Jou gemaksone kan jou tronk word en jou van jou volle potensiaal beroof
Is jy vasgevang in jou gemaksone?
In die inspirerende 2010 rolprent “The King’s Speech, wat ‘n Oscar as beste film gewen het, word die ware verhaal vertel van die Duke of Winsor wat homself probeer voorberei vir die rol as Koning George VI. Hy was iemand wat gehakkel het en om voor mense en op lewendige radio uitsendings te praat, het hom vreesbevange gemaak. Hy was ook baie onseker van homself en was sommige mense van mening dat hy nie geskik was om koning te word nie. Met die hulp van sy spraakterapeut het hy homself getransformeer tot die groot koning George VI en het hy talle toesprake gedurende die Tweede Wêreldoorlog gedoen. Hy moes egter buite sy gemaksone beweeg en sy vrese oorwin en die moed bymekaarskraap om homself as ‘n koning te bemagtig.
Wat is ‘n gemaksone?
Jou gemaksone is die lewe waaraan jy gewoond is, die dinge wat jy op ‘n daaglikse basis doen. Dit is jou eie klein wêreldjie waarbinne jy veilig en gemaklik voel. In die kinderanimasierolprent The Croods word ‘n prehistoriese gesin uitgebeeld wat die heeltyd in ‘n grot wegkruip om te skuil teen dinosaurusse en gevaarlike diere. Wanneer hulle honger word, verlaat hulle die grot om kos te soek en vlug dan vinnig terug daarheen. Hulle bly dus heeltyd in hul gemaksone, maar lewe ‘n saai en vervelige lewe binne die grot. Wanneer hulle uiteindelik die grot weens buitengewone omstandighede moet verlaat, ontdek hulle hoe wonderlik die wêreld daarbuite is en hoeveel moontlikhede daar vir ontwikkeling, nuwe denke en ‘n oorvloedige lewe is.
Jy is moontlik ‘n introvert, mensku en dit is nie vir jou maklik om met vreemde mense te praat nie, aangesien jy glo dat mense nie van jou hou nie. Jy het ook dalk in die verlede seer gekry in ‘n mislukte verhouding en die gevolg is dat jy glo dat jy nooit weer iemand sal kry om in ‘n suksesvolle verhouding mee te wees nie. Die gevolg hiervan is dat jy nie werklik baie mense ontmoet en geleenthede aangryp nie, aangesien dit vir jou moeilik is om uit te reik na ander. Jy bly dus in jou gemaksone, omdat dit vir jou gerieflik is en jy veilig daar voel. Tog is jou gemaksone jou tronk. Is jy werklik gelukkig of bloot net gemaklik ? Jou gemaksone het jou tronk geword. Om in jou gemaksone te bly, gaan jy dieselfde resultate kry wat jy maar altyd gekry het. Daar gaan nie enige groei of verandering plaasvind nie en jy gaan basies bly waar jy is.
Een van die grootste struikelblokke in die pad daarvan om jou potensiaal te bereik, is jou gemaksone. Wonderlike dinge kan gebeur wanneer jy vriende maak met jou nie-gemaksone. Jy mag dalk senuweeagtig, gespanne, ongemaklik of selfs bang voel wanneer jy jou tone buite jou gemaksone steek, maar weet dat dit ‘n goeie teken is en jy nie moet ophou daarmee net omdat dit vir jou vreemd voel nie.
Waarom bly mense in ‘n gemaksone?
Mense is dikwels bang om uit hul gemaksone te beweeg. Hulle voel veilig om dinge te doen wat aan hul bekend is. Hulle stagneer dikwels wanneer hulle ‘n sekere inkomste of ‘n sekere status in hul werk behaal het. Hulle wil hulself nie blootstel aan nuwe ondervindings wat moontlik stres of onsekerheid sal meebring nie. Om egter meer uit die lewe te verkry, moet hul hulself in onbekende omstandighede plaas. Vrees vir mislukking en wat ander mense van hulle dink hou hul dikwels terug.
Om voluit te lewe beteken om te leer en te groei. In ons lewens kan dit byvoorbeeld iets soos ‘n nuwe werk, ‘n promosie by die werk of selfs ‘n verandering van beroep behels.
Iemand wat ‘n goeie salaris verdien by sy werk, maar voel of hy heeltyd tussen vier mure vasgevang sit en later moedeloos en doelloos deur die lewe gaan, val in dieselfde kategorie. Hierdie persoon moet weer sy drome begin nastreef. Wat wou jy regtig graag gedoen het, maar was altyd te bang om dit te probeer doen? ‘n Voorbeeld is ‘n rekenmeester wat eerder fotografie sou wou beoefen vir ‘n lewe, maar nie sy werk as rekenmeester wil opgee nie, omdat hy ‘n gesin het en bang is vir die onvoorspelbare inkomste van ‘n vryskutfotograaf.
‘n Slim en verstandige plan is om dit eers na ure te doen byvoorbeeld om fotografie na ure te beoefen en byvoorbeeld naweke troues te gaan afneem. So kan jou stokperdjie tot ‘n voltydse beroep ontwikkel. Selfs al ontwikkel dit nie tot ‘n voltydse beroep nie, leef jy tog daardie deel van jou lewe uit waaraan daar ‘n leemte was. Mode-ontwerp en skilder kan ook op hierdie manier vanaf ‘n stokperdjie tot ‘n voltydse beroep ontwikkel word.
Onvoorsiene omstandighede kan jou uit jou gemaksone ruk
Sommige mense word deur tragedie of ongelukkige gebeure uit hul gemaksone geruk. ‘n Mens kan dink aan die voorbeeld van ‘n gelukkige getroude vrou wat skielik ontdek dat haar man ‘n buite-egtelike verhouding het. Hul huwelik is onherstelbaar verbrokkel en ‘n egskeiding is die uiteinde. Skielik vind sy haarself alleen en buite haar gemaksone. “Waarheen nou?”, dink sy desperaat. Slegte dinge wat met jou gebeur kan in geleenthede omgeskep word. Hierdie vrou kan haarself na swaarkry uiteindelik vind en die persoon word wat sy bestem was om te wees. Sy kan dalk verder studeer, ‘n nuwe stokperdjie beoefen en haarself ten volle uitleef.
*Janette se gewese man het alles vir haar gedoen. Hy het selfs die dokter gebel wanneer sy siek was om die afsprake te maak vir haar en haar finansiële sake namens haar hanteer. Na hul egskeiding moes Janette noodgedwonge leer om op haar eie voete te staan en haar eie finansies te hanteer. Dit was vir haar ontsettend moeilik en was sy by tye baie moedeloos. Sy is uit haar gemaksone geruk, maar op die lange duur was dit alles tot haar voordeel. “Ek is vandag ‘n sterker en onafhanklike persoon – heeltemal die teenoorgestelde van die hulpelose en swak mens wat ek voor my egskeiding was”, sê sy.
Jou gemaksone tronk

Ontsnap uit jou gemaksone tronk. ‘n Praktiese oefening
Kry ‘n blaai en ‘n pen en skryf die volgende neer. Hoe kan jy dit doen?
Waar is ek nou? Waar wil ek graag wees? Wat moet ek doen om dit te bereik? Wat hou my terug en staan in my pad om dit te bereik? Wat kan ek doen om hierdie struikelblok te oorkom?
Voorbeeld:
Waar is ek huidiglik?
- Ek is 10 kg oorgewig
- Ek wil graag vriende maak en nuwe mense ontmoet, dit voel of ek vasgevang sit in my ou vervelige vriendekring.
- My werk as finansiële klerk gee my finansiële sekuriteit, maar ek is nie gelukkig nie, ek voel tussen vier mure vasgevang, ek sal eerder iets kreatiefs soos fotografie of mode-ontwerp wou begin doen.
Waar wil ek graag wees?
- Ek wil 10 kg gewig verloor
- Nuwe vriende maak en ander mense ontmoet
- Meer kreatiewe werk soos fotografie of mode-ontwerp wil doen.
Wat moet ek doen om die gaping te oorbrug
- Ek sal moet oefen en op ‘n gesonde dieet gaan
- Ek sal iewers moet aansluit waar ek mense kan ontmoet.
- Miskien vryskutwerk as fotograaf begin byvoorbeeld oor naweke troues af te neem en miskien eers ‘n kort kursus in fotografie moet neem. ‘n Deeltydse kursus in mode-ontwerp doen en daarna my dienste deeltyds aan te bied.
Doelstelling
- Ek gaan by ‘n gimnasium aansluit voor ………………(datum) en ‘n afspraak by ‘n dieetkundige maak om raad oor my eetgewoontes te kry.
- Ek gaan by ‘n kunsklas, boekklub, sportklub of liefdadigheidsorganisasie aansluit voor ……………………(datum) om mense te leer ontmoet.
- Ek gaan voor ………………………(datum) ‘n kort fotografiekursus/mode-ontwerpkursus doen en daarna my dienste adverteer as vryskutfotograaf/vryskutmode-ontwerpster.
Maklike maniere hoe jy uit jou gemaksone kan beweeg:
- Raak betrokke by ‘n liefdadigheidsorganisasie.
- Lees ‘n boek wat buite jou normale belangstellings en voorkeure val.
- Waag dit om vir ‘n kompetisie in te skryf .
- Reis na ‘n bestemming wat onbekend vir jou is. Jy hoef nie oorsee te reis nie, in ons pragtige land, is daar baie interessante plekke om te ontdek.
- Raak betrokke by jou kerk se aktiwiteite. Selfs al is jy nie lief om met mense te werk nie. Jy kan selfs by die jeug of kinderaktiwiteite betrokke raak.
- Neem ‘n musiek-of kunsklas. Doen dit wat jy al lankal oor droom, maar nog altyd te bang of onseker was om te probeer doen. Jy is NOOIT te oud om iets nuuts te probeer nie, dit is een van die grootste mites wat bestaan.
- Gaan ry die “big wheel” saam met jou kinders by die pretpark, selfs al het jy hoogtevrees.
‘n Skip in ‘n hawe is veilig, maar dit is nie waarvoor ‘n skip gebou is nie – Onbekend
‘n Mens word die moegste wanneer jy heeltyd stilstaan – Chinese gesegde
Die bekende Amerikaanse professor in sielkunde Abraham Maslow het gesê: “‘n Mens kan kies om vorentoe te beweeg na veiligheid of vorentoe te beweeg na groei toe. Groei moet weer en weer gekies word en vrees moet weer en weer oorkom word”.
Die lewe verloor sy betekenis wanneer ons vasgevang word in ‘n gemaksone – motiveringskrywer MK Soni











