Hoenders, hase, die skou en kinders

ANSJA FERREIRA
20:38 Fri, 06 Sep 2013

Ansja Ferreira is mal oor hoenders, maar nou nie om hulle te eet nie.

Hoenders, hase, die skou en kinders kan mens grys hare gee. En nie noodwendig in daardie volgorde nie.

Veral as jou dogtertjie se hasie die peperduur vierjaar-oue Bonsai se blare opgevreet het, sodat net die kaal stammetjie soos ‘n geraamte oorbly. Die ergste is dat die bonsai nie myne was nie, maar my buierige en sensitiewe vyftienjarige tienerseun s’n wat hy aan my toevertrou het, terwyl hy by familie gaan kuier het gedurende die skoolvakansie. Voordat hy weg is het hy elke blaartjie van die delikate Chinese Mayflower Bonsai getel en my plegtig laat belowe om mooi na sy plantjie te kyk. Ek het soos die swakste ma op hierdie aarde gevoel.

Sulke goed gebeur wanneer die haashokkie reggemaak word en die hasies tydelik in ‘n plastiekhouer met ‘n sifdraad oor langs die bonsai’s en orgidees gehou word, veilig op ‘n rak waar die katte hulle nie kan bykom nie. Niemand het my gewaarsku dat ‘n hasie so goed kan ontsnap nie en deur sifdraad kan breek nie. Maar nou ja, die vrou by die kwekery het vir my ‘n botteltjie met bonsaivoeding gegee wat die gestroopte, verwese bonsai binne ‘n paar maande weer sal laat uitloop met nuwe blare. Voordat my seun teruggekeer het, het ek ten duurste ‘n nuwe bonsaiboompie by die kwekery gaan koop. Hy weet natuurlik nie wat gebeur het nie en dink dit is sy boompie. Die gestroopte enetjie het ook intussen ‘n paar nuwe blaartjies gekry. Ek steek hom nou weg agter die orgidees. Ek verstaan steeds nie waarom die hasie die kleurvolle en groter orgidees geïgnoreer het om eerder die vaal en kleiner bonsai op te eetnie.

Miskien het dit te doen met die natuur waar kleurvolle en helder goggas en plante dikwels giftig is en die diere dit instinktief weet. Dit maak nou nie meer saak nie, ek is net bly die hasie is nou in sy hok in die tuin waar hy hoort.

My gunsteling diere is beslis hoenders. Hoenders is pragtige, intelligente en interessante diere en elkeen het sy of haar eie persoonlikheid. My ouma Annie het op ‘n plot gebly en daar het ek die eerste keer met hoenders te doen gekry. Ek het altyd hoenders. Dit was ‘n koue Mei-maand in 2007 toe ek en my man, Eugene, sak en pak skou toe is met baba Kaylah en die twee seuntjies. In die pluimveesaal was daar toe die pragtigste donserige kuikens en my seuntjie Tristan, toe so sewe jaar oud, het my gevra of hy ‘n paar kan kry. Na wik en weeg sê ek toe ja, hy kan maar tien kry, want ek weet die goed is baie pieperig en as net enetjie oorleef, sal ons gelukkig wees. Hy kies toe die pragtigste bont Venda-koekoekkuikens en ‘n paar Rhode Island Reds. Ek was natuurlik nie voorbereid op die kuikens se koms nie en ons gaan haal toe ‘n liglampie by my ma en sit die spul in ‘n boks met fynmielies en water. Ons moes gereeld een uit baba Kaylah se vet handjies red, terwyl sy hom probeer dooddruk uit liefde uit. Hulle het ook ‘n paar keer uit die boks uit ontsnap en die huis vol geloop. En raai wat, die hele spul het oorleef en gegroei tot die pragtigste groot hoenders, Tristan het van hulle verkoop aan ‘n boer en ‘n wins gemaak. Ek het ook foto’s van die besondere hoenders geneem en een van die foto’s het selfs verkoop op Big Stock Photos.

‘n Paar jaar later het ek weer skoukuikens gaan koop, maar hierdie keer was dit ‘n fiasko. Ondanks my beste pogings om lig, hitte, kos en water te voorsien, het hulle een vir een omgedop en gevrek. Eers het hulle gegaap en toe gehoes soos mense en dan doodeenvoudig gevrek. Ek het veearts toe gebel en die veearts het uitgebars van die lag. Hy het gesê baie van die skouhoenders van daardie jaar was besmet met ‘n respiratoriese kiem waarvoor antibiotika in poeiervorm, wat ek in hul drinkwater moes sit, die oplossing sou wees om die bedremmelde oorlewende kuikens te probeer red. Ek het die wit poeier gaan haal en sorgvuldig aangemaak volgens die voorskrif en daarna die kuikens een vir een opgetel en hul bekke in die water gedruk om te drink. Binne ‘n dag het die spul so verbeter dat hulle dit almal verder gemaak het. Maar ek het besluit dit is die laaste keer wat ek met kuikens gaan sukkel, want ek het nou genoeg van hulle gehad.

Ons het net een van die groot hane gehou, saam met twee hennetjies vir hom. Ek het ook kapokkies bygekry. Hoekom weet ek nie. Twee jong kapokhaantjies het op ‘n dag die Vendahaan gepak en hom amper doodgemaak, hulle wou die dominante hane in die kamp wees. Ek het die arme Vendahaan opgetel, hom water gegee en hom op ‘n beskutte plekkie in die tuin gaan neersit, weg van die ander hoenders in hul kamp. Daar het hy vir drie dae net so gebly lê, net water gedrink wat ek vir hom neergesit het, op die derde dag het hy begin mieliepitte eet. Mens kon sien sy hele wese is gekrenk en verneder, van die eens trotse, flambojante Vendahaan het niks oorgebly nie. Hy het sy lus vir die lewe verloor.

Ek en my laatlam, Larissa (toe een jaar) het elke dag vir hom broodkorsies en spesiale happies geneem, maar hy het baie sleg gelyk, ‘n skaduwee van sy ou self. My man het my belet om hom in die huis te bring, hy het geweet hy sal iewers ‘n streep moet trek. Ek het elke oggend gaan kyk en verwag hy gaan dood lê in die tuin, maar stadig maar seker het hy sy kragte herwin en op ‘n dag merk ek hom al hinkend en pinkend op na my toe hardloop toe ek uit die huis uit kom. As ek my kar stop voor die hek, dan kom hy aangehardloop. Toe die polisieman my kom sien oor die vuurwapenlisensie, storm hy toe die polisieman en hinke pink ook al agter hom aan. Ek was later bang hy arresteer die hoender. So ook die dominee en alle kuiermense wat ons kom besoek. Toe ek die voordeur een oggend oopmaak, staan hy daar vir my en wag. En toe ek my kardeur oopmaak, spring hy in. As hy ‘n kans kry, stap hy in die huis in. Net daar kry hy die naam Evil Chicken. Een aand gaan ons gym toe en met die uittrek van die kar, hinkepink Evil Chicken tot in die straat agter ons kar aan, maar ons sien dit nie raak nie. Toe ons die volgende oggend die hek gaan oopsluit, staan Evil Chicken reg voor die hek en wag om ingelaat te word. Geen buurthonde of katte of aankomende verkeer het hom laat onderkry nie. Hy weet waar sy huis is. Ek weet nie hoe oud hoenders kan word nie, maar Evil Chicken is nou al 10 jaar oud.

Twee van my kinders, Anco (18 jaar) en Kaylah (8 jaar) is hiperaktief en het aandagafleibaarheidsindroom. Ek het nooit geglo dat daar so iets bestaan nie en het gedink dit is net ‘n modewoord en klomp nonsens. Nadat ek self daarmee te doen gekry het, weet ek nou dat dit regtig bestaan en dat medikasie werklik daarvoor help.

Op ‘n dag was ons by Bloemskou en besluit Anco en Kaylah hulle wil die Big Wheel gaan ry. Ons wag toe onder dat hulle dit ry, maar later was dit twintig minute, toe ‘n halfuur, maar hulle klim nie af nie. Later is dit 45 minute en kry ek ‘n benoude sms op my selfoon van Anco dat hulle nie afgelaai word nie en Kaylah besig is om woelerig en histeries te word op die Big Wheel. Sy kan nie so lank stilsit nie. Ek gaan vra toe die mense wat daar werk en hulle verwys my na die bestuurderes, ‘n kwaai tannie met ‘n lang rok en ‘n bolla. Toe ek haar sê wat aangaan, vra sy toe hoe lyk my seun. Ek verduidelik toe dat hy saam met sy sussie is en ‘n rooi geruite hemp aanhet, donker hare en ‘n blas vel het. Sy trap toe die werkers daar baie goed uit. Hulle stop toe die Big Wheel en daar laat klim hulle ‘n Chinese jongman af wat ‘n rooi geruite hemp aanhet en saam met sy klein sussie gery het. Hy protesteer toe dat hulle nog net twee keer om was. Maar hulle sukkel om te kommunikeer met die tannie met die bolla en daar gaan die Big Wheel toe weer om en om en om! Dit kos my toe om weer terug te gaan en vir die tannie met die bolla te sê dat sy die verkeerde seun en dogtertjie laat afklim het. Ten einde laas laat klim sy toe my tweetjies af. Hulle kon nie kla dat hulle nie waarde vir hulle geld gekry het nie. Hulle was ‘n volle 50 minute op die Big Wheel. Ons het toe maar iets gaan eet en huis toe gegaan.

Gepubliseer op OFM Yellow Door