ANSJA FERREIRA
19:08 Tue, 05 Nov 2013
Ansja Ferreira staan verstom oor wat mens als in ‘n handsak kan inpak en aantref.
Navorsing wys dat dames gemiddeld drie handsakke per jaar koop. Daar word gesê ‘n vrou se handsak haar persoonlikheid weerspieël. Wel as ek my handsak moet beskryf is dit: altyd deurmekaar tog weet ek waar als is (georganiseerde chaos?), ‘n bietjie “flashy met bling” en altyd ‘n paar verrassings in. My handsak pas beslis by my persoonlikheid.
“Het vanmiddag my handsak uitgepak en kan nie glo wat ek alles daarin gekry het nie: 5 3d brille, Id foto’s van my en my oudste seun, haarrekkies en knippies, veeartsboekies van my katte(waarvan een reeds lankal dood is), R260 se silwergeld, speelgoedringe, een oorbel (waars die ander ene?), vitamines, ek het nie besef ek het die goed in my handsak nie en dra dit vir maande so rond! Laaste maar nie die minste nie pluk ek toe ‘n stukkende koorspen ook uit die handsak en het geen idee waar hy vandaan kom nie. (Het ek hom dalk by my ma se huis ingepak?, ek weet regtig nie)”
Ek het hierdie woorde so ‘n paar maande gelede op Facebook geplaas en ongekende reaksie van my vriendinne en facebookmaats gekry. Hulle almal het vertel wat hulle in hul handsakke gekry het en een vriendin het dit baie mooi opgesom: “‘n Vrou se handsak is soos ‘n ‘Pandora box’”.
Dit het my besluit om bietjie fyner te kyk na die dames om my se handsakke. (Hulle moet net nie sien ek staar na hulle handsakke nie). Wat my nogal opgeval het, is dat die meeste vroue wat ek dopgehou het, se handsakke swart of eenkleur is. Hier is ‘n so paar tipes handsakke en dames wat by hul handsakke pas wat ek raakgesien het:
Die vrou met die kos in haar handsak.
Sy het bakkies joghurt, ‘n silwer teelepel om die jogurt te eet, energiestafies, sjokolade, ‘n appel, biltong, servette en skyfies daarin en ek vermoed sy sal ‘n week of selfs langer kan oorleef met al die kos in haar handsak. (Diabete hou dikwels ‘n eetdingetjie in die handsak gereed in die geval van ‘n laebloedsuikeraanval).• Die ontwerpershandsakke Gucci, Prada, Louis Vitton. Die eienares van hierdie handsak weet wat sy in die lewe wil hê en maak seker dat ander dit weet. Volgens Vladas Griskevicius, ‘n sielkundige professor wat navorsing hieroor gedoen het, het hy bevind dat hoe meer bedreig ‘n vrou deur ander vroue voel en voel dat hulle kompeteer vir haar man of kêrel se aandag, hoe meer geld sy op duur bykomstighede sal bestee. “Vroue koop duur ontwerperhandsakke en bykomstighede om te keer dat ander vroue hul mans steel, wys die studie.
Die kunstige ene.
Hierdie dame het haar breipenne en wol of haarkraletjies of penne/verfkwassies in haar handsak om haar besig te hou terwyl sy iewers moet wag. Sy laat geen kreatiewe oomblik verbygaan nie.• Die te netjiese en georganiseerde handsak. Hierdie vrou se handsak is te klinies en netjies en lyk meer soos ‘n aktetas as ‘n handsak, jy voel eintlik minderwaardig en onnet as jy jou eie handsak met hare moet vergelyk. Jy steek jou eie deurmekaar handsak onder die stoel in as sy naderkom.
Die deurmekaar en besige tog georganiseerde ma.
Sy het iets van alles in haar handsak, van speelgoed, lekkergoed, ‘n kleinbotteltjie pepersprei om skelms mee te spuit, koorsstroop tot briewe en gelukstrekkingkaartjies van die skool af. Sy dra ook ‘n versameling konfyt, botter, pakkies suiker en versoeter saam wat sy by die koffiewinkel ingepak het toe sy laas daar was. Mens weet nooit wanneer jy dit nodig gaan kry nie.
Die bling-bling poppie.
Hierdie handsak blink om by haar ringe en bykomstighede te pas en het dikwels ‘n luiperdvelmotief. Hierdie handsak (en haar eienares) skreeu: “Kyk vir my!”
Die vrou met die teekoppiehondjie, marmosetapie, maltesie, Chiwawua of Pug in haar handsak.
Ek het al ‘n hele klompie hiervan in Bloemfontein gesien, gewoonlik by die haarsalon. In Hollywood dra die eienares van so ‘n handsak gewoonlik haar Chiwawua met sy diamanthalsbandjie daarin rond.
Die handsak wat kan dien as noodhulptassie en apteek.
Van pleisters tot kopseerpille, naarpille, salf, vitamines, pynstroop vir die baba, al die pille en brille is hierin. Elke krisis sal hanteer kan word.
Die vrolike handsak met frilletjies en valletjies, skoenlappertjies, blommetjies, strikkies en tarentaalveertjies.
Hierdie handsak pas ook by haar eienares, hulle is albei vrolik, opgeruimd en vol tierlantyntjies.
Die handsak met die groot prentjie op of die grootgeskryfde woorde op.
Die eienares hiervan wil ‘n stelling maak en maak seker dat almal dit raaksien.
Die meeste van ons se handsakke is heel waarskynlik ‘n kombinasie van al die bogenoemde en kan ons baie van onsself leer deur ons handsakke uit te pak en te kyk wat ons elke dag saam met ons rond dra. Daar is ‘n vrou in elke handsak.











