“‘n Sjerpa vir jou lewensreis” – Ansja Ferreira se nuutste self help boek

Die Bloemfonteinse skrywer Ansja Ferreira se nuwe boek ‘n Sjerpa vir jou lewensreis het onlangs by Naledi verskyn.  Volgens Ansja is die menslike ervaring  kompleks en gedurende ons lewensreis kry ons dalk seer en leer lewenslesse uit ons foute en ervarings.

“Daar is hoogtepunte en laagtepunte.  Al het ons dalk nie die perfekte lewe nie, kan ons steeds elkeen ons eie Everest klim en bo uitkom.  Everest is ʼn plek van drome, tragedie, swaarkry, dood, lewe en oorwinning.  Hoë winde, hoog bo seespieël, uitdagend.  Daar is onbeskryflik mooie natuurskoon, maar net so mooi as wat dit kan wees, so verraderlik en gevaarlik kan dit ook wees.  Elkeen wat die berg klim, is alleen en uniek en moet self die reis aanpak.  Niemand kan dit vir jou doen nie. Te midde van ‘n groeiende behoefte na betekenis, vrede en kalmte in die vinnig-veranderende en ietwat chaotiese wêreld daar buite, word die klim van Mount Everest ‘n metafoor vir die lewensreis. Op so ‘n ervaring sal ‘n Sjerpagids jou leer van gemaksones, ankers, jou rugsak (bagasie), uitbranding, nederigheid, empatie en ‘n spirituele benadering.”

Ansja skryf oor die genesende krag van die natuur, musiek, kreatiwiteit en bewusvolheid, Moeder Aarde se leerskool, die sleutel van bewusvolheid, die krag in jou gedagtewêreld, hoe om jou energie en lewenskrag te beskerm, hoe om ‘n kopskuif te maak sodat jy alledaagse wonderwerke rondom jou kan raaksien, selfbemeestering, ewewig in die gees, liggaam en hart. Dis ‘n boek oor die kuns van lewensafrigting en bewusvolheid, met feite, kreatiewe skrywes, persoonlike lewenservarings en herinneringe ineen vervleg.

Die boek is ʼn publikasie van Naledi en hulle kan gekontak word deur Tertia Swart te skakel by 078 648 8616, ‘n epos te stuur na tertia@naledi.co.za of  www.naledi.co.za te besoek.