Parradors

ANSJA FERREIRA
09:01 Mon, 07 Oct 2013

Ansja Ferreira het die voorreg gehad om haar ma se kleintydherinneringe neer te skryf. “Daar was geen tuin en geen elektrisiteit nie, maar die werf van Parradors was besaai met ou motors en stukkende plaasimplemente, en hoenders, honde, katte, kalkoene, kinders en wit waaierstertduiwe het jou ingewag as jy daar aankom. Wat ‘n paradys vir enige kind!”

(my ma Margie se herinneringe aan haar kleintyd soos aan my oorvertel)

“Dadda, Dadda, ek het nie plek om te sit nie!, het ek benoud geskreeu.

“Girlie, klim hier op die lorrie se staanplek buite die deur. Dadda sal jou vashou”.

Dit was 1953 en ons trek was gepak, die lorrie vol gelaai met meubels, honde, vrouens, hoenders, kinders en toe ons oor die bultjie ry, het Dadda sy arm om my gehou en ek het op die trap van die lorrie gestaan terwyl ons na ons nuwe tuiste ry…

Ons het uitgeklim en die plek aanskou en ons was verheug, want ons kinders kon wegkruipertjie speel in die barste van die mure.

Ons was tuis, tuis op Parradors. Parradors is op ‘n hoewe buite Bloemfontein, in die buurt bekend as Olive Hill. Sy naam het hy gekry omdat daar geen water in die boorgate was nie. Daar was geen tuin en geen elektrisiteit nie, maar die werf van Parradors was besaai met ou motors en stukkende plaasimplemente, en hoenders, honde, katte, kalkoene, kinders en wit waaierstertduiwe het jou ingewag as jy daar aankom. Wat ‘n paradys vir enige kind!

Daardie aand het Dadda vir ons vleisgebraai en ons het later buite op matrasse gelê en die sterrehemel bekyk. Die inwoners van Parradors was die James Broers, dit was my pa Bob en sy jongste broer John, se besigheid se naam. Hulle was besigheidsvennote en het hul vennootskap so ernstig opgeneem, dat hulle in dieselfde huise gebly het, met hulle vrouens en nege kinders. Ons was vier kinders en hulle was vyf kinders.

My oudste neef het die huis in twee gedeel en die toilet was aan hulle kant van die huis. Wanneer ons onder mekaar baklei het, dan mag ons nie na hulle kant van die huis toe gaan nie! Dan is dit bossies toe as die nood roep.

“Die Broers” het ‘n elektriese ligtewinkel gehad en my pa-hulle het op die skou ook uitgestal, dit was die lekkerste tye want dan het ons elke dag skou toe gegaan, en sommer in die bakkie geslaap!

Dadda was die goedheid vanself en ons het nooit swaargekry of soos ander mense in die omgewing ‘n gebrek aan kos of klere gehad nie. Hy was baie lief om van alles “’n ding” te maak. ‘n Gewone Sondag by ons het altyd geëindig met pakke lekkers, heerlike kos en lekker eet. Hy was in standerd nege toe hy hom vererg het vir sy onderwyser en hom ‘n vuishou toegedien het, waarna hy uit die skool geskors is. Hy was ook in die tweede wêreldoorlog in Kaïro waar hy in die lugmag as elektrisiën gewerk het. Toe hy na ses jaar terugkom van die oorlog af en voor my ma se huis staan, het my broer Denny vir my ma gesê: “Daars ‘n man met ‘n lang jas voor ons deur”. Hy het sy pa nie herken nie.

My ma was altyd stil en op haar plek, ‘n regte engel, en ek het haar baie min kwaad gesien. Daar was een lekkerte in my lewe, dit was my ouma Martha Jacomina, wie se naam ek ook gekry het. Ek was haar witbroodjie.

“Daar is ek en ouma”, het ek altyd gesê. “Kyk na die maan, daar’s jy en ouma, ons sit in die maan”. So het ouma altyd gesê as sy kom kuier.

Ouma en Oupa het ‘n dorpshuis in 7de Laan, Melville gehad en hier is ek en my sussie albei gebore. My oupa en ouma het ‘n plaas net buite Johannesburg gehad met die naam Sandspruit. Ons het met my oupa se swart Mercury gery na die plaas toe en vir al die diere kos saamgeneem. Die kar het altyd na kool geruik.

Toe het my pa en sy broers vir my ouma hulle ‘n groot huis van klip gebou op die plaas Sandspruit en het hulle van die dorp af plaas toe getrek. Daar het ons wonderlike tye beleef. Elke Kersfees het al die kinders Sandspruit toe gegaan, Ouma het altyd lank voor die tyd lekker eetgoed gemaak en vir die kersete het sy altyd tiekiepoeding gemaak en ‘n groot kersboom gehad met liggies. Oukersaand het ons geskenke gekry. Ouma het na oupa se dood baie by ons kom kuier op Parradors. Dan het sy ons vir ure besig gehou met al haar grappies en stories.

Sy het ons altyd vertel van haar huwelik met oupa, ‘n gewese diamantdelwer. Sy het met hom getrou toe sy net 19 jaar oud was. Hy kon nie eintlik Afrikaans praat nie. Hy was ‘n Engelsman wat in Wallis gebore is en boonop ‘n wewenaar met 5 kinders. Die jongste was net 6 maande oud. Sy kinders was baie verwaarloos en sy het hulle op haar huweliksnag geskrop en kopluise uit hulle koppe gekam. Sy het ook altyd gesê, nege maande en ‘n dag daarna was Bob (my pa) daar. ‘n Staaltjie wat sy ook lief was om te vertel was toe sy getrou het, het haar pa Jurie, haar meubels en ander goedjies vooruit gevat, na die sinkhuisie, waar sy en oupa sou gaan bly. Toe sy en oupa nader aan die sinkhuisie kom, sien sy haar pa het groot op die huisie geskryf: “Martha my kind kom huistoe!” Maar sy het gebly.

Nog iets wat ek onthou, is dat hulle kar eendag vreeslik gekook het, en al wat hulle gehad het was slap mieliepap wat hulle in die kar ingegooi het. Toe kook die pap gaar en die pap spat toe uit op hulle!

Ouma het my geleer om tuin te maak. Sy het my geleer van plante se name en steggies groei – sy was baie lief vir Malvas – en het orals steggies gevra of “gesteel”. Ouma het ook baie gehekel en gebrei. Sy het haar eie kruiemedisyne aangemaak en ons kom dokter as ons siek was. Sy het vertel hoe sy as klein dogtertjie die konsentrasiekamp oorleef het te danke aan die Lennons-medisyne wat haar ma ingesmokkel het en vir haar ingegee het.

Ouma was vol verrassings. Sy het lang blonde hare gehad wat sy gesweer het nie bottelblond was nie, maar toe sy sterf, het hulle ‘n botteltjie perioksied onder haar bed gevind!

Gepubliseer op OFM Yellow Door