make-the-most-of-them-no#excerpt

http://www.euro.who.int/en/health-topics/disease-prevention/nutrition/a-healthy-lifestyle

https://www.psychologytoday.com/blog/fulfillment…/live-longer-practicing-forgiveness

(bron:  http://psychclassics.yorku.ca/Yerkes/Law/)

Universiteit van Minnesota