Ontgin jou talente

Het jy versteekte talente?

“Sang, skilder, skryf, pottebakkery, naaldwerk, sport, dans.  Dit voel asof almal in iets goed is, net ek is nie?”  Het jy al ooit so gevoel en gewonder of jy al jou volle potensiaal bereik het of dalk versteekte talente het?  Vind so uit.

ʼn Woordeboekdefinisie van die woord “talent” wys dat ʼn talent ʼn natuurlike gawe of vermoë is wat ʼn persoon het, wat enigiets vanaf kreatiwiteit tot atletiese vermoëns kan insluit.  Ons het almal talente, maar ons is nie almal so goed daarmee om ons talente te identifiseer nie.  Somtyds kan jou talent reg voor jou wees, maar sukkel jy om jou dit raak te sien.

Jou talent of geskenk wat jy ontvang het, kan in een van vele vorme voorkom soos byvoorbeeld sang, kuns of kreatiewe skryfkuns of die gawe wees om met mense te werk, siekes of kinders te versorg, ander te onderrig en te leer, lekker kos te maak, ʼn gesellige huislike atmosfeer te skep, ander te bemoedig, goeie leierskapseienskappe te hê, barmhartigheidswerk te doen of minderbevoorregtes te help.

Waarom raak ons talente versteek, verroes en onder die tafel ingevee?

  1. Die lewe neem sy verloop en belemmer die ontwikkeling van jou talent. ʼn Belowende atleet kan byvoorbeeld swanger raak en die eise van moederskap kan haar te besig hou om haar talente verder te ontwikkel.  Jy kan dalk sukkel om kop bo water te hou en al jou tyd bestee om te werk en jou gesin te versorg.
  2. Jy kan te bang wees om te waag, ʼn gek van jouself maak, te veel omgee wat ander mense van jou dink of glo dat jy nie goed genoeg is nie.
  3. Jy kan vasgevang wees in ʼn gemaksone wat later jou tronk word, waaruit jy sukkel om te ontsnap, sodat groei kan plaasvind.
  4. Kreatiwiteit kan selfs onderdruk word deurdat ons inval by ander mense se planne vir ons. Ouers maak somtyds die fout om hul kinders in ʼn sekere rigting in te dwing of probeer selfs hul verlore drome of ideale deur hulle kinders uitleef.

ʼn Plan van aksie om jou verlore talente te vind, af te stof en blink te slyp:

 Maak ʼn lys van dinge wat vir jou maklik en lekker is om te doen.  Identifiseer jou sterk punte.  Het jy al opgelet dat jy dalk iets maklik vind om te doen, wat ander dalk weer baie moeilik vind om te doen.

Ken Robinson is die skrywer van die New York Times beste verkoper The Element wat lesers dwarsoor die wêreld inspireer het en bekendgestel het aan ‘n nuwe konsep van selfvervulling.  Waarmee is jy goed?  Waarvoor is jy lief?  Wat maak jou gelukkig?  Waar is jy nou?  Antwoorde op hierdie vrae is volgens hom van onskatbare waarde om jou “element” te ontdek.

  1. Vra ander. Diegene rondom jou weet dikwels wat jou talente is, selfs wanneer jy nie weet nie.  Jy sal dalk ook vind dat ander jou al lankal vertel dat jy goed is met iets, maar jy dalk net nooit vir hulle geluister het nie.
  2. Bepaal of jou talent onontdek en sluimerend is, reeds ontdek maar skawing en slyping nodig het of ʼn reeds geslypte talent is wat verwaarloos en verroes geraak het?
  3. Rou talent moet geslyp word soos wat ʼn diamant geslyp moet word om op sy beste te vertoon en te skitter. Neem ʼn slypingskursus, verdere opleiding en kry raad en hulp by kenners.
  4. Ontsnap uit jou gemaksone. Jy mag dalk senuweeagtig, gespanne, ongemaklik of selfs bang voel wanneer jy jou tone buite jou gemaksone steek, maar weet dat dit ʼn goeie teken is en jy nie moet ophou daarmee net omdat dit vir jou vreemd voel nie.  As jy nie gaan waag nie, gaan jy nie wen nie.
  5. Identifiseer iemand wat jou inspireer en as rolmodel kan dien. Jy sal vind dat hierdie persoon ook waarskynlik heelwat struikelblokke en teleurstellings moes oorkom voordat hy of sy sukses behaal het.
  6. Verkry ondersteuning van iemand wat jy weet ʼn opbouende en motiverende persoon is en vermy negatiewe en afbrekende persone.
  7. Fokus op jou sterk punte eerder as om jou swak punte te probeer verbeter of te veel dinge op een slag te probeer doen. Is jy dalk besig om so besig te wees om algemene dinge te doen dat jy nie genoeg tyd het om die een talent waarin jy werklik uitblink te slyp nie?
  8. Besef dat jy nooit te oud is nie. Daar is talle voorbeelde van mense wat eers laat in hul lewens “blom” of uit die bloute uit skielik hul talente begin gebruik en ʼn sukses daarvan maak.  Toe Susan Boyle op die verhoog van “Britain’s Got Talent” gestap het, het die mense en beoordelaars nie te veel verwag nie.  Haar persoonlike voorkoms is beskryf as outyds en vaal.  Toe sy egter begin sing het, het die kameras die skok en verassing op die gesigte van die beoordelaars en die gehoor vasgelê en het sy ʼn staande applous van die gehoor ontvang.  Daar skuil in baie van ons ʼn klein bietjie van Susan Boyle, versteekte talente wat eens ontwikkel het en toe versteek en vergete geraak het omdat die lewe met ons gebeur het.  Pablo Picasso het gesê dat elke kind ʼn kunstenaar is, maar dat die probleem is hoe om daardie kind ʼn kunstenaar te laat bly wanneer hy groot word.
  9. Stel jou drome lysie op. Dit is moontlik dat een of meer van jou onontwikkelde talente hieruit na vore kan kom. In die 2007 rolprent The Bucket List waarin Jack Nicholson en Morgan Freeman gespeel het, maak twee terminale siek mans ʼn wenslysie van dinge wat hulle wil doen voordat hulle doodgaan (of soos hulle dit noem die emmer skop) en leef dit dan uit.
  10. Verstaan jouself beter. Doen ʼn persoonlikheidstoets. Voorbeelde is Myers-Briggs of die Keirsey Temperament Sorter.  Sommige toetse is aanlyn beskikbaar.
  11. Klim uit jou gemaksone en ervaar die lewe. Probeer iets nuuts elke week.

Dit is nooit te laat nie

Is jy iemand wat eers op ʼn later ouderdom jou volle potensiaal of talent ontdek?  In Engels word daar verwys na ʼn “late bloomer”.

Rich Karlgaard skrywer van die boek Late Bloomers: The Power of Patience in a World Obsessed with Early Achievement, gee in sy boek talle voorbeelde van mense wat eers later in hul lewe groot dinge bereik het.  Hy noem die voorbeelde van Raymond Chandler, wat sy eerste van vele topverkopers, The Big Sleep, op 52-jarige ouderdom geskryf het en Morgan Freeman, wie se deurbraak in Hollywood op 58-jarige ouderdom gekom het met Driving Miss Daisy.  Hy noem ook vir Martha Stewart wat 42 was toe haar eerste kookboek uitgekom het.  “Kreatiwiteit is nie net alleenlik vir jong mense nie,” skryf Karlgaard.  ‘Sommige van ons het bloot meer tyd, ervaring en eksperimentering nodig om ‘n pad te ontwikkel en ons talente te verwesenlik.”

Een van die bekendste “late bloomers” was Ouma Moses (Grandma Moses) wie se skilderloopbaan in haar sewentigerjare begin het, nadat sy haar borduurwerk moes laat vaar het weens artritis.  Ouma Moses het die grootste deel van haar lewe op ‘n plaas gewerk.  Aan die begin van haar loopbaan het ouma Moses sommige van haar skilderye op haar plaaslike ‘country fair’ (skou) ingeskryf, maar hulle het geen pryse gewen nie.  Haar werk is deur die kunsversamelaar, Louis Caldor, ontdek toe sy skilderye in die plaaslike apteek (drugstore) te koop gevind het.  Caldor het Ouma Moses se werk in museums en galerye laat uitstal.  Ouma Moses het meer as twintig jaar van sukses in die skilderkuns geniet.  Sy het bly skilder tot haar dood op 101-jarige ouderdom.

Inspirasie aanhalings oor talente:

Mark Twain het gesê: Twintig jaar van nou af sal jy meer teleurgesteld wees oor die dinge wat jy nie gedoen het nie as deur die dinge wat jy gedoen het.  So gooi die ankertoue (“boat lines”) af.  Seil weg van die veilige hawe af.  Vang die winde in jou seile.  Verken.  Droom.  Vind.

Die Amerikaanse joernalis Erma Bombeck het gesê: “Wanneer ek voor God staan aan die einde van my lewe, hoop ek dat ek nie ʼn enkele brokkie talent oor het nie en dat ek sou kon sê ‘Ek het alles gebruik wat U my gegee het’.

“Begraafplase is die rykste plek op die aarde, sê die motiveringspreker Les Brown.  “Daar sal jy al die hoop en drome vind wat nooit vervul is nie, die boeke wat nooit geskryf is nie, die liedjies wat nooit gesing is nie, die uitvindsels wat nooit gedeel is nie en die geneesmiddels wat nooit ontdek is nie.  Stel jou nou voor jy lê op jou sterfbed en rondom jou staan die spoke van die idees, drome, vermoëns en die talente wat jy gehad het en nooit gebruik het nie”, sê hy.

“Jou talent is God se geskenk aan jou.  Wat jy daarmee doen is jou geskenk terug aan God”, sê Leo Buscaglia, ʼn Amerikaanse skrywer.

Bronne: 

passions.”https://www.goodreads.com/book/show/16158494-finding-your-element

Five Late Bloomers That Changed the Art World  

https://www.monster.com/career-advice/article/late-career-bloomer

quoteideas.com › mark-twain-quotes