Ek dink baie keer aan een van my gunsteling kinderherinneringe. Ek onthou ek was ʼn klein dogtertjie met twee lang blonde poniesterte, seker so agt jaar oud.
Ek kon nie wag vir elke weeksmiddag vieruur nie. Dit is wanneer my ma en haar Italiaanse buurvrou in die tuin gaan tee drink het. Daar was koekies en kraakbeskuitjies, maar die heel belangrikste was my ma se pienk teekoppies. Hulle was ʼn besonderse kleur pienk, bietjie donkerder as ʼn pienk malvalekker. Die koppies was hoekig en pienk en die pierings was wit met fyn pienk blommetjies. Dit was vir my die mooiste ding in die hele wêreld.
Dit het my laat dink aan fyn feetjieblommetjies, die wind wat saggies waai, die reuk van spookasem, die reuk van lente, die grond na die reen en die gevoel van die sonstrale wat skielik agter ʼn wolk uitkom en jou gesig verwarm wanneer dit daarop skyn. Ons kinders mag nie die koppies gebruik het nie, net uit plastiekglase koeldrank gedrink het, maar dit het my nie gepla nie. Ek wou net kyk na die mooi koppies. Ons het op die groen gras gesit en geswem in ons groot swembad. En so het die lewe sy verloop geneem, ons het grootgeword, die Italiaanse buurvrou het Johannesburg toe getrek, my maats het grootgeword, getrou, weggetrek.
Nou, byna 42 jaar later, het baie water in die see geloop. My ma is oorlede, sy het kanker gekry, die pienk teekoppies was weggepak in die kas en het stof vergaar. Ek het byna daarvan vergeet, maar toe haar goedjies uitgedeel is, het ek dit gaan haal. Ek het oor die porselein gevryf en teruggedink aan my kleindogtertjiedae. Ek het dit versigtig ingepak en huis toe geneem. Mooi gepak in een van my kaste.
Maar nie daarvan vergeet nie, net nie kans gesien om hulle te gebruik nie. Daar is het baie dinge met ons gebeur en die koppies het in die kas bly staan. Ons het deur ‘n donker tyd in ons lewens gegaan. Ons was in sak en as. Ek en my man het maar uit ons supermark gekoopte koffiebekers koffie en tee gedrink. Twee jaar nadat ek die koppies gaan haal het, besluit ek, tot hiertoe en nie verder nie. Ek wil weer lewe, dis tyd vir herstel en aangaan.
Ek gaan die koppies uithaal. Hulle was vuil en stowwerig, maar ek het hulle skoon gewas. Ek en my man drink nou ellke dag koffie, suurlemoen-of kamilletee uit my ma se pienk koppies. Ons is belangrik genoeg om dit te doen. Ek voel soos ʼn koningin wanneer ek daaruit drink. Ek gee nie om as een dalk breek of ‘n fyn krakie kry nie, ek gaan hulle gebruik. Die lewe voluit leef, ek verdien dit om uit my ma se pienk teekoppies te drink, elke dag en wanneer ek wil.











