Mense met ADHD is spesiaal

ANSJA FERREIRA
14:32 Mon, 19 May 2014

Ansja Ferreira vertel van haar twee kinders wat aandagafleibaar is en gee raad oor wat ouers te doen staan as hulle in dieselfde bootjie is. Ansja het gou besef kinders met ADHD is nie stout kinders wat te veel lekkergoed of gekleurde koeldrank drink nie.

Geen vervelige oomblik… wanneer jy die ma van twee hiperaktiewe- en ADHD- kinders is (Deel 1)

Ek glo dat kinders en grootmense met ADHD/hiperaktiwiteit spesiaal is, soos sterre wat heeltyd blink en sprankel. Met die regte hulp en ondersteuning kan hulle ook sterre in die wêreld word wat uitblink in sport, vermaak, sang, fotografie, kuns en al wat beroep is wat ‘n hoë vlak van energie en sprankeling verg. Soos alles in die wêreld, moet mens dit vir jou laat werk, of jy kan jou laat onderkry. Dit is jou keuse. Ek het ook al opgelet dat baie van die ADHD/hiperaktiewes in ons wêreld uiterse kreatiewe, interessante en besondere mense is. Die volgende bekendes is almal ADHD en/of hiperaktief en het hulle nie daardeur laat onderkry nie en dit vir hulle laat werk : sanger Justin Timberlake, chef Jamie Oliver, akteurs Will Smith en Jim Carrey, sir Richard Branson, Paris Hilton en die voormalige Olimpiese atleet Bruce Jenner.

Volgens navorsing kom aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit in sekere families voor en het sowat 25% van biologiese ouers dit ook. Ek was nog altyd een van die mense wat baie skepties is oor dinge soos ADHD en hiperaktiwiteit. Ek was altyd van mening dat sulke kinders te veel lekkers eet en gekleurde koeldrank drink en dat dit net ‘n modewoord of ‘n nuwe gier is. My eerlike opinie was dat hierdie kinders net vrek stout was en die ouers nie die kinders genoeg dissiplineer nie.

Totdat ek dit self ondervind het met twee van my eie kinders. Ek het self twee kinders met ADHD en hiperaktiwiteit en het ‘n lang pad met hulle geloop en verstaan nou presies waaroor dit gaan. Ek sal nou aan enigeen kan verduidelik wat dit is en hoe dit werk en dat dit werklik bestaan. My oudste seun is nou 19 en ‘n eerstejaarstudent aan die Universiteit van die Vrystaat. My oudste dogtertjie is 9 jaar oud en in graad 3. Hulle is albei ekstroverte en baie lief vir maats en kuier. My ander twee kinders is weer introverte, stil, rustig en gelukkig by die huis. My dogtertjie se kleuterskoolskoolhoof het my destyds ingeroep en gevra dat ek haar gehoor laat toets, want sy vermoed die kind is doof. “Dit lyk nie asof sy my hoor nie,” het sy gesê. Ek het haar ore ten duurste laat toets en hulle kon absoluut niks fout vind nie.

Sy was ‘n ontsettende besige baba en ek kon nie met haar na enige restaurant of openbare plek gaan nie. Sy het altyd die plek op horings geneem. Op die strand het sy vir my weggehardloop. Sy kon nooit stilsit nie en ek kon nooit meer net in die son lê en ontspan nie. Sy het eenkeer reguit in die see ingehardloop toe ons met vakansie was in Margate (sy was 2 jaar) en my man moes met sy skoene en klere aan haar gaan uithaal So impulsief was sy. Toe sy twee jaar oud was, was ek brandmaer van al gehardloop agter haar aan. Die ouer broers en susters was ook moeg agter haar aangehardloop. Ek het vermoed dat iets verkeerd was, maar my ma het vir my gesê ek was ook so as baba en kleuter, en selfs erger as my dogtertjie. Ek het glo op tafels geklim en gedans toe ek klein was, volgens my ma. Sy is net lewendig en ‘n bol vreugde, het baie mense vir my gesê.

Dit was bykans onmoontlik om met haar by mense te gaan kuier en braai en ook mense na ons toe te nooi, sy was net te lewendig en veeleisend en mense het dikwels snedige aanmerkings oor haar gemaak, soos “Ek kry julle jammer met so ‘n kind”, of “Jou kind kort net ‘n goeie pak slae”. So ons het maar meestal ons eie ding gedoen en min met ander mense gekuier. Toe sy in graad 1 kom, het ‘n wyse onderwyseres, een met baie jare se ondervinding, gesê ons moet haar by die pediater laat toets vir ADHD. Haar punte was ondergemiddeld, maar tog was sy baie intelligent in gesprekke en in haar optrede. Sy was ook na elke partytjie by die skool genooi en ontsettend gewild, die “belle of the ball” by elke partytjie. Sy sing altyd, spring altyd rond, dans en glimlag. Sy lewe voluit en is ‘n bol energie. Die pediater het haar ondersoek en ook verslae van die onderwyseres gekry. Sy is hiperaktief en ly aan aandagafleibaarheidsindroom. Ritalin is toe vir haar voorgeskryf. Dit het haar eetlus weggeneem en die kind se persoonlikheid het baie verander. Sy was stil en baie emosioneel. Ek het die juffrou by die skool gevra om ‘n ogie oor haar te hou, want volgens die pediater sou die newe-effekte mettertyd verminder. Sy het wel haar eetlus en borrelende persoonlikheid teruggekry, maar ná ‘n jaar op Ritalin het die pille nie meer gewerk nie en was sy veel erger as wat sy ooit tevore was. Ons kon nie met haar huishou nie. ‘n Normale rit in ‘n motor was ‘n nagmerrie. Sy kon nie stilsit nie en het die hele tyd gepraat, gevra waar gaan ons heen, waar is ons nou, is ons al daar?. Dit was verskriklik moeilik vir haar om ‘n sitplekgordel aan te sit en aan te hou.

Terug na die pediater, wat self as kind ADHD gehad het en volgens hom vreeslik deur sy pa geslaan is omdat sy pa gedink het hy luister nie na hom nie. Sus is op ‘n nuwe middel gesit, naamlik Strattera. Vir die eerste maand moes sy in die oggend Ritalin drink en in die aand Strattera, aangesien Strattera tot 6-8 weke kan neem om te begin werk. Ná twee weke het haar onderwyseres laat weet die kind se skoolwerk begin verbeter en kon ons die Ritalin wegneem. Sy is ook rustiger, maar het hoegenaamd nie enige van haar borrelende sonnige geaardheid verloor nie. Die nuwe medikasie werk nou vir haar, sonder enige merkbare newe-effekte. Ek glo my sonskynkind gaan eendag in die vermaaklikheidsbedryf beland; sy sing en dans pragtig en is ‘n gebore aktrise. Haar een nderwyseres beskryf haar as “a free spirit”.

OFM is a division of Central
Media Group (PTY) LTD.

Mense met ADHD maak die wêreld interessant (Deel 2)
ANSJA FERREIRA
11:23 Fri, 26 Sep 2014

Ansja Ferreira het nabye ervaring met mense wat ADHD het. Die keer vertel sy ons meer van as volwassenes nog die aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit het. In Deel 1 het sy oor kinders gepraat.

As ‘n mens die beste maak van dit wat die lewe vir jou uitgedeel het en boonop dinge positief aanpak en ‘n tikkie humor daarby voeg, kan jy selfs ‘n uitdaging soos ADHD en hiperaktiwiteit vir jou, pleks van teen jou laat werk.

‘n Mens hoor dikwels van kinders met ADHD, maar vergeet dat daar ook baie grootmense is, wat aan die sindroom ly en geleer het om daarmee saam te leef.

My oudste seun is eers op 16-jarige ouderdom met hiperaktiwiteit en ADHD gediagnoseer. Sy simptome was baie vreemd en ons het eers nie geweet wat aangaan nie. Hy het baie min geslaap, was die heeltyd aan die gang en sy brein kon nooit afskakel nie. Hy het die heeltyd aan klomp goed op een slag gedink en was met meer as een ding op ‘n slag besig. Hy wou heeltyd iewers gaan, asof hy rooimiere het. Hy kon nie stilsit nie en het heeltyd gevroetel en wou net gaan rondloop in die winkels. Toe hy leer bestuur het, was hy elke keer as ek wil ry, in die kar aan die stuur en kon ure rondry sonder om ooit moeg te word. Hy was ook baie aktief met rugby, karate, sang, kitaar, boereorkes, sang en gimnasium.

Ek het begin dink die kind is moedswillig en selfs ongeskik as hy nie luister na die opdragte wat ek hom gee bv. om iets vir my te gaan haal of sy bord in die kombuis te bêre na ete nie. Hy het gesukkel om opdragte klaar te maak omdat sy gedagtes heeltyd rondgespring het. Hy het ook goed begin verloor en op plekke vergeet soos skoolklere, rugsakke, sy selfoon en selfs geld. Gedurende die matriekvakansie het hy twee selfone verloor! Hy het twee keer sy tas by die skool verloor en moes ek gaan mooipraat by die skoolsekuriteit om die tasse gevind te kry waar hy hulle vergeet het. Hy het ook maklik “blanks” geslaan, soos eenkeer toe hy by die sangskool se konsert opgetree het, het hy sy woorde in die middel van die liedjie vergeet, wat hom ontsettend in die verleentheid gestel het. Hy het tog baie goed op skool gedoen, maar begin sukkel in vakke soos Wiskunde en Skeinat, waarvoor ons toe ekstra klasse vir hom gereël het. Hy het begin moedeloos en depressief voel oor hy gevoel het hy is anders as sy maats en omdat hy so gesukkel het.

Die skoolsielkundige het ons ontsettend baie gehelp en ondersteun en ons gehelp om by die psigiater uit te kom, wat hom uiteindelik gediagnoseer het en die regte middel vir hom voorgeskryf het. Sy het Strattera voorgeskryf, omdat sy van mening was dat Ritalin nie die regte middel vir hom sou wees nie. Die eerste ruk wat hy Strattera gebruik het, het hy newe effekte soos gewigsverlies en erge moegheid ervaar. Hy het sommige aande op sy skoolboeke voor sy lessenaar aan die slaap geraak en ek het hom vreeslik jammer gekry, maar dit nie vir hom gewys nie, eerder moed ingepraat en gesê hy moet vasbyt. Die newe-effekte het mettertyd vervaag en tans ondervind hy geen newe effekte van die medikasie nie. Vir die matriekeindeksamen het hy ook tydelik Ritalin saam met die Strattera gebruik om sy konsentrasie te verskerp, maar dit weer gestaak na die eksamen. Hy het matriekvrystelling gekry met onderskeidings in Engels en lewensoriëntering.

Sy ADHD is nou onder beheer. Hy moet nog steeds hard werk en om stil te sit om te leer is vir hom baie moeilik, maar dit gaan al baie beter. Hy het baie vriende en is lief om te sosialiseer. Sy maats weet almal van die ADHD en diskrimineer glad nie teenoor hom nie, inteendeel hulle maak grappies daaroor. By die verwelkomingstoespraak by die Universiteit van die Vrystaat in die begin van hierdie jaar, is die eerstejaarstudente gelukgewens en daar is genoem dat baie voornemende student weggewys moes word, want net die bestes is gekeur om aan die Universiteit te studeer. En my hart het geswel met trots, want ondanks die uitdagings waarmee hy gesukkel het op skool, is my seun gekeur vir die graad B. Ed aan die Universiteit van die Vrystaat vir 2014 en ek glo dit gaan hom lekker besig hou. Hy is nie gemaak vir kantoorwerk nie, meer vir werk met mense en heeldag besig wees.

Een van die voordele vir hom is dat hy kan kuier tot die oggend 01h30 en dan met ‘n bietjie slaap kan regkom om die volgende oggend 07h00 by die Universiteit te wees vir sy klasse en selfs toets te kan skryf en boonop goed te doen daarin. In die Junie eksamen het hy drie onderskeidings gekry en selfs sy Afrikaans-en Nederlands gepromoveer, wat beteken dat sy predie bo 80% en goed genoeg was om nie te hoef eksamen skryf nie. Ek het self ook eienskappe van ADHD/hiperaktiwiteit, maar was nog nooit daarmee gediagnoseer nie, omdat in die jare toe ek grootgeword het niemand eintlik daarvan geweet het nie. Ek het byvoorbeeld ‘n hoë energievlak en my gedagtes spring ook heeltyd rond. Ek verloor maklik my konsentrasie in gesprekke, veral as iemand lank en baie praat en het mense hul al vreeslik vererg, as hulle sien ek luister nie vir hulle nie. Boonop sukkel ek om te werk as ek terselfdertyd na musiek luister en moet in totale stilte werk, maar as ek iets soos musiek, waterdruppels of dieregeluide hoor, trek dit onmiddellik my aandag af. Dan moet ek opstaan, ‘n draai gaan loop, gaan koffie maak en myself motiveer om te konsentreer op my werk. My jonger broer het as kind Ritalin gedrink. Hy is vandag ‘n suksesvolle fotograaf en kunstenaar, wat heeltyd met ‘n klomp projekte besig is. Verlede jaar het hy in Amerika gaan toer waar hy een van die skrywers van ‘n “comic book”- The adventures of Sir Charleston Columbus was wat uitgestal was by die Comic Con in San Diego en was hy gevra om van die boeke te teken deur Comic Con bewonderaars.

Blog was gepubliseer op OFM Yellow Door