Gym is nie kinderspeletjies nie

ANSJA FERREIRA
09:01 Thu, 08 Aug 2013

Al ooit gewonder hoekom mense gym toe gaan? Na baie ure se ‘navorsing’ kom Ansja Ferreira tot ‘n interessante slotsom.
Mense oefen in die gimnasium om verskillende redes. Die meeste wil fiks word en gewig verloor, ander gaan om hul gesondheid te verbeter. Ek oefen al vir 24 jaar in die gimnasium en het deur die jare talle interessante karakters daar opgemerk, wat ek net moes neerskryf:

• Die vrou wat altyd daar is.
Sy is altyd by die gimnasium, wanneer jy daar kom, sal jy haar raakloop. Selfs al kom jy op ‘n ander tyd as wat jy gewoond is, sal jy haar ook raakloop, al slaan dit jou dronk. Sy gesels graag met die personeel van die gimnasium en almal ken haar.

• Die staarder.
Hy sal so bietjie oefen, maar dan gaan hy by ‘n apparaat vashak en mense sit en dophou. Niemand weet waarom hy dit doen nie, maar as jy vir jouself in die spieël kyk, kan jy sien dat die staarder direk na jou kyk. Is hy kwaad vir jou, verlief op jou, of staar hy net doelloos voor hom uit? Vermy alle oogkontak, want dit gaan die probleem vererger.

• Die Casanova.
Hy kom met net een doelstelling gimnasium toe en dit is om meisies te ontmoet. Hou dop hoe sy kop draai wanneer hy ‘n nuwe mooi meisie by die gym sien inkom. Hy maak hom onmiddellik gereed vir die nuwe prooi.

• Die vroulike weergawe van die Casanova.
Sy is baie lief om met die persoonlike afrigters te gaan gesels, maar doen self nie veel oefening nie. As hulle nie belangstel nie, sal sy die grootste liggaamsbouer in die gimnasium gaan opsoek en hom vra om haar met ‘n apparaat te help. Sy irriteer die meeste ander gimnasiumgangers, want sy is nie hier om te oefen nie.

• Die Oosterse gevegskunskenner.
Hierdie een kry ‘n mens gewoonlik op die oefenmatte. Hy is lief vir uitgerekte strek-en meditasiesessies en demonstreer graag sy gevegskunsposisies met gepaste bypassende geluide en sugte. Hy wil graag hê almal moet weet hy het ‘n swart belt.

• Die man wat deur sy vrou gedwing is om gimnasium toe te kom.
‘n Mens kan sy gebrek aan entoesiasme ‘n myl vêr aanvoel. Hy word dikwels by die rondtebaan aangetref, waar hy doelloos van apparaat na apparaat beweeg en die sportkanale op die televisie in die gym dophou. ‘n Variasie hierop is die korttermyn gimnasiumgas, wat net vir ‘n kort tydjie by die gimnasium te siene sal wees, gewoonlik in die lente of na die Desembervakansie. Hy bly gewoonlik nie langer as twee of drie weke nie. Hy is dikwels oorgewig en het skielik motivering vir oefening gekry, maar dit sal waarskynlik nie lank hou nie.

• Die eensame figuur.
Hierdie persoon is baie stil en meng nie met die ander gimnasiumgangers nie. Hy is hier om te oefen en dit is al. Hy het sy eie redes waarom hy met niemand praat nie. Hy is gewoonlik skadeloos, maar wees steeds versigtig wanneer jy hom nader.

• Die buigsame meisie.
Dit is ongelooflik hoe sy haar liggaam kan buig. Sy word ook op die oefenmatte aangetref. Sy is moontlik ‘n gimnas, lid van ‘n balletgeselskap of van die sirkus. Moenie te veel na haar staar nie.

• Die vreemdeling.
Hy is moontlik van ‘n ander stad of land en praat met ‘n vreemde aksent. Hy lyk hoegenaamd nie tuis in die gimnasium nie.

• Die te maer meisie word gewoonlik by die kardiomasjiene aangetref en sy is dag en nag daar.
Sy lyk of sy met ‘n goeie bord kos kan doen. Sy is ongetwyfeld ondergewig of het moontlik ‘n eetversteuring, maar oefen verbete asof sy baie gewig het om te verloor. Sy moet topfiks wees en lyk of sy op swart koffie en slaaiblare leef.

• Die Spierpaleis Spogger is fantasties gebou, dit is net jammer dat hy dit self ook weet.
Almal vermoed dat hy steroïde gebruik en weet dat hy ure op die sonbed deurbring en selfverbruiner aanspuit. Hy is ook nooit sonder die goue ketting om sy nek nie en hy praat baie hard. Hy verwag dat almal in die gimnasium hom moet bewonder. Hy loop graag kaal in die kleedkamers rond sodat al die ander mans kan sien hoe goed hy gebou is. Hy kan dit nie verdra as die dames in die gimnasium hom ignoreer nie.

• Die ma met die string kinders met die fantastiese lyf laat almal wonder.
Niemand weet of dit van oefening, agter stoute kinders aanhardloop of plastiese chirurgie is nie, maar sy is beter gebou as baie dames wat nie kinders het nie. Die mans kyk vir haar en die vroue wens hulle het ook so gelyk.

• Die nabootser.
Hierdie persoon hou jou fyn dop en doen alles wat jy doen. As jy sekere oefeninge met los gewigte doen, doen hy presies alles agter jou aan. As jy maagoefeninge doen, doen hy dit ook agter jou aan. Hy is te suinig om ‘n persoonlike afrigter te huur. Jy is sy rolmodel, hy kan nie self besluit wat om te doen nie en voel onseker, nou volg hy jou voorbeeld.

• Die sweter sweet meer as die gemiddelde persoon.
Dit lyk asof hy liters water verloor per oefensessie. ‘n Variasie hierop is die persoon wat sleg ruik en na sweet of knoffel ruik. Hy laat dikwels ‘n sweetspoor op die apparate na, ondanks die feit dat hy ‘n handdoek gebruik. Jy sal jouself berou as jy langs hom by die oefenfietse beland.

• Die veterane is ouer mense, gewoonlik ‘n paartjie, wat steeds hard in die gimnasium oefen.
Hulle lyk fantasties vir hul ouderdom en moet glad nie onderskat word nie.

• Die intense ou gee alles in sy oefensessie.
Hy hou glad nie terug nie. Sy oefensessie gaan met bypassende gesigsuitdrukkings en klankeffekte gepaard.

• Die skrikwekkende sterk vrou is in haar veertigs, maar het maag-en armspiere wat lyk of dit van staal gemaak is.
Dit lyk of sy jou met een hand kan vergruis. Sy lig swaar gewigte wat baie mans nie eens kan behartig nie. Sy is lief vir helderpienk oefenklere en het ‘n effense harde trek op haar gesig, seker van al die swaar gewigte wat sy optel. Vermy oogkontak met haar.

• Die ma wat aandag soek dra altyd superstywe uitrustings en is perfek gegrimeer.
Sy is moontlik verby haar fleur, maar wil steeds wys sy is mooi en begeerlik.

• Die marathon superfikse en sy maat, die fiksheidsguru, maak jou moeg deur net na hulle te kyk.
As jy by die gimnasium instap, is hulle op die hardloopmasjien, as jy uitstap is hulle nog steeds daarop.

• Die fietsryers word gewoonlik in die spinklas gevind, hulle oefen om fiks te word vir die volgende Argus.

• Die toerustingfundi het net die beste toerusting, handskoene, belt, klere, en skoene.
Duisende rande word aan sy toerusting bestee, tog oefen hy nie baie hard nie.

• Die Barbie-pop met baie grimering, wat lyk asof sy op pad is na ‘n nagklub, oefen nie te hard nie, want dit sal haar voorkoms bederf.

• Die kiemvresende met die botteltjie ontsmettingsmiddel maak elke apparaat skoon voordat sy daarop oefen.
Sy dra haar eie ontsmettingsmiddel en papierrolletjie saam. As iemand naby haar hoes, loop sy weg na ‘n ander deel van die gimnasium. Sy was haar hande drie maal wanneer sy by die huis kom en lees gereeld op die internet van die nuutste kieme wat die rondte doen.

Gepubliseer op OFM Yellow Door