Steel ander mense se mening jou vreugde?

Steel ander mense se mening jou vreugde?  Verander dit nog vandag.  Mense beskik oor die vermoë om jou te beïnvloed.

Steur jy jouself te veel aan wat ander mense van jou dink? 

 Janine is die ontvangsdame by ‘n prokureursfirma.  Sy het al talle kere gewonder of sy nie van werk moet verander nie.  Sy laat haar maklik onderkry deur ander mense se negatiewe opmerkings en probeer almal om haar tevrede stel, alhoewel sy besef dat dit nie altyd moontlik is nie.  “Is ek slim genoeg?  Is ek mooi genoeg?  Laat hierdie klere my vet lyk? Is ek reg aangetrek vir die geleentheid?”, is vrae wat sy dikwels aan haarself vra.    Dit het al vele kere gebeur dat iemand haar hele dag bederf het met ‘n negatiewe opmerking of as iemand haar dalk geïgnoreer het of nie gegroet het nadat sy hulle gegroet het nie.

Wil jy graag almal rondom jou tevrede stel? Wie beheer jou lewe?  In die meeste mense se lewens speel die samelewing, kollegas, ouers, vriende, jou baas of vriende ‘n belangrike rol.  Dit is vir ons belangrik om deur ander aanvaar te word en hul goedkeuring te verkry.  Aristoteles het gesê dat mense almal “sosiale diere” is.  Mense wil graag aan iets behoort en deel vorm van ‘n groep.

In die Hans Christiaan Anderson sprokie “Die lelike eendjie” rol ‘n swaaneier per ongeluk in ‘n eend se nes en broei die ma-eend die klein swaantjie saam met haar eie eendjies uit.  Die swaantjie lyk anders as die eendjies en word word gespot en afgeknou deur die ander pluimvee en plaasdiere en ondervind talle onaangename wedervaringe , min wetende dat hy eintlik ‘n pragtige swaan is.  Die verhaal eindig waar hy sy eie weerkaatsing in die water sien en besef dat hy ook ‘n swaan is en by ‘n groep swane aansluit.

Die skrywer van die verhaal, Hans Christiaan Anderson is later in sy lewe gevra om sy biografie te skryf.  Hy het geantwoord dat hy dit reeds geskryf het toe hy die sprokie van die lelike eendjie neergeskryf het.  As jong kind was Anderson ‘n lang, onaantreklike seun met ‘n groot neus en groot voete.  Toe hy ouer word, het hy ‘n pragtige sangstem en ‘n liefde vir die teater ontwikkel.  Ander kinders het hom egter wreed hieroor gespot.  Daar word ook gespekuleer dat Andersen die buite-egtelike seun was van prins Christian Frederik (later Koning Christiaan VIII van Denemarke) en dit uitgevind voordat hy die verhaal geskryf het.  Die swaan in die verhaal is dus nie net ‘n metafoor vir innerlike skoonheid en talent nie, maar ook vir geheime koninklike afstamming. (Bron:  Wikipedia)

Maak baie van ons nie dieselfde fout as Hans Christian Anderson, een van die bekendste sprokie skrywers van alle tye nie?  Steur ons onsself nie dalk te veel aan wat ander mense van ons dink nie.  Laat ons dit toe dat ander mense ons identiteit bepaal en ons drome en geluk te vertrap of te beinvloed?

  1. Waarom is dit vir jou belangrik wat ander mense van jou dink?  Is jy dalk bang vir verwerping of bang dat mense nie sal goedkeur wat jy doen nie.  Somtyds kan dit ook goed wees om jou te steur aan wat ander mense dink, byvoorbeeld wanneer iemand kan raaksien dat dit wat jy besig is om te doen nadelig vir jou sal wees en jou dan waarsku.
    Ander mense het weer die manier om ander te manipuleer en te probeer beheer deur ander se gedrag of voorkoms af te keur of goed te keur.  Dit kan ook hierdie persone laat belangrik voel as ander hulle aan hul steur.
  2. Dit is interessant om daaraan te dink hoe ons lewens gewees het as ons ons nooit gesteur het aan ander nie? Vir die meeste  jongmense en veral tieners speel groepsdruk ‘n groot rol en is dit vir hulle baie belangrik wat hul tienervriende-en vriendinne van hulle dink.  Volgens kenners is die rede hiervoor grootliks dat hul identiteit grootliks gebaseer word op wat ander van hul dink, hetsy positief of negatief.   Mense wat ouer en meer lewensondervinding het, het dikwels al geleer om hulself te aanvaar met al hul foute en goeie eienskappe en is dit nie vir hulle so belangrik wat ander van hulle dink nie.
  3. Die sleutel tot hoe om jou minder te steur aan wat ander van jou dink is : Aanvaar jouself vir wie jy is.
  4. Gebruik Steve Jobs se raad:  Hy het gedurende sy roerende toespraak by Stanford gedurende 2005 gesê:  “Jou tyd is beperk, moet dit nie mors deur iemand anders se lewe te leef nie.  Moenie vasgevang word deur dogma nie – wat die resultaat van ander mense se denke is nie.  Moenie dat die geraas van ander se opinie jou eie innerlike stem verdrink nie.  En die belangrikste, jy moet die moed he om jou hart en intuïsie te volg.  Hulle weet alreeds wat jy werklik wil word.  Enigiets anders is sekondêr”, het Jobs gesê.

(Bron:   http://blogs.plos.org/neurotribes/2011/10/28/what-kind-of-buddhist-was-steve-jobs-really/)